Hoe gemaak as jou kind permanent buierig is en jou nerwe dun raak? Kenners gee raad
Deur: Zerelda Esterhuizen
Sy’s dikmond as jy net in haar rigting kyk en ignoreer al die geselsies wat jy probeer aanknoop. Hoekom is jou kind voortdurend in ’n slegte bui?
Baie ouers worstel met die probleem van omgekrapte kinders en anders as wat ’n mens dalk mag dink, is dit beslis nie net tieners wat graag sulk nie. Dit kan selfs jou skattige kleuter wees wie se mondjie permanent ’n onvergenoegde trek het. Ons het met kenners oor ouers se kwelvrae gesels.
My kleuter kerm
Ek dink my driejarige is besonder buierig vir ’n kind van haar ouderdom. Dit voel soms of ek al ’n tiener in die huis het! In die oggend is sy kermerig en huilerig – alles pla en irriteer haar – insluitend ek. Ek sukkel om haar kort humeur en vloermoere te hanteer en reageer dikwels self met woede.
Wietske Boon is ’n spelterapeut van Pretoria en sê kleuters se buierigheid is soms slegs ’n groeifase, maar sommige kinders se gedrag kan ook aan onderliggende spanning of trauma toegeskryf word. “As jou kleuter se gedrag jou bekommer, jy voel asof jy nie die situasie kan hanteer nie of sy haarself beseer, moet jy professionele raad inwin,” is haar raad.
Hoewel dit omtrent ’n uitdaging kan wees om hierdie buie te hanteer, maan Wietske dis belangrik om kalm te bly. “As ouers hul humeur verloor, gaan hul kinders se gedrag net vererger. As jy sukkel om jouself te beheer, verlaat eers die vertrek en keer terug as jy afgekoel het. Haal diep asem en onthou dis net ’n kind en jou gedrag kan ’n baie groter impak hê as wat jy besef.”
Volgens Wietske is dit belangrik om die oorsake van kinders se negatiewe gedrag te identifiseer. “Probeer ook die konfliksituasie verander deur ’n speletjie daarvan te maak. As kamer opruim probleme veroorsaak, kyk wie die meeste speelgoed die vinnigste kan wegpak.”
Wietske gee nog RAAD
Maak seker kleuters se roetine is gepas en slaap is voldoende. Moegheid en spanning kan ook tot hierdie gedrag aanleiding gee. Pas dissipline konsekwent en prakties toe. Dit leer kinders dat hul gedrag gevolge gaan hê en só leer hulle wat aanvaarbaar is en wat nie. Dit is soms nodig om ’n vloermoer te ignoreer. Hierdie gedrag kan ’n manier wees om aandag te probeer trek.
As dit geïgnoreer word, sal hulle besef dat dié poging nie slaag nie. Bespreek die gedrag as hulle eers gekalmeer het sodat hulle weet dit dra nie jou goedkeuring weg nie. Bepaal of daar veranderings of trauma was, wat moontlik tot jou kinders se gedrag kan bydra.
As jy in ’n openbare plek is, verlaat die winkel totdat jou kinders kalm is. Moenie onder manipulasie swig nie. Moet byvoorbeeld nie lekkergoed koop sodat hulle kan stilbly nie. Maak tyd om aandag en liefde te gee. Komplimenteer positiewe gedrag.
My kind bly stroef
In Suzette Truter se boek Hoe gemaak met my dikmond kind? kyk sy na 99 kwessies wat ouers van ses- tot twaalfjariges pla. Hier volg ’n verkorte uittreksel: My tienjarige dogter is dikwels dikmond as iets haar pla. As ek uit haar probeer trek wat hinder, skud sy net haar kop.
Met baie pamperlang kry ek haar inskikliker, maar sy laat my tog verstaan sy is nie regtig tevrede nie. Jy kry verskillende grade van dikmond wees. Daar’s nie ’n greintjie navorsing agter die stelling nie, maar elke ma weet dit! Die kuns is om te leer wat agter elke dikmond sit. As jou kind ’n lang lip inspan met die doel om jou aandag te kry, kan (en moet) jy korte mette daarvan maak, reken die Kanadese ouerskapskrywer Steve Biddulph.
As jy heeltyd aandag aan ’n dikmondkind gee, maak sy gou die som: As ek net lank genoeg mislik en negatief is, kry ek hope aandag en liefde. In die “regte” wêreld werk dit nie so nie. Jy doen haar nie ’n guns om haar so te pamperlang nie. Steve se oplossing is eenvoudig. Wees vriendelik maar ferm. Sê iets in die trant van: “Jy weet ek is lief vir jou en ek wil jou graag help.
Gaan dink na oor wat jy regtig wil hê en kom gesels as jy reg is.” Dr Erika van der Wateren, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, stel voor dat jy sulke negatiewe gedrag so gou moontlik in die kiem smoor.
“Gee vir haar terugvoering as so iets begin kop uitsteek. Só keer jy dat dit ’n gewoonte raak. Doen dit as julle albei kalm is, sodat julle mekaar regtig kan hoor. Sê vir haar hoe haar gedrag jou laat voel, waarom dit onaanvaarbaar is en wat sy anders kan doen.
“Vra vrae sodat sy insig kan kry in haar gedrag en hoe dit ander mense raak. Sê byvoorbeeld: As jy dadelik dikmond raak sodra ek vir jou iets sê, maak dit my ook moedeloos en dan kan ons nooit jou probleem oplos nie.
Wat kan jy anders doen? Maak dan self voorstelle soos: Kan ons ooreenkom om eers na mekaar te luister voordat ons net begin terugpraat?” Erika sê ’n dikmond is oor die algemeen nie rede tot kommer nie – behalwe as haar gedrag ook skielik verander het. Hoe gaan dit tuis en by die skool? Hormonale veranderinge kan haar ook meer buierig maak. Skakel eers alle moontlike oorsake soos depressie uit voordat jy dit sommer ignoreer. Hou jou oë oop, vertrou jou intuïsie en kry hulp as dit nodig is.
Dit kan werk!
Help jou kinders om sosiale vaardighede aan te leer sodat hulle moeilike situasies reg kan hanteer. Hulle moet besef dat hulle kan kies hoe hulle wil reageer. Probeer die Amerikaanse sielkundige dr Kevin Leman se plan vir kinders wat hulle wangedra om aandag te kry. Sê: “Ek sien jy het vandag ekstra aandag nodig.”
Jy kan dan iets voorstel wat julle saam kan doen, maar maak dit ook baie duidelik hulle hoef nie ongeskik te wees om jou aandag te kry nie.
Help, daar’s ’n tiener in my huis!
“Dis asof my tiener altyd buierig is en as ek durf waag om iets daaroor te sê, ruk hy hom op. Hoe hanteer ek dit sonder dat ek my kind van my vervreem?” Sinette van Rooy Booysen is ’n kliniese sielkundige van Durban.
Sy sê die tienerfase hou baie veranderinge vir ’n kind in – hormonale veranderinge en ook innerlike konflik oor die ware self. Sy sê ouers moenie bloot buierige gedrag aan “tienergedrag” toeskryf nie. “Dit hang van elke situasie af. Daar kan dieperliggende redes vir hul gedrag wees.”
“Dis daarom baie belangrik dat dissipline ouderdomstoepaslik moet wees. Lyfstraf is byvoorbeeld nie meer gepas nie. Straf altyd jou kind uit liefde en terwyl jy kalm is. Moenie straf as jy woedend is nie. “Respekteer jou tiener in die proses en kies konflikpunte eerder as om elke moontlike gedrag waarmee jy nie saamstem nie, te probeer straf.”
Nog wenke van Sinette
- Bly in die eerste plek kalm en rustig. As jy ook ’n woede-uitbarsting kry of kwaad raak en jou stem verhef, is jou gedrag nie veel beter as tieners s’n nie. Jy as ouer moet altyd ’n voorbeeld van volwasse gedrag stel.
- Gee jou kinders ruimte om af te koel en praat rustig sonder om te skree. Moenie die situasie in ’n magstryd verander nie (“Jy moet dit doen, want ek sê so …”), want dit lok net weerstand uit.
- As die gedrag oor tyd volhou en buite beheer raak, kan ’n bevoegde berader of sielkundige vir terapie gekontak word. Ouer-kind-probleme in dié ouderdomsgroep is algemeen.
- Kweek ruimte vir jou kinders deur kommunikasiekanale oop te hou, maar respekteer ook hul privaatheid.
- Moenie elke geleentheid aangryp om konflik te hê nie – vra jouself af wat die belangrike kwessies is.
- Moenie onrealistiese verwagtinge van jou kinders koester nie.
- Moenie jou kinders voor ander mense verneder of hulle met hul vriende bespreek nie.
- Hou familievergaderings waar almal ’n inset in die gesin se funksionering kan lewer.
- Respekteer jou kinders.
- Ouer-kind-aktiwiteite kan die spanning rondom dissipline en uitbarstings verlaag.
- Versorg die liefdesband tussen jou en jou tiener.