As jy as kind gehakkel het of iemand met ’n spraakprobleem ken, sal jy weet hoe belangrik die werk van ’n spraakterapeut is, skryf Lindi Herbst
Daleen Swart is ’n gekwalifiseerde spraakterapeut. Haar werk sluit ’n wye verskeidenheid dienste in wat hoofsaaklik op individuele vlak plaasvind. “As spraakterapeut verskaf jy ook ondersteuning aan die familie van die pasiënt in die vorm van opleiding oor hoe om die pasiënt te versorg,” vertel Daleen. “Jy doen ook werkgeweropleiding, bied ondersteuningsgroepsessies aan en verskaf inligting aan die publiek oor spraakterapie en die uitdagings wat pasiënte het.” Die pasiëntebasis van ’n spraakterapeut wissel van vroeggebore babas wat sukkel om te drink tot ouer mense wat as gevolg van beroerte kommunikasie- en voedingsprobleme ervaar. Sommige volwasse pasiënte sluit slagoffers van beroerte en motorongelukke, alzheimer- en parkinsonsiekte en traumatiese breinbeserings in. Probleme wat ’n spraakterapeut oor die algemeen hanteer, sluit in: artikulasieprobleme en fonologiese afwykings; laat taalontwikkeling; taalprobleme; chroniese middeloorontsteking; stem- en gehoorprobleme; voedingsprobleme; en spraakprobleme as gevolg van breinbeserings of neurologiese afwykings.
INKOMSTE Die gemiddelde inkomste vir iemand in die privaat sektor is ongeveer R15 000 per maand. Iemand soos Daleen, wat vir die staatsdiens werk, verdien ietwat meer en kry voordele soos medies en pensioen. “Ek werk omdat ek bevrediging kry uit wat ek doen,” sê Daleen. “Dis ’n roeping.”
VOOR- EN NADELE Behalwe vir die bevrediging wat haar werk aan Daleen bied, beskou sy dit as ’n groot voorreg om ander mense te kan help. “Dis so lekker om die vreugde op pasiënte en hul versorgers se gesigte te sien as hulle vordering maak,” vertel sy. “Terselfdertyd kry ek die geleentheid om twee van my groot passies, tale en kinders, uit te leef.” Sy werk ook in ’n multidissiplinêre span wat uit dokters, dieetkundiges, arbeidsen fisioterapeute, sowel as oudioloë, maatskaplike werkers en verpleegsters bestaan. “Dis ’n voorreg om as deel van so ’n ervare span te werk en dit gee my die geleentheid om by my kollegas te leer. Sodoende doen ek baie ervaring op.” Vir haar is die minder lekker deel die feit dat sy daagliks met mense te doen kry wat erge spraakprobleme ervaar. “Soms is pasiënte se vordering stadig en kan dit vir hulle erg frustrerend wees,” sê sy. “Dis ’n uitdaging om so nou by mense se emosies betrokke te wees, sowel as om so ’n groot rol in die verbetering van ’n pasiënt se lewensgehalte te speel. Kommunikasie speel so ’n belangrike rol in ons bestaan.” Die groot verskeidenheid taalgroepe in Suid-Afrika maak Daleen se werk soms moeilik. “Ons pasiënte kom van verskillende agtergronde en kultuurgroepe en soms praat hulle ’n ander taal,” vertel sy. “Ons moet dan van ’n vertaler gebruik maak, maar soms gaan die boodskap verlore.”
OPLEIDING Daleen het ’n B-graad in kommunikasiepatologie (met spesialisering in spraakterapie) by die Universiteit van Pretoria gedoen. “Dis ’n vierjaargraad waartydens jy praktiese ondervinding, sowel as teoretiese kennis opdoen,” sê sy. As student moet jy ’n aantal praktiese ure werk. In die vierde studiejaar moet jy ook ’n navorsingsprojek doen en ’n verslag lewer. Daar is ook die moontlikheid om ’n meesters- en doktorsgraad in spraakterapie te doen. As jy as ’n spraakterapeut gekwalifiseer het, moet jy by die Raad vir Gesondheidsberoepe aansluit en jaarliks ’n sekere aantal werkswinkels en kort kursusse bywoon.
RAAD n Jy moet empatie met pasiënte hê, maar ook nie emosioneel betrokke raak nie. n Probeer soveel as moontlik inligting oor die beroep inwin. n Jy moet bereid wees om navorsing te doen en kursusse by te woon om op die hoogte van jongste verwikkelinge te bly. n Dis belangrik om goed in ’n span te kan werk, maar terselfdertyd ook onafhanklik te kan werk. n ’n Spraakterapeut se werk behels ook baie administratiewe werk, soos om verslae te skryf.
Besoek dié webwerwe: www.up.ac.za; www.wits.ac.za; www.sun.ac.za; www. health.uct.ac.za; http://audotspl.ukzn. ac.za/Homepage.aspx Vk