Sekere mense het nou maar een maal ‘n slag met kinders. En hulle kan ‘n loopbaan daarvan maak.
Lindi Herbst
Sommige mense is dalk nog nie gereed vir kinders van hul eie nie, maar weet net hoe om vriende en familie se kinders te hanteer. Doeke omruil pla hulle nie en hulle hou daarvan om saam met kinders op ‘ ‘n uitstappie te gaan. As hierdie ‘n beskrywing is van jou, dan is daar ‘n beroep wat ideaal vir jou sal wees – as ‘n au pair.
‘n Au pair sien om na kinders, hetsy dit babas, peuters, kleuters of tieners is.
Hul take wissel van die gesin se behoeftes – party word slegs halfdag vereis wanneer die kinders van die skool afkom, om hulle met huiswerk te help, hulle op te pas totdat hul ouers van die werk afkom en om hulle na en van buitemuurse aktiwiteite te vervoer.
Ander werk weer voldag, waar hulle omsien na jonger kinders terwyl hul ouers werk. Hulle woon soms selfs by die gesin in die huis en gaan saam met hulle met vakansie om die kinders dan ook op te pas.
Lelanie Verster (27) werk al die afgelope agt jaar as ‘n au pair. Sy het al by drie gesinne gewerk.
“Nadat ek gematrikuleer het, was ek nie seker wat om te studeer nie,” vertel sy. “Ek het vir twee jaar sielkunde studeer, maar opgeskop omdat ek nie seker was dat dit die regte keuse was nie. ‘n Vriendin van my het sedert sy gematrikuleer het as ‘n au pair gewerk, en aangesien ek baie lief is vir kinders, voorgestel dat ek dit moet probeer.”
Die werk het haar soos ‘n handskoen gepas – sy het vir drie jaar halfdag na tweelingdogtertjies omgesien.
“Nadat die gesin geïmmigreer het, het ek ‘n sesjarige seuntjie vir vier jaar opgepas. Hulle het egter Kaap toe getrek en ek moes hulle met ‘n swaar hart vaarwel roep.
“Nou werk ek al vir ‘n jaar voltyds vir ‘n wonderlike familie met twee kinders, vier en ses jaar oud, in Pretoria. Ek woon in ‘n woonstel op hul erf en gaan ook saam met hulle met vakansie sodat die ouers tyd alleen saam tyd kan deurbring.”
Opleiding
Daar’s verskeie au pair-agentskappe in Suid-Afrika, wat opleiding in kindersorg verskaf en ook plasing van au pairs doen.
“Ouers het meestal nie tyd of is lus om onderhoude te doen met potensiële au pairs nie en maak daarom staat op agentskappe om hulle in die proses te help,” verduidelik Lelani.
“As jy dus by só ‘n agentskap registreer, kry jy die nodige opleiding én jy hoef nie self werk te soek nie.”
Opleiding dek gewoonlik alles van basiese kindersorg van babas tot tieners – van doekomruil, voeding, speeltyd, ‘n roetine, dissipline en veiligheid. Basiese noodhulp word ook meestal ingesluit.
Sommige mense dink as hulle al na familie en vriende se kinders omgesien het, hulle maklik werk sal kry as ‘n au pair, maar dis dikwels nie die geval nie.
“As jy nie deur ‘n agentskap werk nie en aansoek doen vir ‘n werk as ‘n au pair, sal dit beslis teen jou tel as jy nie opleiding op jou CV het nie. Families is gewoonlik erg hieroor,” verduidelik Lelani.
“Dus maak eerder seker dat jy ‘n paar kursusse in kindersorg voltooi het en ook ‘n kursus in noodhulp gedoen het – dit sal sonder twyfel in jou guns tel.”
Inkomste
‘n Au pair se inkomste hang grootliks van twee dinge af – die hoeveelheid ervaring wat sy het en die gesin se inkomste. Die hoeveelheid kinders wat jy moet oppas en die take wat jy moet verrig is ook ‘n faktor wat ingereken moet word. Dus kan jy ‘n salaris van R3 000 tot R8 000 per maand verwag.
Lelani verdien ‘n basiese salaris van R8 000 per maand. “Ek is gelukkig omdat ek ook gratis verblyf het – ek moet net my eie kos voorsien. Boonop hou ek ook gratis vakansie – die gesin gaan so drie keer ‘n jaar met vakansie en ek gaan altyd saam om die kinders op te pas, veral saans as hul ouers wil uitgaan.”
‘n Vriendin wat sowat twee jaar gelede as ‘n au pair begin werk het sien om na ‘n agtjarige dogtertjie. Sy woon nie by die gesin nie en verdien R5 000. Sy het egter ‘n motortoelaag en gaan dikwels oor naweke saam met die gesin op uitstappies.
Voordele
Daar is min dinge wat Lelani soveel vreugde verskaf as om te sien dat die twee kinders waarna sy omsien gelukkig is en floreer.
“Hulle is elke oggend bly om my te sien en is mal daaroor om vir my drukkies te gee. Dit laat my so spesiaal en geliefd voel,” meen sy. “Soms teken hulle spesiaal iets vir my en as ek met verlof gaan, vertel hul ouers my hoe vreeslik hulle my gemis het.”
‘n Au pair geniet dikwels ekstra voordele soos gratis verblyf en vakansies, sowel as ‘n motortoelaag.
“Sommige meisies kry selfs addisionele sakgeld vir uitstappies met die kinders,” sê Lelani.
Au pairs is ook nie net in Suid-Afrika gewild nie, maar is veral in Amerika en Europa in aanvraag. As jy dus graag oorsee wil werk, registreer by ‘n agentskap wat jou kan help om werk as ‘n au pair te kry.
Wat Lelani ook baie van haar werk geniet, is die feit dat elke dag ‘n nuwe avontuur is met die twee spruite.
“Hulle ontdek nog soveel dinge en geniet elke oomblik daarvan,” vertel sy. “Party dae wil hulle skattejag hou in die park, ander dae moet ons teepartytjie hou of ‘n tent uit komberse bou. Dit is uitputtend, maar dis lekker om weer kindwees saam met hulle te herontdek.”
Nadele
Saam met die lekker is daar natuurlik ook die minder lekker dele. Soos wanneer die kinders net wil speel, moet Lelani ook dissipline toepas. “Veral die dogtertjie het ‘n wil van haar eie en kan ‘n vloermoer gooi op die mees onvanpaste tye,” vertel sy.
Soms stel ouers ook onrealistiese vereistes aan au pairs. Hoewel dit nog nooit met haar gebeur het nie, weet Lelani van ander meisies wat dit al ervaar het.
Die werksure kan ook soms lank wees. Daar word van party au pairs vereis om ook oor naweke en dikwels tot laat saans te werk, veral as die ouers gesellighede moet bywoon of ander verpligtinge het.
Soms is dit ook nodig om op kort kennisgewing beskikbaar te wees.
Dit gebeur ook dat party ouers so gewoond raak aan die au pair wat alles doen (kinders help met huiswerk, vir hulle kos maak, met hulle speel, hulle bad en gereed vir bed kry) dat hulle nie hul deel as ouers doen nie.
“As au pairs verstaan ons dat ouers baie besig is en nie baie vrye tyd het nie, maar dis hartseer om te sien as die ouers dan nie veel moeite doen om tyd saam met hul kinders deur te bring nie,” meen Lelani.
“Die au pair word dan as’t ware ‘n ouerfiguur vir die kind en die ouers mis uit op baie kosbare tyd saam met hul kinders.”
Raad
• ‘n Liefde vir kinders is nie genoeg om ‘n au pair te word nie – jy moet ook baie geduld hê,
• Jy moet jonk van gees wees, want soms gaan die kinders wil hê jy moet saam met hulle speel.
• Maak seker dat jy die nodige opleiding het. ‘n Basiese kursus in noodhulp is uiters belangrik.
• Wees eerlik in jou werksonderhoud – moenie sê jy het baie ervaring met babas as jy nie het nie. Die ouers sal vinnig agterkom as jy gejok het.
• Noem ook aan hulle enige tekortkominge jy het in jou opleiding en verduidelik dat jy bereid is om ‘n kursus daarin te loop as hulle dit sou verkies.
• Ouers vertrou jou met hul kinders se lewens – wees altyd uiters versigtig en doen net wat die beste is vir die kinders.
• Wees altyd oop en eerlik met die ouers as iets gebeur het.
• Hoewel dit jou werk is om die gesin gelukkig te hou en in hul behoeftes te voorsien, moet jy hulle ook laat weet as iets jou pla. Goeie kommunikasie is van uiterse belang.
• Respekteer die huis van die gesin wie se kinders jy oppas asof dit jou eie is.
Kontak
• Sitters4U – www.sitters4u.co.za
• Au Pairs Exclusive – www.aupairsexclusive.co.za
• Baby-sitters.co.za – www.babysitters.co.za
• Kids & More – www.kidsandmore.co.za