Welkom in die wêreld van elektronika.
Lindi Herbst
As jy die eerste keer hoor wat die werk van ’n elektroniese ingenieur behels, kan dit ingewikkeld klink, maar as elektrisiteit en elektroniese toestelle jou fassineer, lees gerus verder, want jy mag dalk net belangstel om dit jou werk te maak.
Moet egter nie die werk van ’n elektriese en elektroniese ingenieur verwar nie. Alhoewel albei in dieselfde bedryf werk, kan daar ’n onderskeid getref word in wat hulle doen: ’n elektriese ingenieur is verantwoordelik vir die opwekking, verspreiding en toepassing van elektriese energie. ’n Elektroniese ingenieur is egter verantwoordelik vir die ontwerp, vervaardiging en instandhouding van elektriese stelsels. Hulle toets en ontwikkel ook data, wat op die beurt weer toegepas word in inligtings- en bestuurstelsels. Hul werk behels ook die verwerking van elektriese seine deur digitale of analoogmetodes, en die aanwending daarvan in beheer- of metingsbane.
Dis baie belangrik vir hulle om op hoogte te bly van die nuutste ontwikkeling, sodat hulle nuwe, verbeterde stelsels, toerusting en tegnieke kan ontwikkel.
Elektroniese ingenieurs word benodig in alle sektore van die samelewing – van kommunikasie en navigasie tot die vervoer en vermaaklikheidsbedryf. Hulle speel ook ’n belangrike rol in spoorvervoer, waterpompstelsels en telekommunikasie, maar ook veral in nuwe kragbesparingsmetodes, byvoorbeeld sonkragenergie, wat al hoe belangriker vir Suid-Afrika word met die toenemende kragkrisis.
Dewald du Preez werk al die afgelope sewe jaar as ’n elektroniese ingenieur vir ’n maatskappy wat elektroniese borde vervaardig. Dié borde word, byvoorbeeld, gebruik by treinstasies en lughawens om die vertrek- en aankomstye aan te kondig, by krieket- en rugbystadions om die telling te wys en in winkels, om aan te kondig wanneer die volgende kliënt kan betaal. Die maatskappy is ook besig om alternatiewe vir krag te oorweeg, naamlik sonkragpanele. Hy is betrokke by die toetsing daarvan.
Hy vertel meer van sy beroep.
Opleiding
As jy dit oorweeg om ’n elektroniese ingenieur te word, moet jy reeds op skool wiskunde en fisiese wetenskap as vakke neem. Vakke soos inligtingstegnologie en elektriese tegnologie word aanbeveel.
“Meeste universiteite bied ’n vierjaar- BEng-graad in elektriese ingenieurswese aan. Teoretiese klasse word aangebied, sowel as praktiese sessies in die laboratorium. ’n Driejaar nasionale diploma in elektriese ingenieurswese word by ’n Universiteit van Tegnologie aangebied,” verduidelik Dewald.
“Tydens ’n diploma word daar hoofsaaklik gefokus op praktiese ondervinding nadat al die nodige teorie gedek is. Ek het ook in my finale jaar van my diploma by ‘n maatskappy gewerk waar ek ondervinding opgedoen het as ‘n elektroniese ingenieur.”
Inkomste
Ingenieurs in Suid-Afrika is oor die algemeen gesog en ’n elektroniese ingenieur is nie ’n uitsondering nie. “Die aanvangsalaris is nie te watwonders nie – ek het begin met ’n salaris van R8 000, maar sedertdien het my salaris baie gegroei. Jou salaris sal ook afhang in watter bedryf jy is – dit kan enigiets van R13 000–R55 000 wees.”
Voordele
’n Elektroniese ingenieur is gelukkig in die sin dat hy in bykans enige bedryf kan werk omdat sy dienste amper oral benodig word. Dus kan hy self besluit in watter bedryf sy belangstelling lê en daarin werk.
“Ek hou van nature daarvan om probleme op te los en dis presies wat ek doen daagliks in my werk. Ek kry die geleentheid om kreatief te wees en om ’n verskeidenheid van uitdagende projekte aan te pak,” meen Dewald.
Ingenieurswese is ook een beste betaalde beroepe in Suid-Afrika, dus as jy bereid is om hard te werk en onder te begin, sal jy sommer vinnig jou pad boontoe werk en binnekort ’n stewige salaris kan verdien.
Nadele
Ingenieurswese is egter ook bekend vir die lang werksure omdat dit dikwels lank neem om projekte af te handel binne die gegewe tydperk. Dit is ook belangrik vir ingenieurs om konstant op hoogte te bly van tegnologiese ontwikkelinge in hul veld.
Raad
• As jy graag ’n elektroniese ingenieur wil word, moet jy inisiatief kan neem en goed met probleemoplossing kan wees.
• Jy moet ook ’n redelik goeie wiskundige en wetenskaplike aanleg hê – en natuurlik daarvan hou, want jy gaan elke dag van jou lewe daarmee weg.
• Analitiese en logiese denke is ’n moet.
• Jy sal dikwels alleen aan ’n projek werk, dus is selfdissipline baie belangrik – jy moet ook onafhanklik en getrou kan werk.
• Konstante verandering is deel van die ingenieurswese, so maak seker jy sal dit kan hanteer.
Kontak
• Universiteit van Witwatersrand: www.eie.wits.ac.za
• Universiteit van Kaapstad: www.ee.uct.ac.za
• Unisa: www.unisa.ac.za
• Universiteit van Johannesburg: www.uj.ac.za
• Damelin: www.damelin.co.za
• Valsbaai Kollege: www.falsebaycollege.co.za
• Tswane Universiteit van Tegnologie: www.tut.ac.za
• Ingenieursraad van Suid-Afrika (IRSA/ECSA): www.saili.co.za