As jy van die natuur hou, is daar verskeie beroepe wat jy kan oorweeg. Een daarvan is om ’n ekoloog te word, sê Lindi Herbst
Die wonderlike ding van ’n beroep as ekoloog is dat jy kan spesialiseer. Ekologie verwys na die wetenskaplike studie van die verhouding tussen lewende organismes, sowel as hul verhouding met die natuurlike omgewing. Jy kan byvoorbeeld ’n plantegroei-, vuur- of veldekoloog word. Tineke Kraaij is ’n wetenskaplike plantegroei- ekoloog by SANParke se departement van wetenskaplike dienste en werk in die Tuinroete Nasionale Park. Cathy Greaver is ’n plaaslike ekoloog vir die Kruger, Marakele en Mapungubwe Nasionale Parke. Haar werk behels die koördinering van en deelname aan lugsensusopnames van die diere in al drie die nasionale parke. “Tydens die sensusopnames doen ek data-opnames en ná die tyd moet ek ’n verslag opstel,” verduidelik sy. “Ek is ook verantwoordelik vir programme wat die drie nasionale parke se plantegroei monitor.”
VOORDELE Vir Tineke is die lekkerste deel van haar beroep om tyd in die natuur deur te bring en meer van natuurlike stelsels te leer. “Dis ook vervullend om ’n bydrae tot die bewaring van die natuur en die behoud van ekosisteme te kan maak,” sê sy. “Wetenskaplikes het ook heelwat vryheid om toegepaste navorsing te doen in velde wat ons interesseer, mits dit relevant en bruikbaar is.” As jy as ekoloog by SANParke werk, kan jy moontlik personeelvoordele geniet, soos gratis toegang tot nasionale parke en goedkoper vakansie-akkommodasie. Daar word meestal nie van jou verwag om oortyd te werk nie, behalwe as vergaderings langer duur. Vir Cathy is die lekkerste deel van haar werk om die nasionale parke, insluitende al die verskillende diere en landskappe, tydens sensusopnames vanuit die lug te sien. Sy geniet dit ook wanneer daar wetenskapsbestuursforums gehou word. “By hierdie forums vergader bestuurspersoneel van die verskillende nasionale parke met navorsers van wetenskaplike dienste om die begrip tussen verskillende departemente te bevorder,” verduidelik sy.
NADELE As dit vir jou belangrik is om ’n loopbaan te volg wat jou gaan ryk maak, moet jy liefs nie ’n beroep as ekoloog oorweeg nie. “Bevordering behels dikwels dat jy na ’n bestuursposisie skuif, wat beteken dat jy minder geleentheid kry om navorsing te doen. Dan bestuur jy personeel en hanteer administratiewe take,” verduidelik Tineke. Die werk is ook veeleisend in die opsig dat daar van jou verwag word om akademies te presteer deur byvoorbeeld navorsingsresultate in internasionale wetenskaplike joernale te laat publiseer. “Aan die ander kant word daar dan van jou verwag om ’n praktiese, ondersteunende rol in parkbestuur te speel,” sê sy. “Dit is dikwels moeilik om dit alles gedoen te kry. Omdat ek meestal buite werk, raak my administratiewe werk agter en is dit dus ’n nagmerrie om dit in te haal,” vertel sy.
INKOMSTE Volgens Tineke kan iemand wat dieselfde loopbaan as sy wil volg ’n salaris van tussen R20 000 en R25 000 per maand verwag. Cathy sê die inkomste wissel, afhangende van die soort ekoloog wat jy is. “Die salaris van ’n ekoloog hang af van ondervinding, kwalifikasie en die maatskappy waarvoor jy werk,” meen sy. “Dit kan tot soveel as R30 000 wees.”
OPLEIDING Tineke het ’n BSc-graad met plant- en dierkunde as hoofvakke, sowel as natuurbewaring as ’n ekstra vak aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Daarna het sy haar MSc-graad in ekologie by die departement van bewaringsekologie gedoen. “Dis algemeen vir wetenskaplikes in ’n ekologiese rigting om plant- en dierkunde as vakke te hê, maar daar is ook ’n behoefte aan kundigheid in ander vakgebiede, soos grondkunde, geologie, geomorfologie, marienebiologie en varswaterekologie,” sê sy. Volgens Tineke bied die meeste universiteite in Suid-Afrika ’n BSc-graad in ’n biologiese veld aan. Daarna kan jy jou honneurs-, meesters- en doktorsgraad in die vakgebied van jou keuse doen. Cathy het haar Nasionale en B-Tech Diploma in natuurbewaring aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie gedoen. Sy het haar meestersgraad in natuurbewaring aan die Universiteit van KwaZulu-Natal voltooi.
RAAD As jy besluit om ’n ekoloog te word, moet jy lief wees vir die natuur, maak nie saak in watter veld jy spesialiseer nie. Baie van ’n ekoloog se werk behels om baie te reis, al is dit, soos Cathy, net tussen verskillende nasionale parke. Goeie sosiale en kommunikasievaardighede is baie belangrik omdat jy daagliks met uiteenlopende mense te doene sal kry. Dit sluit mense van verskillende kulture in. Navorsing maak ’n groot deel van die meeste ekologiese werk uit. Jy moet bereid wees om baie tyd aan navorsing te bestee en jou bevindings met ander in jou veld te deel. ’n Ekoloog hou nooit op om te leer nie – daar is voortdurend ontwikkeling in die veld. Jou verantwoordelikheid is om op hoogte van navorsing en ontwikkeling te bly.
KONTAKTE www.sanparks.org/conservation/scientific; www.cons-ent.com; botany.nmmu.ac.za; www.sanbi.org/programmes; www.nwu. ac.za; web.up.ac.za; www.wits.ac.za; www.ukzn.ac.za; www.ufs.ac.za Vk