Leef jou passie vir rugby en word ‘n skeidsregter
Lindi Herbst
Met die afgelope Rugbywêreldbeker is rugbyspelers se spel in die kollig geplaas, maar daar is ook dikwels debat gevoer oor die skeidsregters se beslissing. Die skeidsregter in rugby is die persoon met die fluitjie in die mond, wat moet seker maak dat die rugbyspeler die spel volgens die reëls speel. Hulle maak ook seker dat dissipline tydens ‘n wedstryd gehandhaaf word – as daar ‘n bakleiery tussen spelers uitbreek, is dit sy verantwoordelikheid om tussenbeide te tree en die spelers op ‘n regverdige wyse te straf.
Rugbyskeidsregters se werk is sonder twyfel baie moeilik, want daar word van hulle verwag om die korrekte beslissings te maak, soms onder moeilike omstandighede. Hul beslissings beteken soms die verskil tussen wen en verloor.
Dit gebeur dikwels dat rugbyspelers wat só beseer is dat hulle nie weer sal kan speel nie, hulle skeidsregters bekwaam. Deesdae gebeur dit egter al hoe meer dat rugbyspelers reeds in die hoërskool besluit om skeidsregters te word, omdat hulle besef dat hulle nie oor die fisieke eienskappe beskik om ‘n top-rugbyspeler te word nie.
As jy dit oorweeg om ‘n skeidsregter te word, hoef jy nie bekommerd te wees as jy nie self ‘n kranige rugbyspeler is of was nie. Solank jy ‘n passie vir die sport het, gereeld rugbywedstryde kyk of bywoon en ‘n uitstekende kennis van die sport het, kan jy beslis jou droom najaag om die fluitjie om jou nek te hang.
Werner Roux (32) was van jongs af lief vir rugby. Hy het op skool uitgedraf vir die eerste span, maar ná matriek het hy op sy studies gekonsentreer. Nadat hy klaar geswot het, het hy by ‘n mediamaatskappy begin werk, maar twee jaar gelede het hy besef dat hy die sport mis en besluit om opleiding as ‘n skeidsregter te kry. “Ek het nie my werk opgegee nie, maar vandat ek gekwalifiseer het, tree ek as skeidsregter by laerskool-rugbywedstryde op, meestal op Saterdae,” vertel hy. “Sodoende ontvang ek steeds ‘n vaste salaris, maar ek kan weer betrokke wees by een van my groot passies in die lewe – rugby.”
OPLEIDING Om as ‘n skeidsregter te kwalifiseer, moet jy verskeie kursusse volg. Die eerste kursus is Internasionale Rugbyraad (IRR) Vlak Een, ‘n agt uur lange kursus wat aspirant-skeidsregters die basiese vaardighede leer. IRR Vlak Twee behels ‘n kursus wat oor 16 uur strek, wat meer breedvoerig is en byvoorbeeld die skeidsregterbeginsels en risikobestuur dek.
Sodra ‘n persoon hierdie kursusse voltooi het, kan hy optree as ‘n IRR assistent-skeidsregter, wat behels dat hy ‘n skeidsregter se ekstra oë en ore tydens ‘n wedstryd is. Hy kan ook begin om as skeidsregter vir laerskool-rugbywedstryde op te tree. Met tyd en ervaring kan hy opgegradeer word na hoërskool-rugbywedstryde, dan klub-rugbywedstryde en ná ‘n paar jaar se ervaring, kan hy selfs provinsiale vlak bereik.
“Alle skeidsregters en rugbybreiers in Suid-Afrika moet ‘n BokSmart-veiligheidskursus doen,” verduidelik Werner. “Dit leer hulle hoe om die hoogste vlak van veiligheid op die veld te handhaaf om beserings te voorkom. Jy ontvang na die tyd ‘n sertifikaat, wat egter slegs twee jaar geldig is en dan weer hernu moet word.”
Alle skeidsregters moet jaarliks ‘n eksamen oor nasionale rugbywette skryf en ook gereelde fiksheidstoetse ondergaan om seker te maak hulle kan byhou by die spelers op die veld en dat hulle oor die vermoë beskik om vinnige, duidelike en rasionele besluite te kan maak.
INKOMSTE Omdat skeidsregters selde geld kry vir rugbywedstryde, het hulle altyd ´n voltydse werk, wat ‘n vaste salaris verseker. As jy ‘n skeidsregter wil word, moet dit meer soos ‘n stokperdjie vir jou wees – iets wat jy in jou vrye tyd doen.
Werner tree tans as ‘n skeidsregter vir klubrugbywedstryde op, maar ontvang geen inkomste hiervoor nie. “Op hierdie vlak word skeidsregters nie betaal nie en dit pla my nie. Ek doen dit omdat dit vir my pret is en my laat wegbreek van my kantoorwerk,” sê hy.
Daar is tans slegs vier voltydse professionele skeidsregters in Suid-Afrika wat goed betaal word en gereeld oorsee reis om skeidsregter in internasionale wedstryde te wees. Dit verg egter tyd en uithouvermoë om op hierdie vlak te kom, maar as jy eendag so ver gevorder het, sal jy ‘n baie goeie inkomste en ander byvoordele (soos geleenthede om te reis) ontvang.
VOORDELE Die meeste mense wat skeidsregters word, doen dit omdat hulle ‘n passie vir rugby het en graag betrokke by die sport wil wees. “Wat is dan nou lekkerder as om self die skeidsregter van ‘n rugbywedstryd te wees eerder as om ‘n toeskouer te wees en te dink jy weet beter,” lag Werner.
Alhoewel daar dikwels baie druk op ‘n skeidsregter is om tydens ‘n wedstryd die korrekte besluit te maak, vloei die adrenalien ook behoorlik wanneer dinge naelbyt is. Werner stem hiermee saam: “Rugby word teen ‘n baie vinnige spoed gespeel en jy as skeidsregter moet heeltyd kophou. Daar is niks wat my meer van ‘n head rush gee as die feit dat ek heeltyd op en wakker moet wees nie en dat die wedstryd se uiteinde baie te doen het met my beslissings.”
NADELE Alhoewel dit lekker kan wees om die adrenalien tydens ‘n vinnige rugbywedstryd te voel vloei, kan die druk skeidsregters ook soms onderkry. “Tydens die wedstryd is jy so betrokke by wat aangaan op die veld dat ‘n tipe van ‘n depressie soms ‘n skeidsregter kan tref nadat die wedstryd verby is. Toeskouers raak soms te erg omdat hulle oortuig is dat die skeidsregter die verkeerde besluit gemaak het,” meen Werner. “Jy moet baie selfvertroue in jou besluite hê, anders gaan jy nie lank hou nie.”
Om ‘n skeidsregter te wees, verg ook ‘n verbintenis tot die werk. Jy kan nie besluit dat jy betrokke sal wees slegs wanneer jy vrye tyd het nie. Benewens die gereelde fiksheidstoetse wat jy moet ondergaan, moet jy ook op hoogte bly met die veranderinge in die spel en gereelde vergaderings bywoon. Wedstryde is ook dikwels op Vrydag- en Saterdagaande, so jy moet bereid wees om van jou vrye tyd op te gee.
RAAD
· Die nommer een reël is dat jy ‘n skeidsregter moet word omdat jy ‘n liefde en passie vir rugby het.
· Fiksheids is ‘n baie belangrike aspek, sodat jy kan byhou by die spel en nie die aksie misloop nie, wat jou sal help om die regte beslissings te maak.
· Goeie visie is baie belangrik, maak dus seker dat jy gereeld jou oë laat toets.
· ‘n Skeidsregter moet oor uitstekende insig- en waarnemingsvaardighede beskik, sodat hy betroubare en regverdige beslissings kan maak.
· Hy moet onder druk kan werk en besluite neem.
· Selfvertroue sal jou goed te staan kom om te verseker dat jy jou nie daaraan steur as toeskouers jou uitskel omdat hulle dink jy weet nie wat jy doen nie.
KONTAK
· Besoek sareferees vir meer info of 021 – 8089033
· Besoek matieskeidsregters vir meer info of 021 808 9033