Het jy al ooit gewonder hoekom jou horlosie ‘n spesifieke kleur is, wie besluit watter klere in die verskillende winkels verkoop word en hoe daar besluit word op die ontwerp van ‘n produk se logo?
Lindi Herbst
Dit is nie net sommer per toeval dat produkte op TV geadverteer word en advertensieborde langs die pad opgerig word nie. Dit is alles deel van bemarking – die proses om bewustheid oor ‘n produk te skep. Hierdie produk kan ‘n produk wees of selfs iemand, soos ‘n akteur of sanger.
Die persoon wat verantwoordelik is vir bemarking staan bekend as ‘n bemarkingsbestuurder. Hy of sy het vele take wat op sy skouers rus – hy moenie net seker maak dat die publiek bewus is van die spesifieke produk, nie – hy is ook betrokke by die ontwikkeling van die produk. Dit sluit alles in – van advertensieveldtogte in die media (TV, tydskrifte en koerante), tot onderhoude, kompetisies en die bestuur van die beeld van die produk.
Lawrence du Toit (32) is die bemarkingsbestuurder van ‘n selfoonmaatskappy in Johannesburg. Hy is verantwoordelik vir die bemarking van nuwe selfone en selfoonpakkette.
OPLEIDING ‘n Goeie beginpunt sal wees om ‘n graad in bemarking by ‘n universiteit of kollege te doen. Lawrence het ‘n driejaarlange BA-bemarkingsgraad aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) gedoen, waarna hy sy ‘n honneursgraad in bemarking gedoen het. “’n Graad in bemarking dek alle aspekte van bemarking, dus kan jy uiteindelik besluit in watter bemarkingsrigting jy wil gaan,” sê hy. “As jy ook ‘n wye kennis oor bemarking het, kan jy verskeie bemarkingsektore in jou loopbaan betree.”
‘n Ander moontlikheid is ‘n korter kursus by ‘n kollege. Sekere kolleges bied ‘n jaar kursus aan, waarna jy ‘n diploma in bemarking verwerf. Andersins is daar ook instellings wat korter kursusse aanbied om ‘n oorsig in die veld te bied.
INKOMSTE Jou salaris sal van verskeie faktore afhanklik wees – in watter sektor jy werk, op watter vlak en die grootte van die maatskappy. Lawrence het as ‘n junior bemarkingsassistent begin – sy aanvanklike salaris was R10 000. “’n Redelike standaard salaris as jy die mark betree, in ‘n middelslag- tot groot maatskappy, is ongeveer R10 000-R12 000. Hoe meer ervaring jy opdoen, hoe hoër salaris kan jy verwag,” meen Lawrence. “Bemarkingsbestuurders by groot maatskappy kan enigiets tussen R40 000 en R60 000 verwag, maar die gemiddelde bemarkingsbestuurder se salaris is tussen R30 000 en R40 000.
VOORDELE Vir Lawrence is die lekkerste deel van die werk die uitdagings wat aan hom op ‘n daaglikse basis gestel word. “Ek het nooit tyd om verveeld te word nie. Daar is altyd ‘n nuwe projek om aan te pak – elk met sy eie probleme.” Hy beskou homself as ‘n kreatiewe mens en daarom is hy mal oor die feit dat die werk sy kreatiwiteit vrye teuels gee. “Ek moet die heeltyd aan vars, nuwe idees dink om ons produkte te bemark,” meen hy. “Mense raak so gou moeg vir dieselfde advertensies. Die uitdaging is om hul aandag te vang en te hou. En om dit te kan doen, moet ek dink aan buitengewone, buite-die-boks-idees, sodat hulle nie sommer die boodskap sal vergeet wat ek probeer oordra nie.”
Die loopbaangeleenthede vir ‘n bemarkingsbestuurder is eindeloos. Alle maatskappye behoort ‘n bemarkingsbestuurder te hê, so as jy voel dat jy die toppunt van die leer by een maatskappy bereik het, is daar altyd die moontlikheid om na ‘n ander maatskappy toe te gaan, waar daar weer nuwe uitdagings vir jou wag. “Ek het begin in die TV-bedryf as ‘n bemarkingsbestuurder toe die bemarking van ‘n winkelgroep behartig en tans is ek by ‘n selfoonmaatskappy. Elkeen het tot my wye kennis oor bemarking bygedra,” sê Lawrence.
NADELE Bemarkingsbestuurders word onder hewige druk geplaas om met kreatiewe konsepte vorendag te kom. Dit beteken dikwels lang ure om spertye betyds te haal. “Ek reis ongeveer ses keer ‘n jaar, om kliënte te ontmoet, advertensieveldtogte van stapel te stuur en om mediakonferensies by te woon,” vertel Lawrence. “Tans is ek nog eenlopend, so dit pla my nie baie nie, maar ek dink vir iemand met ‘n gesin, kan dit dalk problematies wees.”
Iemand wat ‘n loopbaan as ‘n bemarkingsbestuurder wil volg, moet bereid wees om uitdagings aan te pak en dit enduit te voer. “Projekte is dikwels uitgerek of ontwikkel in fases. Soms is daar ook verskeie projekte wat jy terselfdertyd moet hanteer,” verduidelik hy. “Dis belangrik om altyd op die huidige projekte gefokus te bly en om vir almal ewe veel aandag te gee.”
RAAD
Hierdie werk is vir ‘n kreatiewe mens wat oorloop van kreatiewe idees. Die kompetisie daarbuite is straf, jy moet aan die buitengewone kan dink, al voel dit asof daar geen meer oorspronklike bemarkingsidees is nie, want daar is altyd!
Om konseptueel te kan dink is net so belangrik as om kreatief te wees.
Goeie kommunikasie- en oorredingsvaardighede is baie belangrik. Jy gaan met baie mense te doen kry en jy sal met oortuiging jou idees aan hulle moet verkoop. Dit sluit in die bestuurders van ‘n maatskappy, wat intimiderend mag wees.
Besoek www.uj.ac.za,www.marketingtraining.co.za, www.aaaschool.co.za, www.intec.edu.za, www.wits.ac.za