Die meeste mense betaal hul versekeringspremies sonder om ooit die besonderhede van hul polisse deeglik na te gaan. Maar wanneer dit by behoorlike dekking kom, is dit die moeite werd om die fyndruk te lees
Daar is talle redes waarom jy jou versekeringspolis behoort na te gaan, maar een daarvan is dat jy met sekerheid sal weet waarvoor jy gedek is. Attie Blaauw, hoof van Santam Persoonlike Lyne, sê: “Dit is so belangrik om te weet waarvoor jy gedek is of dalk nie gedek is nie in die geval van die verlies van of skade aan of diefstal uit jou huis of motor en van jou waardevolle besittings. Dit is waarom ons besluit het om sekere insigte oor versekeringsdekking te deel, wat dalk vir party mense ‘n verrassing kan wees.”
- Die bandloopvlak van jou voertuig: Dit is so dat motorongelukke en minder ernstige botsings af en toe plaasvind. As jy in ‘n ongeluk betrokke is en opvolgondersoeke aantoon dat die loopvlak van jou voertuig se bande minder as die wettige perk is, sal jou versekeraar beweegredes hê om jou eis af te keur. Verslete bandkloopvlakke hou ‘n groot veiligheidsrisiko vir bestuurders, passasiers, voetgangers en ander motoriste in. Maak dus seker dat jy joune laat nagaan.
- Gaan jou bestuurslisensie na: Toe die kaartbestuurslisensies ingestel is, is alle mense in besit van die ou ‘kode 8’-lisensie outomaties oorgeskakel na kode ‘EB’, wat die bestuurder toelaat om ‘n karavaan of sleepwa van meer as 750 kg te sleep. Motorbestuurders wat ná die omskakeling ‘n ‘B’-lisensie bekom het, kan dalk verkeerdelik aanneem dat hulle gelisensieer is om ‘n karavaan te sleep wanneer hulle nie is nie. Bestuurders moet weet dat ‘n gewone bestuurslisensie (kode B) hulle net toelaat om ‘n sleepwa met ‘n bruto voertuigmassa (BVM) van minder as 750 kg te sleep. Vir enigiets groter, soos ‘n karavaan, word ‘n kode EB-lisensie vereis. Lisensiekodes EC1 en EC maak ook voorsiening vir die sleep van BVM van meer as 750 kg. As jy hierdie regulasies oortree, kan jou eis afgewys word.
- Verlore sleutels? Gaan jou versekeringsdekking na: Byna almal verlê een of ander tyd hul huis- of motorsleutels, en die werklikheid is dat sekere soorte motorsleutels meer as R700 kan kos. Dit is waarom dit belangrik is om te verseker dat jy ‘n ekstra stel sleutels op ‘n veilige plek bewaar en seker te maak of jou versekeraar die vervangingskoste van jou sleutels sal dek.
- Stukkende vensters en spieëls? Wat sê die poliskontrak?: Aan die tuisfront kan dit jou ‘n klomp geld kos as jy ‘n spieël of ‘n venster breek en iemand moet dit op ‘n openbare vakansiedag kom vervang. Santam dek jou ingeval ‘n spieël of venster in jou huis per ongeluk breek.
- Is jou slimhorlosie ‘n bykomstigheid of ‘n kommunikasietoestel? Die meeste versekeraars klassifiseer slimhorlosies wat saam met ‘n selfoon of ander toestel werk as ‘n toebehoorsel by ‘n kommunikasietoestel. Alhoewel sommige selfs as ‘n kommunikasietoestel kan werk, moet jy by jou versekeraar uitvind of jou slimhorlosie onder “persoonlike klerasie en besittings” gedek word en of dit in jou persoonlike versekeringspolis gespesifiseer moet word.
Blaauw sê die verskaffing van regte versekering gaan daaroor om kliënte meer as net versekeringsdekking te bied. “Ons verstaan die ongerief wat veroorsaak kan word wanneer jy jou waardevolle besittings verloor of dit beskadig word. Dit is waarom ons polishouers gemoedsrus bied deur praktiese oplossings te verskaf vir eise wat uit alledaagse scenario’s ontstaan. Die voorkoms van strawwe weerstoestande het oor die afgelope paar jaar toegeneem en daartoe gelei dat individue weer na die toereikendheid van hul versekeringsdekking kyk.”
BRON: Santam, besoek www.santam.co.za