Word jy misbruik of kom jy vir jouself op? Kyk hier of jy gesonde grense in jou lewe het
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Gesonde grense is noodsaaklik vir gesonde verhoudings en ‘n gesonde lewe. Maar waarom?
Wel, sê kenners, ongesonde grense het verreikende gevolge op jou menswees en selfs jou gesondheid. Dit plaas meer stres op jou en stres affekteer baie aspekte van jou lewe.
Ongelukkig weet baie mense nie hoe om grense te stel nie, sê dr Gionta Dana op die webwerf https://psychcentral.com.
Sy sê dat vrese, skuldgevoelens en selftwyfel groot slaggate is by die stel van grense, maar as jy selfrespek het, is dit belangrik om dit in te stel. Jy moet jouself toestemming gee om die grense in te stel en dit daar te hou.
Het jy gesonde grense in jou lewe?
Loer na die onderstaande tekens van gesonde grense:
Jy sê nee sonder skuldgevoelens.
Jy vra vir dit wat jy wil hê of nodig het.
Jy versorg jouself en weet hoe belangrik jou gesondheid is.
Jy sê ja net omdat jy regtig wil – nie omdat jy verplig voel of om ander mense gelukkig te hou nie.
Jy weet wat jou waardes is en jy tree vanuit jou eie waardestelsel en geloof op.
Jy voel veilig genoeg in jou verhoudings om moeilike emosies uit te druk.
Jy werk aan jou eie doelwitte en drome en is nie net deel van ander mense se drome nie.
Jy word deur die mense in jou verhoudings as ‘n gelyke behandel.
Jy voel vir jou eie geluk verantwoordelik en nie vir ander mense s’n nie.
Jy weet wie jy is, wat jy glo en waarvan jy hou.
BRON: www.sharonmartincounseling.com