Die beloning is groot as jy bereid is om hard te werk
LINDI HERBST
Die beloning is groot as jy bereid is om hard te werk Deur Lindi HerBst
Wanneer studente hul graad ontvang het, studeer sommige van hulle verder om ’n honneurs-, meesters- of selfs doktorsgraad te behaal en ander begin werk soek. Daar is egter ’n ander opsie – om self ’n dosent te word. Dosente is vir die onderrig van studente verantwoordelik, hetsy op universiteit, ’n technikon of kollege. Hul werk behels die ontwikkeling, samestelling en merk van studiemateriaal, opdragte en eksamens. Dikwels begin studente eers as tutors en navorsingsassistente, voordat hulle ’n dosent word. Carmia Korsten is ’n nagraadse meestersgraadstudent en navorsingsassistent. Sy gee ook klas vir eerstejaarstudente in Afrikaans en Engels. “Ek neem dit stap vir stap – ek het begin as tutor en navorsingsassistent en hoop om uiteindelik ’n dosent te wees,” sê sy.
VOOR- EN NADELE As jy nog ’n tutor of navorsingsassistent is, is die grootste voordeel volgens Carmia dat dit nie ’n tipiese kantoorwerk (van agt tot vyf) is nie en dat jy grootliks kan kom en gaan soos jy wil. “Die lees- en navorsingswerk is ook baie interessant en ek het baie dinge geleer,” meen Carmia. Vir haar is die wete dat sy studente help ’n baie groot beloning vir die harde werk wat sy insit. “’n Mens raak soms gefrustreerd en oorweldig, maar dis my plig om studente op te voed en te help en voor te berei op wat vorentoe in hul lewe wag.” ’n Groot voordeel vir dosente is dat hulle aan die voorpunt van ontwikkeling in hul vakgebied is. Hulle kan ook besluit waaroor hulle navorsing wil doen en wat hul spesialisveld gaan wees. Hulle is ook vry om deeltyds konsultasiewerk te doen en word sodoende aan die mark verbind. Die minder lekker deel van die werk is die lang werksure. “Party dae werk ’n mens 12 tot 14 uur, afhangende van die hoeveelheid merkwerk en ander werk wat jy moet afhandel,” vertel sy. As ’n dosent het jy ook gewoonlik ’n relatiewe kort tyd om baie vraestelle te merk. “Die merkwerk kry my somtyds onder, maar as een student briljant gevaar het, is dit die moeite werd,” sê sy. Die navorsing en baie leeswerk, wat die grootste deel van die werk uitmaak, is lekker, maar dit kan ook baie veeleisend raak.
INKOMSTE As jy beoog om ’n dosent te word, maar as ’n tutor begin werk, kan jy verwag om R100 tot R120 per les te verdien. As jy ook as navorsingsassistent werk, kan jy ook ’n redelike goeie salaris verwag. “Ek is in 2011 tussen R10 000 en R20 000 per maand vir my werk as navorsingsassistent betaal,” sê Carmia. As jy ’n volwaardige dosent is, kan jy ’n gemiddelde salaris van R20 000 verwag, afhangende van jou senioriteit, waar jy klas gee en die vakrigting waarin jy is.
OPLEIDING Om ’n dosent in ’n spesifieke vak te word, moet jy deeglike kennis en ervaring in die vakgebied hê. Jy benodig ook ’n graad in die vak waarin jy onderrig, sowel as ten minste twee jaar ondervinding om as ’n junior dosent te kwalifiseer. Om ’n dosent te word, moet jy ’n honneursgraad in jou vakgebied hê en ’n meestersgraad as jy ’n senior dosent wil wees. Daar is wel spesifikasies vir sekere vakrigtings. As jy in rekeningkunde wil klas gee, moet jy byvoorbeeld jou leerlingrekenmeesterskap voltooi het en ’n geregistreerde rekenmeester wees. Carmia het ’n BA Tale (Afrikaans/ Nederlands, Engels en Duits) gedoen en daarna ’n honneursgraad in Afrikaans/ Nederlands en Engels. Sy het ook ’n kursus in TEFL (Teaching English as a Foreign Language), sowel as ’n nagraadse sertifikaat in onderwys gedoen.
RAAD n Jy moet hare op jou tande hê om daagliks met studente te doen te hê, veral as die werk moeilik is of die studente onwillig is om te leer! n As jy nie van lees hou nie en nie graag navorsing en administratiewe werk doen nie, is hierdie werk nie vir jou nie. Jy moet bereid wees om hard te werk as jy goeie resultate wil hê. n Jy gaan dalk nie baie ryk word nie, maar jy word verryk wat betref die ondervinding en die bydrae wat jy tot die studente se opvoeding maak. n As jy ’n dosent wil word, moet jy eienskappe van ’n introvert sowel as ekstrovert hê. As jy artikels moet skryf, gaan jy lank afgesonder wees, tog moet jy ook met gemak voor ’n groot klas kan praat. n Omdat ’n dosent se werk baie navorsing verg, moet jy leergierig wees en graag meer oor onderwerpe in jou vakgebied wil leer. n Jy moet oor selfdissipline beskik omdat niemand oor jou skouer gaan loer en kyk of jy jou werk en die nodige navorsing doen nie. n Vaardighede waaroor jy as dosent moet beskik, sluit in beplanning, tydbestuur, sowel as kommunikasievaardighede.
KONTAKTE Unisa: www.unisa.ac.za; Universiteit van die Witwatersrand: www.wits.ac.za; Universiteit van Pretoria: www.up.ac.za; Universiteit van Kaapstad: www.uct.ac.za; Universiteit van KwaZulu-Natal: www.ukzn.ac.za; Universiteit van Stellenbosch: www.sun. ac.za;Universiteit van die Vrystaat: www.ufs. ac.za; Universiteit van Limpopo (Medunsakampus): www.medunsa.ac.za Vk