Dis ’n uitdagende beroep,maar ook ’n bevredigende een
Lindi Herbst
Alta Brink is ’n traumaverpleegster by ’n staatshospitaal in Johannesburg. “My amptelike titel is suster, maar daar word ook na iemand in my beroep as ’n professionele verpleegster of geregistreerde verpleegster verwys,” sê sy.
VOOR- EN NADELE
As ’n traumaverpleegster kry Alta daagliks met noodgevalle te doen. “Dit is vir my die beste gevoel om in ’n span saam te werk om iemand se lewe te red,” vertel sy. “Ek voel altyd goed om aan die einde van ’n skof huis toe te gaan en te weet dat ek gehelp het om ’n lewe te red of ’n verskil in iemand se lewe te maak,” vertel sy. Dis volgens haar ook ’n baie interessante beroep: “Ek kry daagliks met verskillende mense te doen – party laat my lag, ander vertel jou skokkende stories. Nietemin geniet ek dit om hulle te ontmoet!” Nog ’n voordeel vir Alta is die feit dat iemand wat verpleegkunde studeer het van ’n werk verseker kan wees. “Daar gaan altyd siek mense wees, dus sal daar altyd werk vir verpleegsters wees,” meen sy. Tog meen sy dat die lang skofte soms moeilik is om te hanteer. “’n Verpleegster werk meestal van seweuur soggens tot seweuur saans – om vir 12 uur op jou voete te wees, is uitmergelend,” sê sy. “Daar is ook nie iets soos vakansiedae vir ons nie. Hoewel ons beurte maak om te werk, gaan jy in ’n stadium op Kersdag of ’n ander belangrike dag werk.” ’n Verpleegster is ook verplig om twee naweke per maand te werk. Die slegste deel van die werk vir Alta is wanneer ’n pasiënt sterf. “Dit is baie erg as ’n mens weet ’n pasiënt gaan dit nie maak nie en dat jy niks kan doen om sy lewe te red nie,” meen Alta. “Dis ook baie moeilik om die nuus aan die familie oor te dra.”
INKOMSTE
’n Groot voordeel om verpleegkunde te studeer, is dat jy vanaf jou eerste studiejaar ’n salaris verdien. “In jou eerste jaar verdien ’n student ongeveer R5 000 per maand,” sê Alta. “In jou jaar van gemeenskapsdiens, wanneer jy by ’n staatshospitaal werk, verhoog jou salaris na ongeveer R9 000 per maand. Daarna kan jou salaris nog tot ongeveer R13 000 per maand verhoog.” Sy meen ook as jy in ’n sekere rigting spesialiseer, soos in die intensiewe sorg- of ongevalle-eenheid, sal jou salaris verhoog. “Jy kry ook betaling as jy oortyd, soos op vakansiedae, Sondae en nagdiens, werk.”
OPLEIDING
Om as ’n geregistreerde verpleegster te kwalifiseer, moet jy ’n vier jaar BCur (Baccalaureus Curationis) verpleegkundegraad doen. Alta het haar graad aan die Universiteit van Johannesburg behaal. “Die graad bestaan uit verskeie vakke wat oor die vier jaar verdeel is,” verduidelik sy. “Die vakke sluit in anatomie, fisiologie, sosiologie, fundamentele verpleegkunde, farmakologie, verloskunde, gemeenskapsverpleging, mediese en chirurgiese verpleging, sowel as sielkunde en psigiatrie.” Jy begin reeds werk terwyl jy studeer. “Die aantal ure wat jy werk, hang af van watter jaar van jou graad jy mee besig is,” verduidelik Alta. “Jy studeer en werk terselfdertyd, so party dae woon jy klas by en ander dae werk jy.” Nadat jy jou vierjaargraad voltooi het, doen jy ’n jaar gemeenskapsdiens, waar jy verplig word om by ’n staatshospitaal te werk. Gedurende hierdie jaar van gemeenskapsdiens word jy by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) geregistreer. Alta meen egter dat daar ’n ander opsie is as jy ’n verpleegster wil word. “Jy kan ook ’n diploma in verpleegkunde doen, waarna jy as ’n ingeskrewe verpleegster (enrolled nurse) of ’n ingeskrewe verpleegstersassistent (enrolled nursing assistant) kwalifiseer.
RAAD
- Maak jouself vir lang ure op jou voete gereed en koop gemaklike skoene!
- Maak seker jy kan bloed hanteer. Jy moet ook nie vir wonde, liggaamsvloeistowwe of enige liggaamsdeel gril nie.
- Die vier jaar wat jy studeer en terselfdertyd werk, is nie maklik nie. Wees voorbereid.
- Die beroep maak jou hard omdat jy goed sien wat jou kan traumatiseer.
- Verpleegsters kry met verskillende gelowe en kulture te doen, dus moet jy leer om geduld en respek vir almal te hê.
Besoek www.uj.ac.za; www.wits.ac.za; www.web.up.ac.za www.uct.ac.za; www.nwu.ac.za; www.ukzn.ac.za; www.sun.ac.za www.ufs.ac.za