Dis nie net ons volwassenes se emosies wat deur die inperking geraak word nie. Kinders ervaar ook ’n warboel daarvan
Deur WIETSKE BOON
Jou huis kán ‘n veilige omgewing wees waar jou kinders leer om hul emosies te hanteer. In hierdie tyd van inperking behoort die gesin die vangnet vir emosies soos verveeldheid, hartseer, onsekerheid of vrees te wees.
Dit beteken nie om toe te gee wanneer die kinders iets wil hê of om hulle vrye teuels gee om te doen wat hulle wil nie. Trouens, dit veroorsaak dat die moeilike emosies vermy en strategieë nie aangeleer word om dit te hanteer nie.
Kinders ervaar baie verskillende emosies en hul hantering daarvan hang af van hul ouderdom, persoonlikheid, begrip vir die situasie en die mate van ondersteuning wat hulle ontvang.
As kinders vrees, woede, onsekerheid of teleurstelling ervaar:
- Wees daar om met begrip te luister wat hulle sê.
- Moenie dadelik ingryp en die situasie probeer beredder nie.
- Vra jou kinders hoe hulle voel oor wat gebeur het.
- Herfraseer wat jy gehoor het – dit verseker dat jy jou kinders reg verstaan het. Dit dra die boodskap oor dat jy begrip het en help jou kinders om moeilike boodskappe te verwoord.
- Gesels oor of daar dalk ‘n les daaruit te leer is.
- Bedink maniere waarop soortgelyke situasies in die toekoms hanteer kan word.
- Probeer om die positiewe gebeure of gevolge wat uit ‘n slegte situasie vloei, te identifiseer.
Jonger kinders
Kleintjies se woordeskat is beperk en hul begrip vir emosies ontwikkel nog, daarom moet ouers na hul kinders se gedrag oplet. Hulle kommunikeer hul woede, vrees en angs deur te reageer, te onttrek of buierig te wees. Help hulle só:
- Maak hulle van hul gedrag bewus.
- Erken hul emosies. Byvoorbeeld: ‘Ek kan sien jy voel onseker. Jy mag onseker voel.’
- Vind aanvaarbare alternatiewe om die emosies te hanteer. Doen skêrspronge, speel met klei, lees ‘n gepaste storie of maak ‘n prent wat die emosie uitbeeld.
Nog wenke
- In spanningsvolle tye kan julle daagliks kortliks met jul kinders oor hul ervarings en gevoelens gesels. Dit kan selfs net ‘n vinnige aanduiding wees deur op ‘n skaal van een tot tien aan te toon hoe hulle voel. Jonger kinders kan die gepaste emosie-gesiggie op ‘n kaart identifiseer.
- As ouer stel jy ook ‘n voorbeeld deur die manier waarop jý moeilike situasies hanteer.
- Wees van jou emosies en hanteringsmeganismes bewus.
- Waak daarteen om nie-ouderdomsgepaste nuusgebeure met jou kinders te deel.
- Let op jou siening van die lewe. ‘n Siniese uitkyk gaan na jou kinders oorspoel.
- As julle gelowig is, bid saam met jou kinders oor die saak.
- Gebruik hierdie grendeltyd om weer opnuut van jul ervarings en emosionele behoeftes bewus te word.
Wietske Boon is ‘n spesialisberader in spelterapie en ouerleiding. Besoek www.childtherapist.co.za