Gemak is die hoofrede wat Suid-Afrikaners aanvoer hoekom hulle aanlyn koop. Maar soms loop dinge verkeerd …
Deur JACKIE PIENAAR-BRINK
Kuberaankope maak ’n hele nuwe wêreld vir die verbruiker oop en is boonop net ’n klik weg. Dit beteken egter nie dat verbruikers aan gehalte of diens moet inboet nie.
Hoe veilig is dit om aanlyn te koop en wat staan jou te doen as jy ’n bloutjie geloop het?
Donovan Marais dra eerstehands kennis van die aanlyn omgewing as tegniese integrasiebestuurder van Sage Pay, ’n plaaslike transaksie-prosesseringseenheid vir klein- en mediumgrootte-ondernemings wat deel van die Sage-groep wêreldwyd uitmaak. “Aanlyn aankope is veilig, mits jy die regte protokol volg en jou gesonde verstand gebruik,” beklemtoon hy.
LEES OOK: Help, ek verdrink in die skuld!
Donovan beveel die volgende aan:
- Koop op bekende webwerwe soos eBay of takealot as jy enigsins kan. As jy wel by ’n onbekende, kleiner handelaar wil koop, maak seker dat die onderneming regtig bestaan. Google die naam en maak seker dat daar ’n fisieke adres sowel as ’n telefoonnommer op die betrokke webwerf is, nie net ’n e-pos nie. Bel die onderneming en vra uit oor die produk wat jy wil koop. Sê jy wil ’n draai kom maak (al is dit nie waar nie) sodat jy kan uitvind waar die onderneming geleë is en gaan kyk op Google Maps of dit wel die geval is.
- ’n Goue reël: As dit te goed klink om waar te wees, ís dit tien teen een die geval.
- Moet nooit jou kredietkaartbesonderhede verskaf op ’n webwerf wat nie veilig (“secure”) is nie. Volgens Donovan is daar verskeie organisasies wêreldwyd wat hierdie soort akkreditasie aan ’n webwerf gee en seker maak dat data op ’n verantwoordelike manier geberg word (teen die aardige bedrag van tussen R1 en R10 miljoen!). Daar is twee maklike maniere om vas te stel of ’n webwerf veilig is:
- ’n Klein slotjie, soms gevolg deur “Secure”, sal heel links in die webwerf se adresbalkie verskyn. Klik op die slotjie. Die sertifikaat sal oopmaak en aandui of dit geldig is of nie.
- ’n Veilige webadres sal gewoonlik met https:// pleks van http:// begin. Wees net versigtig vir “piggybacks”, soos hulle in die bedryf bekend staan: Dis daardie kuberboewe wat valslik iemand anders se sertifikaat probeer gebruik. In so ’n geval kan daar wel https:// staan, maar die slotjie sal byvoorbeeld ’n strepie deur of ’n rooi kringetjie om hê, en die sekuriteitsertifikaat vir daardie webwerf sal ook nie geldig wees nie. Wees waaksaam en op die uitkyk hierna.
- Baie belangrik: Maak seker dat jou kredietkaart deur die 3D Secure-funksie beskerm word. Die meeste banke doen dit outomaties, maar jy kan jou bank bel om seker te maak of dit wel die geval is. 3D Secure behels dat die bank vir jou ’n eenmalige pinnommer (“one-time pin” of OTP), SMS of e-pos om ’n aanlyn transaksie goed te keur. Baie lugrederye, byvoorbeeld, gebruik nie die 3D-opsie nie omrede baie kaarte nie 3D Securebeskerming het nie, sê Donovan.
- Onthou, geen onderneming sal jou ooit vir jou kredietkaart-pinnommer vra nie.
Wanneer ’n webwerf produkte teen ’n groot afslag verkoop, swak grammatika en spelling bevat en laegehaltefoto’s van die handelsmerk se amptelike webwerf gebruik, verkoop dit dalk nagemaakte produkte
Wat is ’n afkoelperiode?
Op enkele uitsonderings na het enige kuberkoper ingevolge Artikel 44 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies die reg om binne sewe dae nadat goedere ontvang is of ’n ooreenkoms gesluit is, die transaksie te kanselleer. Die verbruiker is net in hierdie geval verantwoordelik vir die koste om die goedere aan die verskaffer terug te besorg. Die verskaffer moet op sy beurt binne 30 dae die volle koopsom aan die verbruiker terugbetaal.
Hoe werk aflewering?
’n Plaaslike aanlyn bestelling moet op ’n ooreengekome datum, plek en tyd afgelewer word. Indien nie, het jy die reg om te kanselleer en moet terugbetaling binne 30 dae geskied. Dit geld nie vir oorsese aankope nie weens invoer- en ander faktore wat die aflewering kan belemmer.
Jy het ’n bloutjie geloop. Wat nou?
By sowel MasterCard as Visa, die twee grootste kredietkaartverskaffers, het die verbruiker minstens 120 dae om ’n dispuut te verklaar, sê Donovan. Gestel jy koop ’n swembadpomp, dit word afgelewer, maar dit werk nie. Of jy ontvang die verkeerde produk. Dis belangrik dat jy eers die verkoper kontak en probeer om ’n oplossing te vind. As julle nie tot ’n vergelyk kan kom nie, verklaar jy ’n dispuut. Bel of besoek daarna jou bank en vra dat die betrokke transaksie omgekeer word.
Dis belangrik dat jy bewyse van kommunikasie met die verkoper sowel as die transaksie met die verkoper verskaf. Sit jou dilemma verkieslik op skrif uiteen; dit tel altyd in ’n mens se guns. Noem die naam van die persoon met wie jy gepraat het asook die datum en tyd. Verduidelik hoekom die probleem nie opgelos kon word nie. Die bank sal dan ingevolge Master- Card- en Visa-regulasies die transaksie ondersoek. Word genoeg rede gevind, sal die transaksie omgekeer word.
Volgens Donovan het groot kuberondernemings soos eBay en Amazon interne koperbeskerming en werk dit op dieselfde beginsel as hierbo. Gestel iets gaan fout nadat jy deur middel van PayPal betaal het, soos dat jou kind se verjaardagpresent nie afgelewer is nie, die verkeerde produk by jou uitgekom het, daar ’n wanvoorstelling van die produk was of dit beskadig is. Jy verklaar binne 120 kalenderdae ’n dispuut op PayPal se webwerf, wat dan as fasiliteerder in die kommunikasie tussen jou en die verkoper optree. As julle nie tot ’n vergelyk kan kom nie, moet jy binne dieselfde 120 dae die dispuut op PayPal se webwerf na ’n eis opgradeer. PayPal sal dan ondersoek instel en binne nagenoeg 30 dae ’n besluit neem. Indien dit in jou guns is, sal die transaksie omgeswaai word.
LEES OOK: Die moets en moenies van kredietkaarte
Wees versigtig!
Volgens Donovan is daar ’n nuwe diens, naamlik ’n kits- elektroniese oorbetaling (“instant EFT”). In hierdie geval kan jy nie ’n dispuut verklaar nie omdat dit as kontant beskou word. Die transaksie gaan onmiddellik deur nadat jy dit deur middel van ’n eenmalige pinnommer (“one-time pin”) bevestig het. Let wel: Dit kan slegs omgekeer word as jy kan bewys dat daar bedrog was.
Al is dit hoe frustrerend, lees daardie voorwaardes en bepalings sodat jy nie ’n onaangename verrassing kry nie
Nog wenke
- Al is dit hoe frustrerend, lees daardie voorwaardes en bepalings sodat jy nie ’n onaangename verrassing kry nie. Kyk ook wat die verkoper se beleid ten opsigte van terugbetalings en terugsendings is.
- Kyk gereeld – minstens een keer per week – na jou kredietkaart- én ander bankstate, beveel Donovan aan. Onthou, ’n kredietkaartrekening is baie magtig en kan enige plek ter wêreld gebruik word. As jy nie ’n transaksie gemagtig het nie, moet jy jou bank binne 120 dae kontak. Die bank kontak die handelaar en vra bewys dat die kaarthouer die transaksie aangegaan het. As daar nie bewys is nie, word die transaksie omgekeer.
- Wanneer ’n webwerf produkte teen ’n groot afslag verkoop, swak grammatika en spelling bevat en laegehaltefoto’s van die handelsmerk se amptelike webwerf gebruik, verkoop dit dalk nagemaakte produkte. Sommige webwerwe wat nagemaakte goedere verkoop, boots die handelsmerkeienaar se werf na deur dieselfde uitleg en soortgelyke prente te gebruik, of ’n domeinnaam te gebruik wat die handelsmerk inkorporeer. Dit is een van verskeie wenke vir kuberkopers by https://www.google.co.za/intl/ af/safetycenter/everyone/start/ online-shopping-tips/