’n Beroep in die wêreld van finansies kan baie lonend en verreikend wees
Lindi Herbst
As jy hard vir jou maandelikse salaris werk, wil jy tog graag dié geld op die regte manier aanwend. Ons is egter nie altyd seker wat die beste langtermynplan daarmee is nie. As jy eiendom of duur besittings het, wil jy tog seker maak jy is verseker as dit gesteel word. Dis juis hier waar ’n finansiële adviseur en versekeringsmakelaar nuttig is. Dit gebeur dikwels dat iemand ’n versekeringsmakelaar en finansiële adviseur is, omdat albei beroepe binne die finansiële sektor val. Flip Cowley is juis so iemand – sy werk is om die beste langtermyn- finansiële opsies aan sy kliënte te bied.
INKOMSTE
Die gemiddelde inkomste is R30 000 per maand, maar dit hang af van die maatskappy waarvoor jy werk en hoeveel ervaring jy al opgedoen het. Dan kan die salaris hoër wees.
VOOR- EN NADELE
Vir Flip is die voordele dat hy nie vaste ure werk nie omdat sy werktyd volgens sy kliënte se tyd bepaal word. “Met goeie beplanning het ek meer tyd vir die dinge wat regtig vir my saak maak, soos om meer tyd aan my kinders se sport te bestee.” Omdat hy nie vaste ure werk nie, beteken dit soms ongeleë tye. Hy werk ook party dae 16 uur en ander dae twee. “Party finansiële adviseurs werk egter vir maatskappye waar hulle ’n gewone werksdag moet werk, maar in dié beroep moet jy altyd probeer om jou kliënte te akkommodeer en hulle te spreek op ’n tyd wat vir hulle die geskikste is. “Nog ’n uitdaging in die beroep is wetgewing wat so dikwels verander. Jy moet te alle tye van moontlike veranderings bewus wees en jou kliënte in kennis stel.” Dit gebeur ook soms dat dinge nie ten goede vir die kliënte uitwerk nie, byvoorbeeld die wisselkoers wat onverwags verander. “Dan is hulle vir jou kwaad omdat jy vir hulle kwansuis die ‘verkeerde’ raad gegee het,” sê hy. Flip noem ook dat jy as makelaar, sowel as jou maatskappy gelisensieer moet wees en jaarliks aan sekere vereistes moet voldoen. As jy en jou maatskappy nie aan al die vereistes voldoen nie, kan die Finansiële Diensteraad (FDR) jou lisensie kanselleer en dan mag jy nie meer praktiseer nie.
OPLEIDING
Om vir dié beroep te kan kwalifiseer, moet jy ’n nasionale sertifikaat in finansiële dienste hê. Die kursus word by Inseta (Insurance Sector Education and Training Authority) aangebied, maar daar is verskeie instellings wat soortgelyke kursusse aanbied. Inseta bied byvoorbeeld ook ’n voorbereidingskursus aan om jou te help om jou eksamens te slaag. Dit kan ook tot jou voordeel wees om ’n BCom Finansies agter jou naam te hê as jy dié beroep wil betree. As jy as ’n versekeringsmakelaar wil werk, is dit, volgens Flip, ’n goeie idee om eers as ’n verteenwoordiger of adviseur vir ’n versekeringsmaatskappy te werk. Sodoende sal jy goeie opleiding ontvang en word jy voorberei op wat jy kan verwag voordat jy die mark betree. Jy moet ook gereeld eksamens aflê om op hoogte van al die wetgewing en verantwoordelikhede te bly. Hy noem ook dat die meeste versekeringsmaatskappye hul eie opleiding vir makelaars bied sodat hulle kennis oor die verskillende produkte het.
RAAD
- Jy moet baie gedissiplineerd wees. Jou inkomste hang dikwels af van die hoeveelheid kliënte wat jy het.
- Luister na wat jou kliënte se behoeftes is.
- Bly op hoogte van wat die wetge wing en regulasies is en stel jou kliënte vroegtydig in kennis, veral as dit hul beleggings gaan beïnvloed. Waarsku hulle eerder vroegtydig as wat hulle jou ná die tyd blameer dat jy hulle nie ingelig het nie.
- Moenie verwag dat jy dadelik baie geld gaan verdien wanneer jy gekwalifiseer het nie. Dit neem tyd, geduld en baie harde werk om ’n kliëntebasis op te bou.
- Al is jy reeds in die beroep, moet jy altyd op die uitkyk wees vir geleenthede om te groei. Daar is verskillende kwalifikasies wat jy kan behaal en hoe meer ondervinding jy opdoen, hoe beter.
- Kontak verskeie versekeringsmaatskappye se hoofkantore vir inligting oor hul eie opleidingsprogramme.
Besoek www.inseta.org.za, www.insurance. za.org, www.uj.ac.za, www.uwc. ac.za, www.sanlam.co.za of www.oldmutual. co.za