Aanlyn handel is ‘n gewilde manier om te koop en verkoop – iets wat miljoene mense doen. Misdadigers weet dít al te goed en is altyd oorgehaal om munt te slaan uit niksvermoedende kopers en verkopers.
“Ons het almal al gehoor van iemand wat ‘n voertuig verkoop het en toe, nadat dié aan die koper oorhandig is, uitgevind het dat die elektroniese oorplasing gekanselleer is, wat by ‘n vakansiebestemming aangekom het net om uit te vind dat die werklike eienaars steeds daar woon, of ‘n deposito betaal het op die ‘winskopie van ‘n leeftyd’ wat uiteindelik ‘n kullery van dieselfde proporsies was,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “’n Goeie dosis skeptisisme en die inspanning van jou gesonde verstand is uiters belangrik, want sonder hulle is dit bykans gewaarborg dat jy in ‘n booswig se visier sal beland.”
Met dit in gedagte, bied Virseker die volgende wenke:
Verkoop:
- Maak seker dat jy moontlike kopers deeglik fynkam – indien jy enige iets verdag omtrent hulle profiel of gedrag opmerk, vermy hulle.
- Maak seker dat jou advertensie of gesprek met ‘n moontlike koper persoonlike besonderhede, wat hulle kan help om jou fisiese adres op te spoor voordat jy dinge behoorlik gefynkam het, uitsluit.
- Moenie besonderhede soos jou voertuig se registrasienommer of VIN deel nie, aangesien dit gebruik kan word vir identiteitsdiefstal.
- Ontmoet moontlike kopers in ‘n veilige omgewing, en neem iemand wat jy vertrou saam met jou. Indien julle by jou huis ontmoet, hê ‘n paniekknoppie vir jou sekuriteitsverskaffer byderhand.
- Moet nooit goedere aan ‘n koper oorhandig voordat hulle daarvoor betaal het nie. Dring aan op kontant of bankgewaarborgde tjeks voordat jy dit oorhandig. Maak dubbel seker dat dit nie vervalste note en tjeks is nie, en dat dit vir die regte hoeveelheid is.
- Indien jy ‘n elektroniese oorplasing aanvaar, bevestig met jou bank dat die korrekte bedrag oorgeplaas is, en veilig is, voordat jy goedere oorhandig.
- Vermy kopers wat aandring daarop om internasionale geldoorplasingsdienste soos Moneygram of Western Union te gebruik.
- Rapporteer verdagte kopers aan die onderskeie webtuiste se eienaars.
Koop:
- Reël nommer 1: indien ‘n kopie te goed lyk om waar te wees, is dit waarskynlik.
- Indien dit moontlik is, gaan die verkoper se gradering en terugvoer na.
- Moenie verkopers by plekke ontmoet wat onveilig voorkom nie, veral nie verkopers wat weier om jou in ‘n openbare plek te ontmoet nie.
- Moet nooit jou kredietkaartbesonderhede aan ‘n verkoper verskaf nie.
- Moenie kontant saam met jou neem wanneer jy vir die eerste keer ‘n verkoper ontmoet nie. Nadat jy seker gemaak het dat daar geen onreëlmatighede is nie, kan jy kontant by ‘n nabygeleë OTM gaan trek.
- Neem jou tyd om goedere na te gaan en seker te maak dat dit is/werk soos wat dit geadverteer is.
- Indien ‘n verkoper sê dat hulle ‘n ‘n betroubare handelaar verteenwoordig, verifieer hulle besonderhede met die handelaar.
- Moet nooit ‘n “houdeposito” betaal nie.
- Vermy verkopers wat aandring daarop om internasionale betaaldienste te gebruik. Hulle sal gewoonlik vir jou vervalste fakture stuur met die logo’s van betroubare diensverskaffers, maar met hulle eie bankbesonderhede.
- Rapporteer verdagte verkopers aan die onderskeie webtuiste se eienaars.
Twilley sluit af: “Eise vir bedrog deur advertensies, aanlyn of andersins, word op meriete geassesseer, en daar’s geen waarborg van uitbetaling nie – veral as jy nalatig was. Dis dalk ‘n cliché, maar die beste reël om te onthou is dat voorkoming beter is as genesing. Wees dus altyd op jou hoede!”