’n Aanleg vir syfers kan jou ver bring in dié beroep
Lindi Herbst
’n Maatskappy se doelwit is om geld te maak. Om dit te kan doen, is dit belangrik om ’n produk te verkoop of ’n diens te lewer, maar nog belangriker is dat die maatskappy se finansies korrek bestuur word. Daarom is dit belangrik dat ’n goeie finansiële bestuurder aangestel word om hierdie belangrike verantwoordelikheid te dra.
Só ’n persoon het ‘n finansiële span, maar uiteindelik is dit hy of sy wat besluite neem en saam met die bestuurspan raad gee oor belangrike kwessies, soos die inkomste, beleggings, aankope en salarisse.
Chris Nolte (45) werk as ’n finansiële bestuurder by ‘n maatskappy in Rosebank. Hy beklee die pos al die afgelope drie jaar – voor dit het hy dieselfde posisie by ’n ander maatskappy beklee.
“My werk behels dat ek die finansiële span van die maatskappy bestuur. Ek vergader gereeld met die bestuurspan oor finansiële kwessies en moet finansiële verslae voorberei,” verduidelik hy. “Dan moet ek natuurlik ook kyk hoe om kostes van die maatskappy te verminder om sodoende te verseker dat die maatskappy meer winsgewend kan wees.”
OPLEIDING “Die beste sal wees om ’n graad in BCom Bestuurswetenskappe, BCom Bestuursrekenmeesterskap of BCom Finansiële Rekenmeesterskap te studeer,” is Chris se aanbeveling. “Jy kan ook met ’n BA graad in ekonomie of rekeningkunde begin en daarna verder studeer.”
Dit word ook aanbeveel om ’n nagraadse kwalifikasie agter jou naam te kry – ’n honneursgraad en selfs meestersgraad sal verseker dat jy ’n beter kans het om die werk te kry waarvoor jy aansoek doen. “Ek het ‘n graad in BCom Finansiële Rekenmeesterskap en daarna my honneurs- en meestersgraad gedoen,” meen Chris. “Ek dink definitief dit lyk indrukwekkender op jou CV as net ’n graad en met ‘n nagraadse kwalifikasie leer jy net soveel meer om jou op die werksomgewing voor te berei.”
Om ’n finansiële bestuurder te word, verg toewyding – jy gaan nie by jou eerste werk in dié posisie aangestel word nie. Jy sal waarskynlik eers vir ’n hele paar jaar in die finansiële bedryf werk om ervaring op te doen. Chris het oor ’n tydperk van tien jaar in twee verskillende maatskappye se finansiële departemente gewerk, voordat hy die geleentheid gekry het om die pos van finansiële bestuurder te beklee.
“Die ervaring wat ek opgedoen het alvorens ek ’n finansiële bestuurder geword het, is van onskatbare waarde vir my,” meen hy. “Ek moes eers heelwat ervaring en vaardighede in die werksplek opdoen rakende finansies, wetgewing, belasting en dies meer, voordat ek werklik gereed was om ’n finansiële bestuurder te wees.”
As jy ’n paar jaar as ’n finansiële bestuurder gewerk het en die nodige ervaring opgedoen het, is die natuurlike stap om die hoof- finansiële beampte te word. Iemand wat hierdie posisie beklee, het gewoonlik ’n meestersgraad of MBA agter sy naam.
INKOMSTE Die gemiddelde salaris van ’n finansiële bestuurder is R45 000 tot R55 000 per maand, afhangende van jou ervaring. “As jy in hierdie posisie vir ’n groot maatskappy werk, is daar soms ook ander voordele, soos ’n jaarlikse bonus, aandele in die maatskappy, pensioen en medies,” verduidelik Chris.
VOORDELE Een van die groot voordele van hierdie beroep is die goeie inkomste. Finansiële bestuurders is ook in groot aanvraag wêreldwyd. As jy dus genoeg ervaring het, sal jy nie sommer sukkel om werk te kry nie.
NADELE Soos reeds genoem, verg dit baie toewyding en uithouvermoë om uiteindelik die posisie van finansiële bestuurder in ’n maatskappy te beklee – dit kan enigiets van sewe tot tien jaar neem. Dit is ook ’n baie komplekse beroep waar daar nie plek vir foute is nie. Jy moet byvoorbeeld heeltyd op hoogte bly van veranderende wetgewing en die verantwoordelikheid van ’n maatskappy se finansiële welstand rus op jou. Dit is dus ’n baie stresvolle werk, wat soms lang vergaderings beteken.
RAAD
- Syfers en finansies moet een van jou passies wees.
- As jy graag ’n finansiële bestuurder wil word, maar tans net ’n finansiële posisie beklee, maak seker jy bly op hoogte van finansiële kwessies, veranderende wetgewing en veranderings in die bedryf. Bly op hoogte van ontwikkelende tegnologie.
- ’n Finansiële bestuurder moet ook begrip hê van die algehele sakepraktyk – wat in ander departemente gebeur en hoe hierdie departemente funksioneer.
- ’n Finansiële bestuurder bestuur ’n span, dus is leierskaps – en kommunikasievaardighede baie belangrik.
- Strategiese denke vorm die middelpunt van finansiële bestuur, so maak seker jy beskik oor die vermoë om strategies te dink.
KONTAK
- College SA: www.collegesa.co.za
- Universiteit Stellenbosch: www.maties.com
- Universiteit van Potchefstroom: www.nwu.ac.za
- Universiteit van Kaapstad: www.uct.ac.za
- Universiteit van Pretoria: www.up.ac.za
- Universiteit van die Vrystaat: www.ufs.ac.za
- Universiteit van die Witwatersrand: www.wits.ac.za
- UNISA: www.unisa.ac.za