Leer meer oor die beroep van ‘n sosialemediaredakteur
As jy inligting wil bekom, na die jongste nuus op soek is of sommer net vermaak wil word, is die internet die eerste plek waar jy daarna gaan soek. En jy gaan sonder twyfel kry waarna jy soek en selfs meer.
Ondernemings, sangers, akteurs, tydskrifte en selfs politieke partye het almal hul eie webwerwe wat hulle gebruik om hul produkte, dienste en selfs oortuigings te bemark.
Die onderhou van webwerwe is die verantwoordelikheid van webwerfredakteurs. Hulle skep inhoud vir die webwerf, maak seker dat die webwerf gebruikersvriendelik is en hanteer administratiewe take wat daarmee gepaardgaan.
Sedert die ontstaan van sosiale media, soos Twitter en Facebook, het webwerfredakteurs ‘n bykomende taak gekry – om die inhoud van webwerwe via sosiale media te bemark. Daar word nou eerder na hulle as sosialemediaredakteurs verwys.
Danelle Gouws van Kaapstad werk as ‘n sosialemediaredakteur. Sy is verantwoordelik vir die funksionering en skep van inhoud vir die webwerf van die maatskappy vir wie sy werk. “Aangesien sosiale media tans nog gratis is, maak ek baie gebruik daarvan. Ons onderneming, wat babaklere en –bykomstighede verkoop, maak baie staat op hierdie soort bemarking. Die toename in ons verkoopsyfers sedert ek met sosialemediabemarking begin het, toon dat dit werk.”
OPLEIDING Danelle het ‘n BA-graad in joernalistiek en meen dat hierdie graad van onskatbare waarde vir haar in haar werk was. “Nadat ek klaar studeer het, het ek eers as ‘n intern by ‘n koerant gewerk en toe by ‘n tydskrif. Tydens my studies en hierdie internskappe het ek die belangrikheid van uitstekende skryf- en spelvaardighede geleer. Ek sou nie vandag my werk kon gedoen het sonder hierdie vaardighede nie.
Sy meen ‘n diploma in joernalistiek en ‘n skryfkursus kan van net soveel waarde wees. “Of jy nou ‘n graad, diploma of kursus doen – al drie sal jou baie leer oor skryfvaardighede en ook, baie belangrik, wat die verskil tussen gewone skryf en skryf vir ‘n webwerf is,” vertel sy.
INKOMSTE Soos met die meeste beroepe hang ‘n sosialemediaredakteur se salaris van ervaring af. Die grootte van die maatskappy het ook ‘n groot invloed, want hoe groter die maatskappy, hoe omvangryker is die webwerf en belangriker raak sosiale media.
Danelle het as ‘n webwerfredakteur begin werk voordat sosiale media die lig gesien het. “Toe was ek slegs verantwoordelik vir die webwerf, wat behels het die oplaai van artikels en foto’s oor alles wat met babas. verband hou My aanvanklike salaris was R8 000.”
Soos die belangrikheid van sosiale media toegeneem het en haar verantwoordelikhede toegeneem het, het haar salaris verhoog. “Ek verdien tans R12 000, maar ek weet van sosialemediaredakteurs wat tot R20 000 verdien.”
VOORDELE Vir Danelle is die lekkerste deel van haar werk die feit dat sy baie kreatief kan wees. “Nes enige joernalis, kan ek met woorde speel en artikels op ‘n kreatiewe manier bymekaar sit. Ek gebruik ook kreatiewe maniere om die webwerf mooi te laat lyk.”
Sosiale media is baie informeel en het nie voorgeskrewe reëls nie – solank jy mense se aandag trek, kan jy hier ook jou kreatiwiteit vrye teuels gee.
“Daar is ‘n paar riglyne oor bemarking op sosiale media wat ek volg (soos gebruik kort en kragtige sinne en wees oorspronklik), maar andersins probeer ek net elke keer om dinge so interessant as moontlik te maak.”
Jy kan ook jou werk basies enige plek doen solank jy ‘n skootrekenaar en internettoegang het. “Daar was al ‘n paar keer wat ek nie op kantoor kon wees nie, maar dit was nie ‘n krisis nie, want ek kon steeds my werk doen,” verduidelik sy. “En omdat ek altyd aanlyn is, bly ek sonder moeite op hoogte van die jongste nuus en vermaak.”
NADELE Om altyd aanlyn te wees, kan tog in ‘n stadium te veel raak. “Dit voel soms asof ek 24 uur ‘n dag aanlyn is om seker te maak dat alle navrae beantwoord word, dat die webwerf doeltreffend werk en dat die aanlynwinkel sonder foute is,” meen sy. Sy vind dit soms moeilik om af te skakel.
Tegniese probleme kan ook soms ‘n sosialemediaredakteur se werk kniehalter, veral as internettoegang moeilik is of as die webwerf nie lekker werk nie. Besoekers aan die webwerf kan redelik vinnig gefrustreerd raak as daar fout is en hoewel dit nie iets is wat jy verkeerd gedoen het nie, word jy geblameer.”
Die lang ure agter ‘n rekenaar kan ook veeleisend raak. “Hierdie is geheel en al ‘n kantoorwerk – jy sit heeldag voor ‘n rekenaar. Ek maak ‘n punt daarvan om gereeld ‘n blaaskans te vat om ‘n entjie te gaan loop om bene te rek.”
RAAD
· Jy moet oor uitstekende rekenaarvaardighede beskik.
· Jou skryf- en spelvaardighede moet ook baie goed wees – onthou, jy moet ‘n onderneming se beeld deur jou werk aan potensiële kliënte uitdra. Slordige skryfwerk gaan beslis nie beïndruk nie.
· Maak seker dat jy presies weet hoe werk sosiale media. As jy nie ‘n graad of diploma agter jou naam het nie, doen ten minste ‘n kursus in sosiale bemarking en webwerffunksionaliteit om die basiese vaardighede onder die knie te kry.
· As jy nie seker is of dit die werk vir jou is nie, werk eers as ‘n intern, waar jy die assistent van ‘n sosialemediaredakteur is. Jy sal vinnig agterkom of dit die werk is vir jou.
· Soek werk by ‘n onderneming waar jou passie lê. As jy van mode hou, doen aansoek vir ‘n werk as sosialemediaredakteur by ‘n modetydskrif of klerehandelsnaam.
Besoek www.up.ac.za; www.unisa.ac.za; www.wits.ac.za;
www.up.ac.za; www.uct.ac.za; www.ukzn.ac.za; www.sun.ac.za; www.ufs.ac.za; www.medunsa.ac.za