Daar is minder as 600 psigiaters in die land en dit kan ’n baie lonende beroep wees
Wanneer iemand emosionele en gedragsprobleme ervaar, word daar meestal terapie by ’n sielkundige aanbeveel. Tog kan ’n mens ook ’n psigiater sien. Nes ’n sielkundige, spesialiseer ’n psigiater in die behandeling van kognitiewe, emosionele of gedragsversteurings, maar die verskil tussen die twee is dat die psigiater medikasie aan ’n pasiënt mag voorskryf. ’n Psigiater behandel pasiënte met emosionele en gedragsprobleme weens neurochemiese faktore met medikasie. Hulle is ook verantwoordelik vir die diagnosering, behandeling en rehabilitering van pasiënte met geestesongesteldhede soos bipolêre gemoedsversteuring, skisofrenie en angsversteurings. Soraya Seedat is ’n professor in psigiatrie en die waarnemende uitvoerende hoof van die departement van psigiatrie by die Universiteit van Stellenbosch. “Daar is tans ’n tekort aan psigiaters in die land – minder as 600 vir ’n bevolking van ongeveer 46 miljoen mense,” vertel sy. Dus, as jy enigsins ’n loopbaan in die mediese veld oorweeg, kan jy gerus na ’n loopbaan as ’n psigiater kyk, want die kans is groot dat jy werk sal kry!
VOOR- EN NADELE
Vir Soraya is die lekkerste deel van haar werk wanneer sy pasiënte met ’n geestesiekte kan help. “Dit verg meestal tyd, moeite en geduld voordat behandeling begin werk, maar dis baie bevredigend as dit eers werk,” verduidelik sy. Die feit dat medikasie deel van die terapie uitmaak, help soms ook om die terapie te bespoedig. Tog beklemtoon sy dat ’n balans tussen medikasie en terapie noodsaaklik is. “Albei is nodig vir doeltreffende behandeling,” verduidelik sy. “’n Psigiater kan nie net op medikasie staatmaak nie – ’n pasiënt moet ook deur die terapeutiese proses gaan. As die medikasie gestaak word, is die onderliggende probleem steeds daar.” Sy glo daar is baie geleenthede vir psigiaters om te groei. “Jy kan byvoorbeeld ander onderrig of self navorsing doen op die gebied – dit hang af van waar jou passie lê,” meen sy. “Daar word ook voortdurend opwindende vooruitgang in die psigiatriese en mediese veld gemaak. Dus glo ek dis nou die ideale tyd om ’n loopbaan in psigiatrie te volg.” Nes ’n sielkundige, het ’n psigiater die keuse of hy privaat wil praktiseer of vir die staat wil werk. As jy besluit om privaat te praktiseer, bepaal jy jou eie werksure. Soos met die meeste loopbane in die mediese veld, is daar lang werkure. Soraya werk gewoonlik 12 tot 14 uur ’n dag en moet ook nauurs vir noodgevalle beskikbaar wees. “Nes enige ander mediese dokter, moet ek 24 uur van die dag beskikbaar wees,” verduidelik sy. ’n Mens moet ook aan verskeie verantwoordelikhede gewoond raak. “’n Psigiater moet beskikbaar wees om klinieke te besoek, met administrasie op datum bly, pasiënte sien en op hoogte van die jongste navorsing bly,” sê sy. Boonop kan die werk emosioneel dreinerend wees. “Dis moeilik om nie emosioneel by pasiënte betrokke te raak nie, maar ’n mens leer mettertyd om jouself te distansieer.”
INKOMSTE
’n Psigiater in die staatsektor kan verwag om ’n salaris van tussen R700 000 en R900 000 per jaar te kry. As jy as ’n psigiater begin werk, kan jou salaris sowat R150 000 per jaar wees. As jy privaat praktiseer, hang jou salaris van jou aantal pasiënte af.
OPLEIDING
Soraya het eers ’n MBChBgraadkurses van ses jaar aan die Universiteit van KwaZulu-Natal gevolg. “Daarna het ek my mediese internskap by die Universiteit van Stellenbosch gedoen en toe vier jaar daar in psigiatrie spesialiseer,” sê sy. “Ek het daarna ’n paar jaar ervaring as ’n navorser opgedoen.” As jy die loopbaan oorweeg, sal jy ook ’n mediese graad moet voltooi, ’n jaar lange internskap moet voltooi en twee jaar gemeenskapsdiens doen. Daarna volg die spesialisering in psigiatrie van vier jaar.
RAAD
- Werk reeds op skool hard. Die keuringsproses is baie streng.
- Jy moet bereid wees om baie jare te studeer, veral as jy in psigiatrie wil spesialiseer. Dit is een van die intensiefste rigtings om in te studeer. Maak seker jy het ’n goeie ondersteuningstelsel.
- Jy moet empaties, emosioneel volwasse en sterk wees.
- Dis belangrik dat ’n psigiater op hoogte van die jongste navorsing en ontwikkeling bly.
Besoek www.unisa.ac.za; www.wits.ac.za; www.up.ac.za; www.uct.ac.za; www.ukzn. ac.za; www.sun.ac.za; www.ufs.ac.za; www.medunsa.ac.za; www.sasop.co.za; www.sajp.org.za; www.wpanet.org