Jou kans is goed om ‘n werk te kry as jy vir ’n tandarts studeer. Lees hier meer.
Lindi Herbst
Dis nie so lekker om ’n tandarts te besoek nie, maar niemand sal stry oor hoe belangrik hulle vir ons is nie!
Dit is ’n tandarts se werk om pasiënte se tande na te gaan en enige siektes en ander probleme te diagnoseer en behandel. Hulle kan ook tande trek, gebreekte tande regmaak en valstande verskaf aan diegene wat dit nodig het.
Werner de Wet praktiseer al ’n paar jaar as ’n tandarts in Bloemfontein en dié werk fassineer hom. “Geen twee mense se tande is dieselfde nie en dis interessant om te sien hoe elkeen s’n verskil. Ek kry op ’n daaglikse basis met soveel verskillende tandprobleme te doen en kan dus nie kla dat my werk ooit vervelig raak nie.”
’n Ander rede hoekom hy besluit het om ’n tandarts te word, is die feit dat daar die afgelope paar jaar ’n tekort aan tandartse in Suid-Afrika is. “Ek het geweet dat, al is die studies lank, sou dit die moeite werd wees – die vooruitsigte van ’n tandarts in Suid-Afrika is baie goed.”
Opleiding
’n Graad in tandheelkunde neem sowat vyf jaar. Daar is verskeie universiteite in Suid-Afrika wat die graad aanbied. Die graad dek teorie en prakties, verduidelik Werner. “Daar is teoretiese sowel as praktiese lesse, waar jy die kans kry om teorie toe te pas. Die graad behels ook dat jy ’n jaar lank as ’n mediese intern werk.”
Nadat jy jou graad behaal het, moet jy as ’n tandarts by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika registreer. Dan kan jy besluit of jy onmiddellik as ’n algemene tandheelkundige wil begin praktiseer. Andersins kan jy verder studeer as jy wil spesialiseer.
Inkomste
Nes met meeste beroepe in die mediese veld, kan jy ’n goeie salaris verwag as jy ’n tandarts is. “Die salaris hang van ’n paar faktore af – of jy as ’n algemene tandheelkundige werk, in ’n sekere rigting spesialiseer, deel van ’n praktyk is of privaat praktiseer,” verduidelik Werner.
Natuurlik bepaal die aard van die pasiënte se probleme ook jou inkomste. Tandartse kan enigiets tussen R20 000 en R60 000 per maand verdien.
Voordele
Die werk van ’n tandarts is baie bevredigend. “Dis altyd lekker om te weet dat ek ’n pasiënt se pyn verminder of weggeneem het – daar is min dinge so erg soos tandpyn,” sê Werner. “Soms neem dit ’n paar opvolgbesoeke om die probleem uit te sorteer, maar ’n bekwame tandarts sal altyd ’n oplossing hê.”
Benewens ’n goeie inkomste en die feit dat jy vir seker kan wees van ’n werk, is daar ook die voordeel dat jy jou eie ure kan bepaal as jy privaat praktiseer.
Nadele
Alhoewel dit goed is om privaat te praktiseer, kan dit ook tyd neem om die praktyk aan die gang te kry – jy moet die kantore in orde kry, eie toerusting aankoop (wat baie duur is) en jy moet ’n pasiëntbasis opbou.
Nog ’n groot uitdaging is die feit dat ’n tandarts dikwels met moeilike pasiënte te doen het. “Die meeste mense wat ’n tandarts besoek, is baie senuweeagtig,” verduidelik Werner. “Ek blameer hulle nie – die geluid wat ’n tandboor maak, sal enige dapper persoon se senuwees op hol jaag. Dit neem soms lank om ’n pasiënt genoeg te kalmeer om verder te kan werk. Dit is veral moeilik om aan kinders se tande te werk.”
Raad
• ’n Liefde vir biologie en medisyne is ’n moet, want jy gaan baie daarmee te doen kry tydens jou studies en wanneer jy praktiseer.
• Jy moet pasiënte kan gerusstel en vertroue opbou.
• Konsentrasie en fokus is baie belangrik – tydens jou studies sowel as in jou werk.
• Goeie sig en visuele geheue is nodig sodat jy jou werk as tandarts deeglik kan uitvoer
• ’n Tandarts werk permanent met mense so jy moet beslis van mense hou.
Kontak
• Durban Universiteit van Tegnologie: www.dut.ac.za
• Universiteit van die Wes-Kaap: www.uwc.ac.za
• Universiteit van Pretoria: http://web.up.ac.za
• Universiteit van Witwatersrand: www.wits.ac.za
• Universiteit van Limpopo: www.ul.ac.za
• Universiteit van KwaZulu-Natal: www.ukzn.ac.za