Help om pragtige strukture op te rig
Lindi Herbst
’n Mens sien daagliks talle geboue, paaie en wateraanlegte. Het jy al ooit daaraan gedink hoeveel werk dit verg om sulke strukture te ontwerp en in stand te hou? Het jy selfs al ooit gewonder wie is verantwoordelik hiervoor?
Siviele ingenieurs is die mense wat vaste strukture, soos paaie, lughawens, geboue en brûe, sowel as wateraanlegte beplan, ontwerp en betrokke is by die konstruksie, sowel as die instandhouding, daarvan. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur van projekte om die strukture op te rig.
Louis Maree (32) werk reeds die afgelope ses jaar as ’n siviele ingenieur. “Die ontwerp en konstruksie het my reeds as ’n jong seuntjie geïnteresseer,” verduidelik hy. “Reeds in hoërskool het ek sonder twyfel geweet dat ek daarby betrokke wou word en daarom het ek ná skool siviele ingenieurswese by die Universiteit van Johannesburg gaan studeer.”
Louis het aanvanklik hoofsaaklik administratiewe werk op kantoor gedoen, maar werk al vir vier jaar as ‘n konstruksietoesighouer. “Ek is betrokke by die konstruksie van geboue en moet seker maak alles verloop volgens plan.”
Siviele ingenieurs kan ook ander tipe werk doen, byvoorbeeld optree as ingenieurskonsultant of werk in ontwerp, konstruksie of selfs navorsing. So jou werksomgewing kan wissel van ’n moderne kantoor tot ’n stuk grond waar ’n gebou opgerig moet word.
Opleiding As jy ’n siviele ingenieur wil word, kan jy inskryf vir ’n graadkursus in siviele ingenieurswese by een van vele universiteite. Jy kan ook ’n nasionale diploma doen by vele ander instellings en selfs ’n BTech in siviele ingenieurswese doen. Wiskunde en fisiese wetenskappe is verpligte vakke en dit word aanbeveel dat jy ingenieursgrafika en -ontwerp en geografie as vakke neem.
Inkomste Die gemiddelde salaris van ’n gekwalifiseerde siviele ingenieur wat reeds ervaring opgedoen het in sy werk, verdien ’n salaris tussen R25 000 en R30 000. “Jou salaris sal natuurlik grootliks afhang van die tipe en grootte maatskappy waar jy werk,” verduidelik Louis. “Daar is selfs siviele ingenieurs wat by grootskaalse projekte betrokke is wat baie geld betaal.”
Voordele ’n Siviele ingenieur moet op sy voete kan dink en dit is wat Louis die meeste van sy werk geniet. “Daar is daaglikse talle onvoorsiene probleme wat opduik en dan is dit my verantwoordelikheid om dit so gou moontlik op te los,” meen hy.
Dis ook vir hom baie bevredigend om verby ’n gebou te ry en te weet hy het ’n aandeel in die bou daarvan gehad. “Dit is my passie om my werk goed te doen en om dit in ’n span te kan doen, is die beste ding in die wêreld.”
Ingenieurs oor die algemeen is in groot aanvraag, in Suid-Afrika en oorsee. Maatskappye is dikwels bereid om baie geld te betaal om ervare siviele ingenieurs in diens te neem.
Nadele ’n Siviele ingenieur se werk is waar die volgende gebou opgerig of pad gebou moet word. Dus, as jy besluit hierdie loopbaan is vir jou, moet jy net bewus daarvan wees dat daar ’n groot kans gaan wees dat jy baie sal moet reis.
Die spertye is ook erg en vang Louis soms. “As ’n projek binne twee weke klaar moet wees, kan enige uitstel die maatskappy duur te staan kom,” verduidelik hy. “Dus bestaan die woord ‘laat’ nie in een van die werknemers se woordeskat nie. Al beteken dit dat ons deur die nag moet werk om iets klaar te kry, sal ons dit doen.”
’n Ingenieur moet altyd op hoogte bly van die jongste tegnologie en vooruitgang in sy spesifieke veld van belangstelling, dus dis ’n goeie idee om gereeld navorsing te doen.
Raad
• Siviele ingenieurs werk dikwels saam met argitekte en tekenaars. Dit is dus belangrik dat jy goed in ’n span kan saam werk.
• Probleemoplossing is deel van jou daaglikse werk – maak seker jy is goed daarmee en jy hou daarvan.
• Jy hoef nie ’n bobaastekenaar te wees nie, maar basiese tekenvaardighede sal jou goed te pas kom.
• Kreatiwiteit is ’n moet, maar terselfdertyd ook akkuraatheid. ’n Fout kan iemand se lewe in gevaar stel.
• Jy gaan baie ure op die pad wees en ook lang ure moet werk om die spertyd van projekte te haal. Wees dus gewaarsku en maak seker jy is bereid om dit te doen.
• ’n Aanleg vir wiskunde is ’n moet.
Kontak
• Universiteit van Witwatersrand
• Universiteit van Kaapstad
• UNISA
• Universiteit van Johannesburg
• Universiteit van Stellenbosch
• Nelson Mandela Metropool Universiteit
• Durban Universiteit van Tegnologie
• Tshwane Universiteit van Tegnologie
• Ingenieursraad Van Suid Afrika (IRSA/ECSA)