“Twee mense sit teenoor mekaar en wonder: ‘Wil ek jou weer sien?’
Niemand word sonder ’n onderhoud aangestel nie; daar is altyd gesprekke wat moet plaasvind. En om die perfekte werkspasmaat te vind, behels ’n stelsel,” verduidelik loopbaanraadgewer Andrew Bramley, wat deel was van ’n onlangse konferensie wat deur die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB) se Loopbaandienste aangebied is.
Bramley sê dit is baie belangrik om jouself korrek aan potensiële werknemer voor te stel om die werk te kry wat jy graag wil hê. “Voorheen was ’n loopbaan ’n besluit, maar deesdae is dit anders – dis nou ’n keuse. Daar bestaan egter geen stelsel om al die beskikbare keuses te verken nie.”
Om mense te help om beter keuses vir hul droombetrekking te maak, het Bramley ’n stelsel met vier stappe geskep. Die stelsel behels die volgende elemente: Wat, Verband, Inskakeling en Persoonlik.
1. Wat
“Wanneer jy die ‘wat’ reg vasvat, beteken dit dat jou pakket trefkrag het. Jy moet vasstel wat JY werklik wil doen,” sê hy.
In dié stadium moet jy jou die volgende afvra:
1. Wat wil ek werklik doen?
2. Waar pas ek in?
3. Waarom verskil ek van die ander kandidate?
4. Wat wil ek met my CV aan my potensiële werkgewer sê?
Hy voeg by dis baie belangrik dat jou doelwit baie duidelik in jou CV uitkom.
2. Verband
“Ons het ’n loopbaan om ander mense te dien. Dit gaan nie daarom hoe jy by ’n organisasie kan baat vind nie, maar hoe jy waarde tot die organisasie kan toevoeg.
“Sodra jy die klem nie meer op jouself laat val nie, word dit pret om jouself te bemark, want dit draai dan om hoe jy iemand anders kan help,” verduidelik Bramley. Só word werksoek ook ’n baie ander soort proses.
Eerder as om te sê: “Gee my asseblief dié werk,” sê jy eerder: “Ek het dié gawe, en ek wonder of julle dit nodig het?” As die potensiële werkgewer nie die diens nodig het wat jy aanbied nie, behoort jy dan te vra: “Wie ken julle wat dit wat ek doen, nodig het?”
Hy sê die aanbieding draai nie net daarom om te sorg dat jy die werk kry nie, maar om te sorg dat jy die regte werk kry wat daar op jou wag.
3. Inskakeling
Bramley sê potensiële werkgewers raadpleeg dadelik die Internet wanneer hulle meer oor jou te wete wil kom.
“Jy moet sorg dat alles wat jy die mark bied, oor etlike mediabronne strek. Werk jou LinkedIn-profiel by, want jy moet sorg dat jou CV en profiel inskakel by wat die mark nodig het,” sê hy.
Jou doelwit moet met jou ervaring en kwalifikasies strook. “Dink goed na oor wat jy in jou CV insluit. As jy om ’n senior sakepos aansoek doen, hoef jy nie te verklap dat jy ’n kursus in blommerangskikking voltooi het nie, want dit skakel nie hierby in nie.”
4. Persoonlik
Hier moet jy jou afvra wat jou ’n trappie bo die ander stel. “In die oë van die werkgewer wat jou CV lees, is jy net nog iemand met ’n BComm-graad. Jy is dus net nóg ’n Jan Rap. Die persoonlike vraag is die laaste deel waaroor jy moet nadink. Dink oor die volgende na wanneer jy dié vraag beantwoord:
1. Watter soort mens is ek?
2. Wat is vir my belangrik?
3. Waarom is ek hier?
4. Wat kan ek doen?
Bramley sê mense moet goed oor die persoonlike inligting in hul CV’s nadink. “Blykbaar is almal innoverend, maar in die CV moet jy duidelik stel waarom jy vir daardie bepaalde organisasie vernuwend sal wees.”