Leer hier meer oor ‘n brandweerbeampte se beroep
Lindi Herbst
As kind het jy waarskynlik op ‘n skooluitstappie na die brandweerstasie gegaan. Of jy het hulle al op TV gesien – die mense in die groot oorpakke wat mense vanuit ‘n brandende gebou red en met ‘n reusetuinslang die vuur blus. Dit mag nou wel na ‘n baie opwindende beroep lyk, maar dis allesbehalwe maklik om ‘n brandweerbeampte te wees.
Werner Nel is ‘n opgeleide brandweerbeampte wat al van jongs af daarvan droom om dié beroep te volg. “Die brandweerstasie was oorkant ons huis en ek het my altyd aan die groot rooi brandweerwaens verkyk,” vertel hy. “Dit was altyd opwindend as die brandweerwaens met hul loeiende sirenes verbygejaag het. Ek het toe al besluit dat ek eendag ‘n brandweerbeampte wil word.”
Brandweerbeamptes blus nie net vure nie – hulle word ook vir reddingswerk uitgeroep en om by motorongelukke te help.
OPLEIDING
Jy hoef nie ‘n graad te hê om die beroep te kan volg nie en solank jy ouer as 18 is en gematrikuleer het, kan jy moontlik kwalifiseer.
Verskeie instellings bied opleidingskursusse aan wat teoretiese en praktiese opleiding insluit. Die Sentrale Universiteit van Tegnologie in die Vrystaat bied ‘n deeltydse nasionale diploma van drie jaar in vuurtegnologie aan, terwyl die Tshwane Universiteit van Tegnologie ook ‘n soortgelyke diploma aanbied met ‘n ekstra jaar wat jou ‘n BTech- graad in vuurtegnologie sal gee.
“Dis uiters belangrik dat brandweerbeamptes topfiks moet wees om hul werk doeltreffend te verrig,” verduidelik Werner. “As jy dus een wil word, raak solank goeie vriende met oefening!”
Gekwalifiseerde brandweerbeamptes woon gereeld lesings, demonstrasies en praktiese opleiding by. “Brandweerbeamptes kan nooit dink dat hulle genoeg weet nie – voortdurende opleiding en demonstrasies hou ons op ons tone en verseker dat ons voorbereid is om in verskeie situasies op te tree,” meen Werner.
INKOMSTE
As jy graag ‘n brandweerbeampte wil word, moet die salaris nie die rede moet wees dat jy die werk wil doen nie, maar eerder ‘n passie om lewens te red en ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Die basiese salaris is ongeveer R9 000, maar dit wissel na gelang van ondervinding. Hoe meer kursusse jy bywoon en opleiding jy ontvang, hoe groter is die kans op ‘n salarisverhoging.
VOORDELE
Hierdie is ‘n opwindende beroep waar jy nooit verveeld sal wees nie!
Werner put ook baie bevrediging uit sy beroep. “Al kan ‘n mens nie elke lewe red nie, is dit altyd so ‘n wonderlike gevoel om te weet jy het lewens gered. Dit beteken ook vir ons baie as mense ons bedank vir wat ons gedoen het – dit maak die moeilike dae en lang werksure die moeite werd. Dan weet ek dat ek ‘n verskil maak.”
NADELE
Werner erken die lang werksure kan soms erg wees. “Ons werk gewoonlik 12-uur-skofte en maak beurte om snags aan diens te wees,” verduidelik hy. “As jy ‘n gesin het, is dit moeilik omdat jy hul lewens ook omverwerp. Daar is ook tye wanneer ek in ‘n noodgeval uitgeroep word en dan moet ek onmiddellik reageer. Gelukkig verstaan my gesin dis die aard van my werk.”
Die ongelukstonele is iets waaraan ‘n mens nie sommer gewoond raak nie. “Al werk ek al ses jaar as ‘n brandweerbeampte ontstel dit my steeds as ek met beseerde mense en lyke te doen kry. ‘n Mens voel dikwels magteloos omdat jy voel jy kon meer gedoen het om iemand te red. Maar op die ou einde doen ons ook net ons bes.”
RAAD
- ‘n Brandweerbeampte moet te alle tye op ‘n noodgeval voorbereid wees.
- Brandweerbeamptes ondergaan streng fisieke toetse sowel as mediese keuring voordat hulle kan kwalifiseer. Dus is dit raadsaam om ‘n gesonde lewenstyl te handhaaf.
- Let wel dat jy nie net brande gaan bestry nie – kennis van reddingswerk en die toepassing van noodhulp is ook ‘n belangrike deel van die werk.
- Dis ‘n baie stresvolle werk. As jy maklik angstig word en nie onder druk kan funksioneer nie, is hierdie dalk nie die beroep vir jou nie.
- Brandweerbeamptes kry dikwels met grusame tonele te doen en moet emosioneel sterk genoeg wees om dit te kan hanteer.
- Dis ‘n baie gevaarlike beroep. Maak seker dat jy bereid is om hierdie risiko te neem.
- As jy ‘n brandweerbeampte wil word, moet jy goed in ‘n span kan werk en in noodgevalle kalm kan bly. Jy moet ook nie bang wees vir klein ruimtes of hoogtes nie.
KONTAK
Suid-Afrikaanse nooddienste-instituut: 011 660 5672 of besoek www.saesi.com
SANDF Fire Training School – www.af.mil.za/bases/gymnasium/fire.htm