Leer meer oor die interessante werk van ‘n patoloog
LINDI HERBST
Leer meer oor die interessante werk van ‘n patoloog
Deur LINDI HERBST
As jy ‘n aanhanger is van TV-speurreekse het jy beslis al die mense in hul wit jasse gesien wat slagoffers se liggame vir leidrade ondersoek.
Daar word na hulle as patoloë verwys, maar hul werk behels veel meer as om net lyke te ondersoek. ‘n Patoloog se werk behels die studie en diagnose van siektes deur organe, weefsel, liggaamsvloeistowwe en lyke te ondersoek. Dit vereis nie die behandeling van ‘n siekte nie – die diagnose word aan ‘n dokter oorgedra, wat dit dan behandel.
As jy in hierdie beroep belangstel, is dit belangrik dat jy weet daar is ‘n groot verskeidenheid patologiese velde waarin jy kan spesialiseer. Francois du Toit, ‘n kliniese patoloog wat by ‘n patologielaboratorium in Pretoria werk, verduidelik: “Daar is verskillende soorte patologie, byvoorbeeld chemiese, anatomiese, molekulêre en forensiese patologie. Meestal werk patoloë in laboratoriums, waar ons mediese monsters analiseer en interpreteer.”
OPLEIDING Om ‘n patoloog te kan word, moet jy eers ‘n algemene mediese graad voltooi wat tot ses jaar se studies behels en twee jaar se praktiese opleiding of internskap insluit. “Ek het by die Universiteit van die Witwatersrand ‘n BA-graad in gesondheidswetenskappe in drie jaar voltooi, waarna ek ‘n internskap van twee jaar voltooi het,” vertel Francois. “As jy wil spesialiseer, moet jy nog ‘n verdere vier tot vyf jaar studeer en ook in hierdie tyd as ‘n registrateur werk, waartydens jy ‘n gemiddelde salaris verdien.”
Die grade wat aangebied word, verskil tussen universiteite. Daar is byvoorbeeld ‘n driejaargraad in biologiese wetenskappe by die Noordwes-Universiteit, ‘n BSc-graad by die Universiteit van Stellenbosch en ‘n BSc-graad met spesialisering in fisiese wetenskappe by die Universiteit van Pretoria.
INKOMSTE Omdat ‘n patoloog se werk so gespesialiseerd is, is so ‘n persoon in groot aanvraag en kan jy ‘n goeie inkomste verwag. As jy in die regeringsektor werk, kan jy ‘n salaris gelykstaande aan ander mediese spesialiste verwag.
VOORDELE “‘n Patoloog sal nooit sê hy het ‘n vervelige dag gehad nie – daar daag altyd interessante monsters op!” vertel Francois. “En daar is niks so bevredigend soos om te weet dat jou werk ‘n verskil in iemand se lewe kan maak nie – dit beteken dikwels die verskil tussen lewe en dood.”
Omdat patologie so ‘n groot veld is met soveel verskillende opsies waarin jy kan spesialiseer, kan jy presies besluit watter veld jou die meeste interesseer. As jy ook nie daarvan hou om met mense te werk nie, sal jy ook bly wees om te hoor dat jy gewoonlik agter die skerms werk en dus minimaal met pasiënte te doen kry. Jy sal wel gereeld met dokters en ander medici oor jou resultate moet gesels.
NADELE Korrekte analises en interpretasies is van die uiterse belang en dit kan soms vir ekstra druk sorg. “Soms wil dokters uitslae binne ‘n dag hê omdat ‘n pasiënt baie siek is en as die monster eers laat in die middag inkom, kan dit soms beteken dat ek tot laat moet werk, maar dis die moeite werd as dit kan help om iemand se lewe te red.
“Daar is tans ‘n tekort aan patoloë in Suid-Afrika, wat natuurlik ‘n groter werkslading beteken. Sommige monsters verg ook meer werk as ander – dus moet ek probeer om nie agter te raak nie, maar steeds ‘n 100% korrekte resultaat te lewer. Die mikroskoopwerk is ook baie kwaai op ‘n mens se oë!
RAAD
Dit verg lang studiejare – tot tien jaar! Jy moet oor deursettingsvermoë beskik.
‘n Patoloog moet die vermoë hê om groot hoeveelhede inligting te verwerk, analiseer en interpreteer. Die resultate word meestal binne ‘n kort tydperk vereis.
Jy moet druk kan hanteer.
Sommige velde van patologie verg baie werk met ‘n mikroskoop – daarvoor benodig jy baie goeie visuele vertolking.
Mense se lewens hang dikwels van ‘n korrekte diagnose af, dus moet jy altyd ekstra versigtig met die monsters werk en seker maak dat die analise en interpretasie 100% korrek is.
‘n Patoloog moet altyd op hoogte bly van die jongste navorsing in sy veld en moet dus altyd ‘n leergierige gemoed hê.
Dit gebeur soms dat ‘n verkeerde diagnose gemaak word. As jy alles in jou vermoë gedoen het om dit te voorkom, moet jy om verskoning vra en aanbeweeg. Dit help nie om daaroor te tob nie.
BESOEK www.wits.ac.za,www.up.ac.za, www.uct.ac.za of www.sun.ac.za