As jy van syfers hou, graag analities dink en feite nagaan, behoort jy in die werk van ’n ouditeur belang te stel
Lindi Herbst
Hulle is daarvoor verantwoordelik om die rekeninge en state van ’n maatskappy na te gaan en te analiseer. Uit dié bevindings word verslae saamgestel en aanbevelings gemaak oor die bestuur en finansiële posisie van die maatskappy. Daar word ook bepaal of die maatskappy ’n wins of verlies toon en of dit ’n goeie belegging vir voornemende aandeelhouers sal wees. As dit is wat jy graag sal wil doen, moet jy jou as ouditeur of rekenmeester bekwaam. ’n Persoon kan ’n interne ouditeur wees – wat vir ’n maatskappy werk en vir die betrokke maatskappy se boeke verantwoordelik is – of hy kan ’n eksterne ouditeur wees, wat vir ’n ouditeursfirma werk en verskeie kliënte het wie se boeke hy moet nagaan. ’n Geoktrooieerde rekenmeester is die hoogste professionele rekenkundige kwalifikasie wat iemand in Suid-Afrika kan behaal. Venter de Jager (Pretoria) Inc. Geregistreerde Rekenmeesters en Ouditeure is reeds in 1955 gestig en lewer die afgelope 58 jaar ’n diens. Die personeel verskaf meer inligting oor die werk van ’n ouditeur.
Opleiding
As jy ’n ouditeur wil word, moet jy ’n driejaar- BCom-graad in rekeningkundige wetenskappe behaal. Die meeste tersiêre instansies bied hierdie graad aan. Daarna moet jy ’n honneursgraad in rekeningkundige wetenskappe, sowel as ’n sertifikaat in die teorie van rekeningkunde voltooi. Ná jou studies word daar van jou verwag om ’n leerkontrak van 18 maande by ’n geregistreerde opleidingskantoor te voltooi. Gedurende hierdie tydperk sal jy twee eksamens van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) aflê.
Inkomste
Jou inkomste sal grootliks deur jou kwalifikasie bepaal word. As jy ’n leerlingrekenmeester is, kan jy verwag om tussen R4 000 en R8 500 per maand te verdien. Nagraads met ’n BCom- of BCom-honneursgraad in rekeningkundige wetenskappe sal jy tussen R12 000 en R18 000 per maand verdien en as ’n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester sal jou salaris tussen R35 000 en R50 000 per maand wees.
Voordele
Al verg dit harde werk om as ’n ouditeur te kwalifiseer, sal jy die vrugte daarvan pluk. In 2011 het ’n studie deur SAIGR getoon dat 32% van uitvoerende hoofde en ’n verdere 32% van direkteure van JSE-genoteerde maatskappye as geoktrooieerde rekenmeesters gekwalifiseer is. Boonop is dit een van die mees gesogte professionele beroepe in die finansiële sektor. Wanneer mense in sekere beroepe besluit om te emigreer, word daar soms van hulle verwag om addisionele eksamens af te lê om te verseker dat hulle hul beroep in ’n ander land kan beoefen. As jy ’n ouditeur of geoktrooieerde rekenmeester is, het jy nie dié probleem nie, want dis ’n internasionale kwalifikasie.
Nadele
Ouditeurs en geoktrooieerde rekenmeesters word onder baie druk geplaas, aangesien daar van hulle verwag word om aan die talle regulerende instansies se vereistes te voldoen. En hoewel die normale 40-uur-werksweek geld, is dit dikwels nodig om oortyd te werk vanweë die druk spertye, soms op baie kort kennisgewing.
RAAD
- Jy moet gedissiplineerd en vasberade wees om deur die groot volume studies te kom wat vir die beroep vereis word.
- Wees bereid om die res van jou lewe te studeer, want as ’n geoktrooieerde rekenmeester moet jy altyd op hoogte bly van die jongste regulasies wat op jou gebied geld.
- As jy syfergeoriënteerd is, is hierdie die beroep vir jou.
- Jy moet die vermoë hê om gemaklik te kan kommunikeer, omdat jy gereeld met kliënte in aanraking kom.
- Wees bereid om soms oortyd te werk en selfs partykeer te reis, afhangende van waar die kliënt is.
- Jy moet eerlik en opreg wees en etiek baie hoog ag.
- Jy moet die vermoë hê om objektief na ’n maatskappy se sake te kyk en foute te rapporteer.
KONTAK Venter de Jager (Pretoria) Inc. Geregistreerde Rekenmeesters en Ouditeure 012 346 1043; www.vdjpretoria.co.za; [email protected]