Belangrike ontdekkings in die stryd teen kanker, MIV/vigs en biotegnologie (waar biologiese materiaal in brandstof omgeskakel word) is alles die werk van biochemici.
Lindi Herbst
Biochemie is ’n wetenskap wat met die boublokke en komponente van lewende organismes sowel as hoe hulle funksioneer en hul fisieke kwaliteite te doen het. Die doel van biochemici is om chemiese komponente te identifiseer en te beskryf, maar ook om te ontdek hoe hierdie komponente optree en op mekaar reageer, wat tot voordeel tot die voorbestaan van lewende organismes kan wees.
Een van die menigte voorbeelde van die werk van ’n biochemikus is die ontdekking van vitamiene. Biochemici is ook by die ontwikkeling van antibiotika en die toetsing van die menslike liggaam se reaksie op sekere medisyne betrokke.
As hierdie jou interesseer, lees gerus voort, want dit is dan ’n loopbaan wat jy kan oorweeg. Wees egter gewaarsku – hierdie is ’n beroep waarvoor jy baie passie moet hê en wat harde werk verg. Jy moet besonder goed op hoërskool en universiteit presteer om as ’n biochemikus te kan kwalifiseer. Maar vir ’n slimkop vir wie biologie en chemie breinkos is, sal hierdie die ideale loopbaan wees.
Die aard van die werk verskil, afhangende van die veld wat jy gekies het om in te werk. Biotegnologie word in diverse velde toegepas. “Daar is party biochemici wat navorsing doen oor nuwe produkte of maniere om afvalmateriaal weer te gebruik,” verduidelik Simon du Toit, wat twee jaar gelede as ’n biochemikus gekwalifiseer het. “Dan is daar dié wat by die kontrole en suiwering van kos betrokke is. Ek is tans by navorsing van beter (en meer natuurlike) metodes vir watersuiwering betrokke.”
OPLEIDING As jy daaraan dink om ’n biochemikus te word, moet jy reeds op hoërskool hard werk en seker maak dat jy wiskunde en wetenskap as vakke neem. Daarna moet jy ’n BSc-graad in biochemie aan ‘n universiteit studeer – dit sal jou drie jaar voltyds of vier jaar deeltyds neem om die graad te voltooi.
“Omdat biochemie so ’n wye spektrum dek, sou ek dit aanbeveel dat jy daarna ’n honneursgraad doen,” meen Simon. “As jy graag ’n lektor wil word of hoë-vlak navorsing wil doen, moet jy ’n doktorsgraad agter jou naam hê.”
INKOMSTE Biochemici doen baanbrekerswerk wat mense se lewens verander en die lewensgehalte vir die bevolking verbeter, maar tog kry hulle nie die nodige erkenning, of inkomste, daarvoor nie. “As jy hierdie soort werk wil doen, moet passie en nie geld nie, jou dryfveer wees,” meen hy.
Die inkomste van ’n biochemikus hang af van die veld waarin jy werk, maar jy kan verwag om enigiets tussen R15 000 en R25 000 per maand betaal te word. “’n Lektor se salaris is ongeveer R25 000 – dit hang af of jy junior of senior is,” verduidelik Simon. “Iemand wat vryskut werk, se salaris sal ook verskil van ’n persoon wat voltyds vir ’n maatskappy werk. Dié persoon se salaris sal ook natuurlik weer verskil van iemand s’n wat vir die staat werk.”
VOORDELE ’n Biochemikus se werk wissel van dag tot dag en al is navorsing en administratiewe werk by tye eentonig, is daar genoeg verskeidenheid dat dit jou op jou tone sal hou. “Die werk is vir my belonend omdat ek weet die navorsing wat ek doen ‘n verskil in die mensdom se lewens kan maak – dalk nie nou dadelik nie, maar wel oor ’n paar jaar,” meen Simon.
Omdat biochemie so ’n belangrike deel is van soveel verskillende velde, kan biochemici besluit in watter veld hulle wil spesialiseer. En as jy besluit jy is lus om ’n ander veld te probeer, hoef jy net weer in daardie rigting op universiteitsvlak te spesialiseer. “Biochemie is ’n nimmereindigende leerskool – ek leer amper daagliks iets nuuts by,” vertel hy.
NADELE ’n Biochemikus moet baie presiese werk doen – daar is nie tyd vir agterlosigheid en foute nie. Een persoon se fout in die laboratorium kan dalk in die toekoms iemand se lewe kos. Dit gebeur ook soms dat ‘n biochemikus lang ure aan ‘n projek bestee, soms maande, en dan loop dit in ’n doodloopstraat uit, wat beteken dat die projek nie kan voortgaan nie. En dan verg die beroep natuurlik ook baie jare van studies as jy ’n senior posisie wil beklee. “Ek is tans deeltyds besig met my meestersgraad en sal daarna my doktorsgraad aanpak,” vertel Simon. “Dit kan soms langer as tien jaar neem om jou doktorsgraad te kry!”
RAAD
• Iemand wat in wetenskap, chemie en biologie belangstel, sal hierdie werk baie geniet.
• Uiterse konsentrasie word vir hierdie loopbaan vereis.
• Analitiese denke vorm ‘n groot deel van die werk.
• Geduld en uithouvermoë is baie belangrike eienskappe, omdat navorsing baie tyd en inspanning verg.
KONTAKTE:
www.collegesa.co.za, www.maties.com, www.nwu.ac.za,
www.uct.ac.za, www.up.ac.za, www.uovs.ac.za, www.wits.ac.za,
www.unisa.ac.za, www.sasbmb.org.za, www.saci.co.za