As jy gereeld dieselfde produk koop of oor en oor van dieselfde diens gebruik maak, dan beteken dit die maatskappy wat verantwoordelik is vir die produk of diens, doen iets reg.
Lindi Herbst
Daar is egter ook ander faktore wat ‘n invloed op ‘n produk of diens se gewildheid het. As jy van die voorkoms van ‘n spesifieke handelsnaam se produkte hou of ‘n diens sonder skroom aan ander mense sal voorstel, dan is dit ‘n aanduiding dat dié handelsnaam positief ervaar word. Dis alles te danke aan die werk wat ‘n handelsmerkbestuurder doen.
‘n Handelsmerkbestuurder is daarvoor verantwoordelik om te sorg dat verbruikers en kliënte ‘n positiewe konnotasie met die maatskappy vir wie hy werk se produkte of diens het. Dit word gedoen deur die boodskap wat die handelsnaam uitdra. Dink byvoorbeeld aan die handelsnaam Coke – mense assosieer dit met geluk en samesyn; alles te danke aan slim bemarking wat die handelsmerkbestuurder en sy span doen.
Daniel Hugo werk al die afgelope jaar as die handelsmerkbestuurder vir ‘n bekende motormaatskappy. “Ek werk as deel van ‘n bemarkingspan wat moet seker maak dat die korrekte boodskap aan kliënte oorgedra word en dat, as iemand dink daaraan om ‘n motor te koop, ons handelsnaam eerste in hul gedagtes opkom,” verduidelik hy. “Daar is sterk kompetisie in die motorbedryf in Suid-Afrika, dus moet ons heeltyd kreatief en innoverend dink.”
OPLEIDING Aangesien ‘n handelsmerkbestuurder betrokke is by die bemarking van ‘n produk of diens, is ‘n graad in bemarking van groot waarde. Die meeste kolleges en universiteite bied BA-grade in bemarking aan, waarin studente leer van al die verskillende aspekte van bemarking. Dit help dat studente uiteindelik ‘n geheelbeeld van die vak het en dus aan die einde van die kursus kan besluit in watter deel van bemarking hulle wil spesialiseer.
Sommige handelsmerkbestuurders het egter net ‘n kursus in bemarking gedoen en baie ervaring as ‘n bemarkingsassistent of by ‘n reklame-agentskap opgedoen voordat hulle die werk van ‘n handelsmerkbestuurder gekry het.
Daniel is juis só ‘n persoon wat nie ‘n graad in bemarking het nie: “Ek het ‘n bemarkingskursus by Vega School gedoen (dié instansie bied kursusse in verskeie bemarkingsvelde aan). Daarna het ek vir ses jaar by verskillende reklame-agentskappe gewerk,” vertel hy. “Ek glo dat ek in hierdie ses jaar die nodige ervaring opgedoen het om uiteindelik die werk van ‘n handelsmerkbestuurder te kan doen.”
INKOMSTE ‘n Persoon wat as ‘n handelsmerkbestuurder van ‘n maatskappy aangestel word, het gewoonlik, soos Daniel, sy pad van onder af op gewerk. Dus, nadat jy studeer het, moet jy gereed wees om vir ‘n paar jaar eers ervaring op te doen.
Wanneer jy aangestel word as ‘n handelsmerkbestuurder, kan jy verwag om ‘n goeie salaris te verdien, aangesien dit ‘n middel- tot seniorposisie is. “Toe ek aangestel is, was my beginsalaris R25 000 per maand,” verduidelik Daniel. “Binne ses maande het ek ‘n verhoging gekry en tans verdien ek R28 000. Ek weet egter van handelsmerkbestuurders wat al ‘n paar jaar vir dieselfde maatskappy werk en tot R35 000 per maand verdien.”
VOORDELE As jy daarop toegespits is om kreatief en innoverend te dink, sal die werk van ‘n handelsmerkbestuurder jou elke dag stimuleer. “Daar gaan nie ‘n dag verby wat ek nie aan nuwe konsepte dink en daaraan werk om lewe te gee aan hierdie konsepte nie,” sê Daniel. “Dis boonop wonderlik om met ‘n fantastiese, dinamiese span te werk wat breinkrag en talent saamspan om met die beste moontlike planne vorendag te kom.”
‘n Handelsmerkbestuurder het meestal vrye teuels om produkte en dienste optimaal te bemark. Geen bemarkingsveldtog mag dieselfde lyk nie en daarom sal daar nooit ‘n vervelige oomblik in hierdie beroep wees nie.
Daar is ook beslis die moontlikheid vir groei in dié rigting – omdat hy ervaring in bemarking en ook die nodige kwalifikasie het, is die volgende stap dikwels om aangestel te word as bemarkingsbestuurder.
NADELE Alhoewel dit wonderlik is om altyd kreatief en innoverend te moet dink, word ‘n handelsmerkbestuurder en sy span dikwels onder druk geplaas om met unieke veldtogte vorendag te kom.
“Die werk vereis ook baie verantwoordelikheid en daar is tye wat jy ekstra ure moet insit om seker te maak jy bly ‘n paar treë voor die kompetisie,” meen Daniel.
RAAD
· Dis sonder twyfel van kardinale belang dat jy kreatief en innoverend moet kan dink.
· Analitiese denke is belangrik om te kan bepaal wat ‘n produk of diens vir die kliënte moet wees en hoe om die korrekte boodskap aan hulle oor te dra.
· Begrip vir die besigheid en die rigting wat ‘n maatskappy wil inslaan, is noodsaaklik.
· Om binne ‘n begroting te bly, is een van die grootste uitdagings, maar iets wat ‘n handelsmerkbestuurder moet weet hoe om te doen.
· Gedurige navorsing oor neigings in die betrokke bedryf en bemarkingsmetodes is belangrik.
KONTAK
-AAA School of Advertising: www.aaaschool.co.za
-Vega School: www.vegaschool.com
-Wits Business School: www.wbs.ac.za
-Brandschool: www.brandschool.co.za
-South African School of Business (SACOB): www.sacob.com
-Universiteit van Johannesburg: www.uj.ac.za
-Universiteit van Kaapstad: www.uct.ac.za
-Universiteit van Pretoria: www.up.ac.za
-Universiteit van Stellenbosch: www.sun.ac.za
-Universiteit van Suid-Afrika (Unisa): www.unisa.ac.za