’n Oogkundige ondersoek mense se oë om vas te stel of hulle sigprobleme het en om meer uit te vind oor die gesondheid van hul pasiënte se oë. Hulle sal dan brille of kontaklense met die korrekte lens voorskryf.
Lindi Herbst
Hulle kan ook sekere oogsiektes behandel en medikasie voorskryf. As hulle ’n ernstige oogsiekte- of abnormaliteit bespeur, sal hulle die pasiënt na ’n oogarts toe verwys, wat opgelei en gekwalifiseerd is om oogoperasies uit te voer.
Henk du Preez werk die afgelope vier jaar as ’n oogkundige in Bloemfontein. Hy en twee ander oogartse is deel van ’n praktyk. “Ek dra al bril vandat ek vier jaar oud is. As kind het ek ’n fassinasie gehad met al die toerusting in die oogkundige se kantoor. Ek het reeds op hoërskool besluit dís die beroep wat ek wil volg,” vertel hy.
OPLEIDING Jy sal reeds op skool hard moet werk, want as jy ’n oogkundige wil word, moet jy matrikuleer met Engels, wiskunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskap as vakke. Chemie en biologie word ook aanbeveel as vakke.
Nadat jy gematrikuleer het, word dit aanbeveel dat jy verder studeer om ’n graad of diploma te kry. As jy ’n graad wil doen, sal dit ’n voltydse vier-jaar B.Optometrie-graad wees. Daarna moet gegradueerdes ’n eenjaarinternskap doen by ’n oogkundige se praktyk alvorens hulle as ’n professionele oogkundige kan registreer.
Vir diegene wat ’n diploma oorweeg, is daar ’n nasionale diploma in optometrie, wat drie jaar duur, sowel as ’n BTech optometrie-diploma, wat vier jaar duur. In die derde en vierde jaar van studie, kry diploma-studente reeds te doen met pasiënte, maar hulle moet steeds ’n eenjaarinternskap voltooi.
As jy jou graad of diploma gekry het, moet jy eers by die tussentydse Nasionale Geneeskundige en Tandheelkundige Raad van Suid-Afrika registreer as ’n oogkundige voordat jy mag praktiseer.
INKOMSTE
Studente wat hul internskap voltooi by ’n oogkundige praktyk, moenie noodwendig ’n salaris verwag nie. “Ek was gelukkig genoeg om ’n basiese salaris te kry tydens my internskapjaar,” vertel Henk. “Van my vriende was egter nie so gelukkig nie. Ek sou voorstel om, wanneer jy navraag doen oor moontlike internskappe, jy dit soos ’n werksonderhoud hanteer en die moontlikheid van ’n salaris bespreek. As jy kan motiveer met watter verantwoordelikhede jy kan uithelp, sal dit help om ’n salaris vir jou te regverdig.”
’n Oogkundige wat ’n eie praktyk besit, se salaris hang af van die hoeveel pasiënte wat hy of sy werf. Daar is dan natuurlik ook ander uitgawes, veral as jy ’n perseel huur en nog ekstra personeellede se salarisse moet betaal. As jy jou praktyk korrek bestuur en ’n sterk praktyk opgebou het, kan jy vir jouself ’n salaris van R30 000– R40 000 inbring.
Henk het egter besluit om eerder in vennootskap met twee ander oogkundiges te gaan en dus deel hulle baie van die uitgawes wat met ’n privaat praktyk aangegaan word. “Al drie van ons het ons eie pasiënte en meng nie in met mekaar se werk nie,” verduidelik Henk. “Dit werk ons goedkoper uit om uitgawes te deel en tot dusver werk dit vir ons. Ons is meeste van die tyd baie besig – my inkomste wissel tussen R40 000–R45 000, maar ek dink dis baie individueel tussen praktyke. Inkomste hang af van die ligging van jou praktyk en wissel selfs van provinsie tot provinsie.”
VOORDELE Diegene wat lief is daarvoor om met mense te werk, sal die werk van ’n oogkundige baie geniet. “Jy is heeldag tussen mense – ek persoonlik geniet dit om geselsies met my pasiënte aan te knoop, want daar is sulke interessante stories wat hulle het om te vertel,” meen Henk. “Dis ook vir my baie lekker om die geleentheid te hê om vir myself te werk, maar steeds saam met ander oogkundiges in ’n praktyk te wees. Ek kan my eie werksure bepaal en alhoewel ek baie hard werk, kan ek self besluit as ek korter ure wil werk of ’n naweek weg wil beplan.”
NADELE Die werk van ’n oogkundige is nie vir enigiemand beskore nie. Soos met mense in die mediese veld, is daar gevalle wat nie vir sensitiewe siele is nie. “Ek het al dikwels mense gekry met lelike oogsiektes – ek kan nie dink hoe iemand so lank kan wag om ’n oogkundige te sien nie! Dan het hul oë dikwels reeds lank ’n infeksie, en word daar van my verwag om dit dan te behandel binne ’n dag of twee, wat nie moontlik is nie,” vertel Henk. “Alhoewel meeste pasiënte baie aangenaam en vriendelik is, is daar sommige mense wat ongeskik is.”
RAAD
• Om ’n oogkundige te word, verg baie werk en die graad of diploma word gelyk gestel aan ’n mediese graad omdat daar baie teorie baasgeraak moet word.
• Jy moet graag ander mense wil help en geduldig kan wees as daar ongeskikte en ongeduldige pasiënte is.
• Akkuraatheid en deeglikheid is baie belangrike eienskappe.
• Goeie oog-hand-koördinasie is ’n moet.
KONTAK
www.maties.com, www.nwu.ac.za, www.uct.ac.za, www.up.ac.za, www.uovs.ac.za, www.wits.ac.za, www.unisa.ac.za