Word ‘n bankier. Hier’s als wat jy moet weet.
Lindi Herbst
Ons word van jongs af geleer hoe om geld te spaar en slim met geld te werk. Jy het waarskynlik reeds as kind of jongmens jou eerste bankrekening gehad om geld in weg te sit.
’n Bankier se rol is om hierdie geld van jou veilig te bewaar en jou te help om dit te laat groei. Dit klink na ’n eenvoudige proses, maar dis eintlik baie kompleks, met baie mense wat elkeen ’n rol in hierdie proses vervul. As dit alles vir jou interessant klink en dalk ’n beroep is wat jy wil oorweeg, lê daar vir jou ’n baie opwindende moontlikhede voor.
’n Bankier kan verskeie rolle vervul – dit kan ’n bankteller wees, die persoon wat by kliëntediens werk of selfs die bankbestuurder. Die hoeveelheid opleiding wat jy ontvang het, jou ambisies en jou belangstelling sal bepaal watter tipe bankier jy is.
Bankteller of bankbestuurder?
’n Bankteller, byvoorbeeld, het geen naskoolse opleiding nodig nie en dis gewoonlik die plek waar jy in die bank sal begin. Daarteenoor is ’n bankbestuurder een van die hoogste posisies wat in die bank beklee kan word. Uiteindelik is alle bankiere se doelwit dieselfde – om te verseker dat ’n bank optimaal funksioneer.
Sonet du Plessis werk reeds sewe jaar by een van Suid-Afrika se grootste banke.
“Rekeningkunde en wiskunde was van my gunstelingvakke op skool, so niemand was verbaas toe ek ná skool besluit het om ’n BCom graad in bankwese te doen nie. Ná my studies het ek by die bank begin werk waar ek vandag nog is. Ek het by kliëntediens begin werk en vandag is ek ’n bankbestuurder.”
Opleiding
Die opleiding wat jy nodig het, hang af van die tipe bankier wat jy beoog om te word. Soos reeds genoem, het ’n bankteller nie ’n graad nodig nie, hoewel dit tot jou voordeel kan wees om ’n goeie kwalifikasie agter jou naam te hê. As jy ook ’n wiskunde-aanleg het, sal dit ook in jou guns tel. Banke het hul eie opleidingsentrums, waar voornemende banktellers in algemene bankprosedures en –dienste opgelei word.
As jy daarna streef om meer as net ’n bankteller te word, bied verskeie instansies BCom-grade in bankwese aan, insluitende Unisa, Noordwes-Universiteit, Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria. ‘n BCom-graad is ’n wyse besluit, omdat dit vir jou ’n idee gee van wat in die verskillende sektore in die bank gebeur.
Die Universiteit van Johannesburg is ook een van die instansies wat ’n nasionale diploma in bankwese aanbied. The Institute of Bankers bied ook verskeie diplomas aan, insluitende ’n sertifikaat in bankwese, sowel as sertifikate in spesialiteitsrigtings. Laasgenoemde word dikwels eers belangrik as jy ’n paar jaar in die bankwese gewerk het en verdere opleiding benodig.
Inkomste
Daar is verskeie faktore wat ’n bydrae lewer tot die salaris wat jy in die bankwese kan verwag, insluitende die hoeveelheid opleiding wat jy ontvang het en jou posisie in die bank.
“Iemand wat heel onder begin, soos ’n bankteller, kan ’n salaris van R5 000–R7 000 verwag. Hoe hoër jy opbeweeg in die bankwese, hoe beter inkomste kan jy verwag,” verduidelik Sonet.
“’n Rekening- of bankbestuurder se gemiddelde salaris is ongeveer R30 000 per maand, maar dit hang natuurlik af hoeveel jaar ondervinding jy het.”
Spesialisbankiere verdien heelwat meer as ander bankiere. Aktuarisse en geoktrooieerde rekenmeesters wat by die bank werk, kan tot R80 000 per maand verdien, selfs oor die R100 000 in sommige banke.
Voordele
’n Bankier, maak nie saak in watter sektor van die bank jy werk nie, kry met kliënte te doen, party meer as ander. So as jy daarvan hou om met mense te werk, sal jy dit geniet om ’n bankier te wees.
“Benewens die feit dat ek daarvan hou om met mense te werk, is dit vir my baie lekker om elke dag met syfers te werk,” sê Sonet. “’n Mens sou dink dat bankbestuurders heeldag net met mense werk, maar ek het ook baie papierwerk, wat met syfers te doen het.”
’n Groot voordeel om in die bankwese te werk, is dat jy baie goeie bankopsies kry, sowel as pensioen, medies en lewesversekering. Benewens dit is daar ook heelwat geleenthede vir groei, so as jy na ’n uitdaging op soek is, kan jy ’n kursus of diploma doen en dalk bevorder word. En die wonderlike ding van banke is dat mense dit altyd nodig gaan hê, so jy sal altyd van ’n werk verseker wees!
Nadele
Om met ander mense se geld te werk, kan uiters stresvol wees. “Geld is ’n sensitiewe kwessies vir die meeste mense, so as ’n transaksie verkeerd gaan of ’n transaksie nie afgehandel word presies soos hulle dit wil hê nie, kan hulle baie vinnig ongeskik en onredelik raak,” vertel Sonet. “Dit is nie altyd maklik om sulke kliënte te hanteer nie, maar ons doen dit tot die beste van ons vermoë.”
Die bankwese behels die hantering van groot bedrae geld, wat altyd heelwat risiko behels. Geldslenters (scams) is ook volop en skelms dink gereeld nuwe maniere uit om mense se geld uit hul bankrekenings te steel.
“Ons het natuurlik baie stelsels om teen gelddiefstal te help, maar dit bly ’n uitdaging vir ons,” verduidelik Sonet.
Raad
• ’n Persoon wat ’n aanleg vir syfers het en goed met geld kan werk, is geskik vir ’n werk in die bankwese.
• Rekenaarsvaardighede is baie belangrik, omdat die meeste bankprosesse nou deur rekenaars en ander tegnologie gedoen word.
• As jy beoog om ’n hoër posisie te beklee, moet jy bereid wees om die verantwoordelikheid van groot bedrae te neem.
• Geduld is ’n belangrike eienskap waaroor jy moet beskik – veral omdat jy waarskynlik gereeld met moeilike kliënte te doen gaan kry.
• Jy moet goed onder druk kan werk en kan konsentreer, omdat akkurate werk van kardinale belang is.
Meer inligting
• Noordwes-Universiteit: www.nwu.ac.za
• Die Universiteit van die Vrystaat: www.ufs.ac.za
• Die Universiteit van Pretoria: www.up.ac.za
• The Institute of Bankers: www.iob.co.za
• Die Universiteit van Johannesburg: www.uj.ac.za