Lees meer oor die lewe van ‘n binnenshuise versierder
Lindi Herbst
Party mense het net daai aanvoeling vir watter elemente in ‘n vertrek by mekaar pas. Hulle weet net hoe om ‘n vertrek visueel pragtig te laat lyk. Sulke mense sal sonder twyfel uitstekende binnenshuise versierders wees.
Binnenshuise versierders se werk behels om die kreatiewe en tegniese elemente só te kombineer dat ‘n vertrek funksioneel en mooi lyk. Hulle fokus op die voorkoms van ‘n vertrek, insluitende die kleurskema, tekstuur, muurpapier, gordyne, vloere, ligte en meubels – dis hulle werk om te sorg dat al hierdie elemente by mekaar pas.
Die werk van ‘n binnenshuise versierder gaan ook hand aan hand met binnenshuise ontwerp, wat behels dat ‘n vertrek volgens kliënte se behoeftes uitgelê word. So sal die uitleg, dit wil sê lessenaar en ander meubels van ‘n sakeman se kantoor, baie verskil van dié van ‘n gastehuis. Dit hang alles af van wat die kliënt wil hê – die klem is dan op funksionaliteit.
Carien du Toit het die afgelope drie jaar haar eie binnenshuise versieringsmaatskappy. “In ‘n neutedop, is ‘n binnenshuise versierder se werk om ander mense se huise en kantore mooi te laat lyk. My kliënte wissel van gesinne wat nie tyd het (of weet hoe) om hul huis mooi te laat lyk nie, tot groot maatskappye wat die hulp van ‘n professionele persoon benodig om hul kantore netjies en professioneel te laat lyk.”
OPLEIDING Verskeie instellings in Suid-Afrika bied kursusse in binnenshuise versiering en ontwerp aan wat ‘n kort (drie maande) of langer tydperk (drie jaar) duur. Meestal word hierdie kursusse by onafhanklike instansies aangebied, maar daar is ook universiteite, byvoorbeeld Unisa en UJ (Universiteit van Johannesburg), wat ‘n graad in hierdie rigting aanbied.
‘n Kursus in binnenshuise versiering en ontwerp dek alles wat met die onderwerp verband hou – dit begin dikwels by die filosofie rondom binneshuise versiering en ontwerp, wat jou sal help om die wêreld van binnenshuise versiering beter te verstaan, sowel as die geskiedenis van versiering en argitektuur, om sodoende vir jou agtergrond oor die onderwerp te gee. Jy sal ook leer oor die beplanning van ruimte van ‘n vertrek, beligting, kleurskemas, die afwerking van vloere, mure en plafonne, sowel as verskillende materiale en teksture vir meubels. ‘n Belangrike element van die kursus is ook om te leer hoe om met kliënte te kommunikeer en na hul behoeftes te luister om sodoende in hul behoeftes te voorsien.
INKOMSTE As jy die vaardighede aangeleer het, is die volgende stap vir jou om te besluit of jy werk gaan soek by ‘n onderneming wat hierin spesialiseer en of jy jou eie onderneming wil begin. “Die meeste kursusse in dié rigting bied ‘n module aan wat studente die vaardighede leer om ‘n eie onderneming te begin,” vertel Carien. “Ek was huiwerig om na my studies my eie onderneming te begin – dis net soveel makliker om vir ‘n onderneming te werk. Maar met die hulp van ‘n paar vriende wat reeds hul eie ondernemings begin het, kon ek uiteindelik ook hierdie sprong neem.”
As jy besluit om dieselfde paadjie as Carien te volg, moet jy in gedagte hou dat ‘n eie onderneming behels dat jy ‘n kliëntebasis moet opbou en dat jou aanvanklike inkomste nie buitensporig sal wees nie. Onthou, jy kan nog ander uitgawes hê wat jy dalk moet dek, soos om ander werknemers te betaal. As jy egter ‘n goeie kliëntebasis opbou en deeglike bemarking doen, kan jy verwag om jou inkomste te sien groei.
Party mense maak eenmalig van die dienste van ‘n binnenshuise versierder gebruik, maar groot maatskappye kan kliënte word wat keer op keer terugkeer. “Gelukkige kliënte sal jou dienste ook vir hul vriende en kollegas aanbeveel, dus is die goue reël om elke keer die beste diens moontlik te lewer,” meen Carien.
As jy egter besluit om eerder by ‘n bestaande onderneming werk te soek, kan jy verwag om ‘n vaste salaris te verdien. Soms kan jy kommissie verdien, maar dis in uitsonderlike gevalle. Jy kan verwag om aanvanklik ‘n salaris van R8 000 tot R12 000 te verdien, afhangende van die grootte onderneming waar jy werk. ‘n Binnenshuise versierder met meer ervaring kan enigiets tussen R15 000 en R25 000 verdien.
VOORDELE “As binnenshuise versiering jou passie is, is daar min dinge so lekker as om nuwe projekte aan te pak en om die tevredenheid oor die eindresultaat op kliënte se gesigte te sien,” meen Carien. “Wanneer die kreatiwiteit my eers beetkry, dan verloor ek myself in ‘n projek.”
Die werk bied ook die geleentheid om nuwe mense te ontmoet met elke projek wat aangepak word. Jy sal ‘n wye verskeidenheid kliënte kry van verskillende agtergronde met uiteenlopende behoeftes ten opsigte van binnenshuise versiering, wat dit baie interessant maak. En vir diegene wat daarvan hou om hul kreatiwiteit uit te leef en nie daarvan hou om in ‘n kantoor vasgekeer te wees nie en eerder hul eie werksure wil bepaal, is hierdie die ideale werk!
NADELE Hoewel dit lekker is om nie vaste werkstye te hê nie, beteken dit dat jy soms langer ure moet werk. “Sommige kliënte gee ‘n spertyd van byvoorbeeld ‘n week,” vertel Carien. “Dit kos fyn beplanning en tydsbestuur om betyds klaar te wees en ja, soms moet ek tot laat in die aand werk om alles 100% gereed te kry.”
Kliënte se behoeftes verskil meestal soos dag en nag van mekaar. “Die een kliënt kan byvoorbeeld ‘n werkende ma wees wat die slaapkamers in haar huis wil oordoen, terwyl die volgende kliënt ‘n sakeman is wat die kantore van sy werksgebou meer professioneel wil laat lyk,” sê Carien. Dit is soms ‘n uitdaging om by elkeen se behoeftes aan te pas en seker te maak dat jy verstaan wat hulle wil hê.
Kliënte is ook nie altyd 100% tevrede met die eindresultaat nie, wat beteken dat jy van jou werk sal moet oor doen. “Hulle het dikwels ‘n sekere prentjie in hul kop van hoe dit moet lyk en as dit nie presies so lyk nie, is hulle ontevrede,” vertel sy. “Dan moet ek maar op my tande byt en die veranderinge aanbring.”
RAAD
• Goeie kommunikasievaardighede is belangrik as jy ‘n suksesvolle binnenshuise versierder wil wees. Jy moet deurlopend luister na wat die presiese behoeftes is van die kliënt en die vermoë hê om dit terug te kommunikeer om sodoende seker te maak daar’s duidelikheid oor verwagtinge van die projek.
• Geduld is ‘n eienskap wat goed te pas sal kom in jou werk. Met moeilike kliënte moet jy geduldig luister as hulle ontevrede is en bereid wees om die ekstra tyd te neem om reg te maak wat nie volgens hul smaak is nie.
• Tydsbestuur is veral belangrik in hierdie professie, omdat kliënte dikwels die projek binne ‘n sekere tydperk afgehandel wil hê. Jy moet die projek fyn kan beplan en bestuur om seker te maak jy haal die spertyd, sonder om enige aspek af te jaag.
• Jy het bemarkingsvaardighede nodig. Jy moet weet hoe en waar om bemarking te doen, sonder om onnodig geld te mors.
Besoek www.theinteriordesigninstitute.co.za; www.collegesa.co.za; www.inscape.co.za; www.thedecorschool.co.za;
www.theinteriordesigninstitute.co.za; www.unisa.ac.za en www.uj.ac.za
SOURCES
Verskaf