‘n Tekenaar is ‘n persoon wat die idees en sketse van ingenieurs, argitekte en wetenskaplikes omskakel in gedetaileerde tekeninge.
Hierdie tekeninge word gebruik deur konstruksiewerkers om strukture, soos kantoorgeboue en industriële masjinerie te bou. Dit spesifiseer ook prosedures en prosesse wat gevolg moet word.
Tans is daar ongeveer 4 000 minder tekenaars in Suid-Afrika as waarvoor daar ‘n aanvraag is. Tekenaars is veral gesog in die ingenieurswese, veral vir siviele, meganiese en konstruksie ingenieurswese. Daar is egter baie plekke waar tekenaars kan werk nadat hulle gekwalifiseer het, naamlik argitektuur- en ingenieursfirmas, konstruksiemaatskappye, mynmaatskappye, kontraktekenfirmas en regeringsdepartemente soos Watersake, Landbou-ekonomie en Bemarking, Mineraal- en Energiesake.
Martin du Preez werk die afgelope vier jaar as ‘n tekenaar by ‘n konstruksiefirma in Johannesburg. “Ek het oorweeg om te gaan studeer om ‘n argitek te word, maar die werk van ‘n tekenaar het my gefasineer. Ek het tegniese tekeninge as ‘n vak op skool gehad en het dit baie geniet, dus was dit nie ‘n moeilike keuse toe ek studierigting moes kies nie.”
OPLEIDING Dit is belangrik dat jy reeds op skool Wiskunde en Fisiese Wetenskappe geneem het. Dit sal jou goed te staan kom as jy Ingenieurswese en Grafiese Ontwerp op skool geneem het.
Om te kan kwalifiseer as ‘n tekenaar, benodig jy ‘n kwalifikasie van ‘n universiteit van tegnologie of FET-kollege, wat tussen een en drie jaar duur. “Om te kan kwalifiseer as ‘n professionele tekenaar, moet jy vir ‘n verdere twee jaar onder ‘n geregistreerde professionele argitek – dan kan jy as ‘n ‘kandidaat’ registreer. Dan moet jy nog twee jaar werkservaring opdoen en ‘n professionele praktykeksamen aflê. As jy die eksamen slag, kwalifiseer jy as ‘n professionele tekenaar,” verduidelik Martin.
Indien jy besluit jy wil direk nadat jy klaar studeer jou eie onderneming begin, moet jy eers registreer by die Suid-Afrikaanse Raad vir Argiteksprofessie (SACAP). Dit word egter aanbeveel dat jy eerder eers ‘n paar jaar ervaring opdoen as tekenaar, voordat jy jou eie besigheid begin, sodat jy eers kan leer hoe om kliënte se behoeftes te verstaan en daarin voldoen.
INKOMSTE
Die beginsalaris van ‘n tekenaar is tussen R3000 en R6000, maar hoe meer ervaring jy opdoen, hoe beter salaris kan jy verwag. ‘n Tekenaar met heelwat ervaring kan ‘n salaris van ongeveer R25 000 verwag. Jou inkomste sal aansienlik verskil as jy jou eie besigheid begin, maar daarmee saam kom daar weer ander finansiële risiko’s.
VOORDELE Vir Martin is die lekkerste deel van sy werk om argitekte se visie korrek op papier vas te pen. “Dit is lekker om ‘n tevrede argitek en kliënt te hê en om uiteindelik die finale projek, of dit nou ‘n voltooide gebou of huis is, te sien,” meen Martin.
Alhoewel die werk van ‘n tekenaar meestal kantoorgebaseerd is, sal jy ook heelwat kere kliënte moet gaan sien en boupersele moet besoek. Dit beteken dat jy darem nie heeldat in ‘n kantoor sal moet sit nie.
“As tegniese tekeninge jou passie is, sal jy hierdie beroep terdeë geniet. Om te sien hoe jou tekeninge realiteit word, is die beste werksbevrediging waarvoor ‘n mens kan vra.”
NADELE Soos met enige tipe werk waar daar kliënte is, kry tekenaars ook moeilike kliënte. “Ek moes al verskeie kere tekeninge herhaaldelik oordoen, want die argitek en die kliënt was nie tevrede dat ek hul visie vasgevang het nie,” verduidlik Martin. “Jy moet egter maar net vasbyt en deurdruk, totdat hulle tevrede is.”
Tekenaars se werk vereis baie gedetaileerde werk, so jou oë kan seer raak as jy te lank besig is op ‘n slag. “Ek raak soms so vasgevang in die werk dat ek vergeet om my oë te knip,” lag Martin. “So ek dwing myself om elke halfuur van my lesenaar op te staan om koffie te maak of bene te rek en my oë kans te gee om te rus.”
Spertye is natuurlik ook ‘n groot deel van ‘n tekenaar se werk. Kliënte het definitiewe spertye – as jou tekening nie betyds klaar is nie, beïnvloed dit die hele bou- of produksieskedule. Dit beteken dat jy soms oortyd moet werk om seker te maak jy haal die spertyd.
RAAD
· Dis belangrik om op hoogte te bly van wat gebeur in die boubedryf en om te kyk na meer eko-vriendelike maniere van bou, omdat dit deesdae die tendens is.
· Jy moet goed daarmee wees om spertye na te kom en bereid wees om oortyd te werk as dit nodig is.
· Akkuraatheid en netheid is belangrike eienskappe waaroor jy moet beskik.
· ‘n Tekenaar moet oor uithouvermoë en geduld hê om moeilike kliënte te hanteer en om die projek te hanteer.
· Dit is belangrik dat jy vir lang tye kan konsentreer en gedetaileerde werk kan doen.
· Goeie hand-oog koördinasie en driedimensionele persepsie sal jou baie help in jou werk as tekenaar.
· Soms word dit vereis van ‘n tekenaar om te staan en teken (dis soms meer akkuraat), so jy moet stamina hê om vir lang tye te kan staan.
KONTAK
· The Drawing Office Academy: http://academyidt.co.za/
· Suid-Afrikaanse Instituut vir Tekenaars: www.saidraughting.com
· African Academy: www.africanacademy.co.za
· Tshwane Universiteit van Tegnologie: www.tut.ac.za
· Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie: www.cput.ac.za
· Durban Universiteit van Tegnologie: www.dut.ac.za
· Universiteit van Johannesburg: www.uj.ac.za
· Intec College: www.intec.edu.za