Verkies jy kookprogramme bo ander TV-programme? Eksperimenteer jy graag met nuwe disse en onthaal jy vir jou familie wanneer jy die geleentheid kry? Is een van jou groot drome om ‘n deelnemer aan Kokkedoor of Master Chef te wees?
Lindi Herbst
As jy ‘ja’ op bogenoemde vrae geantwoord het, sal jy waarskynlik baie gemaklik in ‘n sjefhoed en –baadjie voel. Ervare sjefs is hoog in aanvraag by instansies soos restaurante en hotelle, want die middelpunt van hul bestaan is sonder twyfel die etes wat hulle voorsien.
Margiet Stofberg werk al vir die afgelope drie jaar as die hoofsjef by ‘n vyfsterhotel in Sandton. Voor die tyd het sy by ‘n gastehuis in die Oos-Kaap gewerk. “Ek kom uit ‘n familie wat baie lief is vir kosmaak. Vandat ek kan onthou, stel ek daarin belang om lekker kos te maak – gelukkig het my ouers geen beswaar gehad toe ek besluit het om sjefskool toe te gaan nie.”
OPLEIDING ‘n Sjefskool of -kollege is die beste plek om by te studeer as jy ‘n sjef wil word. Daar is twee vlakke wat jy kan oorweeg – sertifikaatvlak, wat ongeveer ‘n jaar duur of diplomavlak, die gewilder opsie, wat twee jaar duur. “Daar is ook kursusse wat by ‘n universiteit of kollege gevolg kan word. Sjefskool is baie duur, dus is dit ‘n goeie tweede opsie, wat jou net so goed sal kwalifiseer as by ‘n sjefskool,” verduidelik Margiet.
INKOMSTE Praktiese ervaring behels ‘n groot deel van sjefstudente se opleiding. Hiervoor word hulle nie betaal nie, maar as jy voel dat jy tyd het om ekstra ervaring by ‘n restaurant of hotel op te doen, sal dit beslis goed op jou CV lyk. Moet egter nie te veel van ‘n betaling verwag nie. “Beskou dit as ‘n internskap, soos wat baie ander studente van ander vakrigtings doen. Jy sal waarskynlik ‘n karige salaris ontvang, maar daar is geen beter leerskool as die regte wêreld nie,” meen Margiet.
Indien jy wel as ‘n sjef gekwalifiseer het, moet jy ook nie te gou opgewonde raak dat die geld gaan inrol nie. Behalwe as jy gelukkig genoeg is om by een van die tophotelle of -restaurante werk te kry, gaan jy jouself eers as sjef moet bewys en nog ervaring opdoen voordat jy ‘n beter inkomste kan verwag.
“As jy werk by ‘n restaurant of hotel kry, kan jy verwag om met ‘n salaris van R5 000 – R8 000 te begin, afhangende van die tipe instansie, hoe gewild dit is, op watter prysklas dit fokus en waar dit geleë is,” sê Margiet. “Jou salaris byvoorbeeld by ‘n franchise-steakhouse en ‘n vyfsterhotel in Sandton, sal aansienlik verskil.”
Hou egter ingedagte dat daar soms byvoordele is, afhangende van die instansie waar jy werk. Hotelle en lodges gee dikwels ‘n opsie om daar te woon, wat deel uitmaak van jou pakket. Jy sal waarskynlik ook afslag op etes kry.
‘n Sjef wat meer ervaring opgedoen het en tot hoofsjef bevorder is, kan verwag om tussen R15 000 en R20 000 per maand betaal te word. As jy ‘n trappie hoër gaan en uitvoerende sjef is, kan jy ‘n salaris van R40 000 – R50 000 verwag, maar hou in gedagte dat dit jare se ervaring en kennis neem om tot hier te vorder.
Jy kan natuurlik ook besluit om jou eie spysenieringsmaatskappy te begin. Die sukses daarvan sal afhang van die tipe kliënte wat jy werf. As jy hard genoeg werk en vir jou ‘n naam in die bedryf vestig, sal dit jou help om kliënte te kry wat sal help om ‘n groot sukses van jou besigheid te maak. Margiet het egter belangrike raad: “Ek sou nie voorstel dat iemand direk uit sjefskool ‘n eie spyseniersmaatskappy begin nie. Dit is veel beter om eers gewoond te raak aan hoe die bedryf werk, kontakte op te bou en vir ‘n paar jaar te werk.”
VOORDELE Een groot voordeel as jy as ‘n sjef gekwalifiseer is, is dat daar soveel beroepsgeleenthede is – jy kan in ‘n restaurant, hotel, gastehuis of op ‘n passasierskip of vliegtuig gaan werk. Jy kan selfs besluit om jou eie spysenieringsbesigheid te begin. Jy kan boonop ‘n avontuur aanpak en vir ‘n paar jaar oorsee as ‘n sjef by ‘n hotel of restaurant gaan werk om werkervaring op te doen of as jy besluit om te emigreer, sal jy redelik maklik werk kry.
“Daar is min beroepe wat so kreatief is soos dié van ‘n sjef,” meen Margiet. “Sjefs wat soos ek, by ‘n instansie werk, kry dikwels ‘n idee van watter tipe kos daar verwag word. Maar ons kry vrye kreatiewe teuels as dit by die voorbereiding en bediening kom.”
Wat sy ook baie van haar werk geniet, is die kere wat sy komplimente by gaste kry. “Die kelners laat weet dikwels dat ‘n gas gaande was oor, byvoorbeeld, die beef fillet, of ‘n ander gas wil graag die resep van die aand se nagereg hê,” verduidelik sy. “Dit was nog altyd vir my lekker om te weet iemand waardeer my kos en as ek ‘n kompliment kry, maak dit al die harde werk die moeite werd.”
Vir iemand wat daarvan hou om as deel van ‘n span te werk, sal die werk van ‘n sjef ideaal wees. “’n Sjef kan die lekkerste kos maak en dit pragtig voorsit, maar sonder die hulp van die res van die span sal dit nie moontlik wees nie. By groot instansies is daar baie ander mense wat bydra tot die sukses,” meen Margiet. “Sonder elkeen se bydrae sal ‘n sjef se werk nie suksesvol wees nie. ”
NADELE Die gesegde lui nie verniet ‘if you can’t handle the pressure, get out of the kitchen’ nie, want Margiet kan van ‘n sjef se stres getuig. “Dit maak nie saak by watter instansie jy werk nie – sjefs werk oor die algemeen onder baie druk. Gaste is baie puntenerig oor hul kos en sal nie skroom om ‘n bord kos terug te stuur nie. So, behalwe dat jy baie borde kos in so ‘n kort tyd as moontlik gereed moet hê, moet jy ook seker maak die kos is van die hoogste gehalte en is presies hoe die gaste dit wil hê. ‘n Bord kos wat teruggestuur word, is die grootste belediging vir ‘n sjef.”
Benewens hiervan werk sjefs baie lang ure en is die meeste van die tyd op hul voete. As hulle nie rondbeweeg nie, is hulle druk besig by hul diensstasies om die kos voor te berei. En daar is geen vaste werksure nie – sjefs werk gewoonlik die hardste in die aande en oor naweke, sowel as vakansietye.
RAAD
· Dit is vanselfsprekend dat jy moet lief wees vir kos en kos maak as jy ‘n sjef wil word. Wees egter voorbereid – jy sal ook met rou vleis en selfs afval moet werk, so maak seker dis nie iets waarvoor jy gril nie.
· ‘n Sjef moet kreatief kan wees en eie inisiatief aan die dag kan lê. As iemand ‘n konsep vir ‘n ete aan hom voorlê, moet hy die vermoë hê om ‘lewe’ daaraan te gee.
· Dit is uiters belangrik dat jy onder druk moet kan werk en bereid is om lang ure op jou voete te wees as jy ‘n sjef wil word.
· Sjefs werk gewoonlik dié tye wanneer ander mense sosiaal verkeer, dus moet jy bereid wees om soms te werk wanneer ander mense ontspan. Sommige instansies is ook oop oor Kersfees, jy sal dus moet bereid wees om soms opofferinge te maak.
· Organiseringsvermoë is ook ‘n belangrike eienskap waaroor ‘n sjef moet beskik. Om ‘n drie-, vier- of sewe-gangmaaltyd voor te berei, verg deeglike beplanning.
· Daar is amper daagliks nuwe tendense as dit by kosvoorbereiding kom en hoe jy dit voorsit. Jy as sjef moet sorg dat jy op hoogte bly met hierdie tendense en dit self uitprobeer.
KONTAK
– Die Suid-Afrikaanse Sjef Akademie: www.sachefsacademy.com
– Die Suid-Afrikaanse Hotel Vereniging (FEDHASA): www.fedhasa.co.za
– Die Suid-Afrikaanse Sjef Vereniging (SACA): www.saca.co.za
-The Chef School: www.thechefschool.com
– SA Chefs Training & Innovation Academy: www.ctia.co.za