’n Dermatoloog is ’n opgeleide medikus wat spesialiseer in die voorkoming, diagnosering en behandeling van velprobleme en –siektes. Soms is hy of sy ook betrokke by kosmetiese behandeling van plooie en haarverlies.
Lindi Herbst
Hy kan ook help om die voorkoms van spatare of vlekke op die vel te verminder deur laserterapie te gebruik. As jy besorg is oor ‘n moesie wat ’n ongewone voorkoms het, sal ’n dermatoloog ’n biopsie kan uitvoer om te bepaal of dit kankeragtig van aard is of nie. Indien dit wel is, sal hy betrokke wees by die verwydering van die moesie.
Dawie Jordaan werk tans as dermatoloog by ’n privaat kliniek in Bloemfontein. Hy het 12 jaar gelede gekwalifiseer in dié beroep. “Om ’n dermatoloog te word, verg baie harde werk en uithouvermoë, maar ek is bly dat ek nie moed opgegee het nie,” meen hy. “Dis ’n baie belonende beroep en ek geniet dit om daagliks mense te help.”
OPLEIDING Voordat jy opgewonde raak dat jy ’n dermatoloog wil word, moet jy seker maak dat jy wiskunde en wetenskap as skoolvakke het. Jy moet ook sorg dat jou punte goed is, want daar is slegs ’n sekere aantal studente wat gekeur word om medies te studeer – jou kanse om gekeur te word, is baie groter as jy goeie punte op skool behaal.
Indien jy een van die suksesvolle kandidate is wat gekeur word om, sal jy vereis word om ’n BA-graad in geneeskunde en in chirurgie (MBChB) te doen. Hierdie graad word by die meeste universiteite in Suid-Afrika aangebied.
Dawie meen dat jy jouself moet gereed maak vir ’n hele paar jaar van studies. “Die teoretiese opleiding duur vyf jaar, waarna jy ‘n internskap van ’n jaar moet voltooi. Daarna volg praktiese werk by ‘n hospitaal vir ’n jaar,” verduidelik hy. “Dan volg nagraadse studies, waartydens jy as ’n dermatoloog spesialiseer. Voordat jy egter kan spesialiseer in dermatologie, moet jy al twee jaar ’n MBChB-graad hê en geregistreerd wees as ’n mediese dokter by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) vir ’n jaar.
Nagraadse studies behels ’n meestersgraad in medisyne wat vier jaar duur. Wanneer jy die vier jaar voltooi het, moet jy ’n eksamen aflê om as ’n spesialis te kan kwalifiseer. Daarna kan jy registreer as ’n dermatoloog by die Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad.
INKOMSTE Al die harde werk tydens jou studies sal uiteindelik die moeite werd wees as jy eers begin werk, want ’n dermatoloog verdien ’n goeie salaris. Iemand wat so pas begin werk het, kan reeds tot R20 000 per maand verdien, terwyl ’n dermatoloog met meer ervaring tot R65 000 per maand kan verdien. “Die salaris hang natuurlik ook af of jy ’n privaat praktyk besit en of jy vir ’n instansie werk,” verduidelik Dawie. “Elkeen het sy voor- en nadele, maar as jy privaat werk en heelwat pasiënte het, kan jy ’n goeie inkomste verdien. Jou inkomste hang ook af van die soort prosedures wat jy doen – hoe gekompliseerd en dus hoe duur dit is.”
VOORDELE Soos reeds genoem, kan ’n gekwalifiseerde dermatoloog verwag om ’n goeie salaris te verdien. Dermatoloë is ook plaaslik en internasionaal in hoë aanvraag, dus sal jy enige plek redelik maklik werk kry. “Alhoewel die salaris goed is, glo ek dat almal ’n werk moet beklee waarvan hulle hou en wat hulle met passie kan uitvoer,” meen Dawie. “Ek geniet my werk geweldig omdat ek graag nuwe mense ontmoet en daarvan hou om hulle te help. Elke dag is ook ’n uitdaging – die probleme wat ek behandel wissel van middelmatig tot baie gekompliseerd. Dit sorg dat daar nie ’n enkele dag is wat vervelig is nie.”
NADELE Benewens die vele jare van studies en opleiding, waarsku dat dermatologie ’n uitdagende werk is. “’n Dermatoloog het dikwels te doen met velprobleme en –kondisies wat nie maklik behandel kan word nie. Soms is daar ook moeilike pasiënte, wat my werk ook ’n uitdaging maak,” verduidelik Dawie. “Daarbenewens moet jy heeltyd op hoogte bly van die nuutste ontwikkeling in dermatologie en verbandhoudende velde, om sodoende die beste moontlike behandeling vir jou pasiënte te kan gee.”
RAAD
· ’n Belangstelling in medisyne en gesondheid is die nommereenvereiste as jy dit oorweeg om die mediese veld te betree.
· Uithouvermoë en ’n wil om te presteer sal jou help deur die vele jare van studies
· Goeie organisering, ’n sin van verantwoordelikheid, deeglikheid en empatie is van die belangrikste eienskappe waaroor ’n dermatoloog moet beskik.
KONTAK
www.maties.com, www.uct.ac.za, www.up.ac.za, www.uovs.ac.za, www.wits.ac.za