Lees meer oor hierdie beroep wat vindingrykheid en kreatiwiteit vereis
Lindi Herbst
Kyk om jou – al die geboue wat jy sien, is deur ‘n span bekwame bouers gebou, maar voordat hul werk kon begin, het iemand weke of selfs maande lank aan die ontwerp beplan.
Deur saam met die eienaars van die gebou te sit en haarfyn elke detail daarvan te beplan, kan die argitek uiteindelik ‘n deeglike bouplan optrek en só verseker dat ‘n droom ‘n werklikheid word.
Die kuns om geboue te ontwerp, word na verwys as argitektuur en ‘n argitek is die persoon wat hierdie taak uitvoer. Frans Diedericks werk reeds drie jaar as ‘n argitek in Pretoria.
OPLEIDING Die meeste universiteite en technikons in Suid-Afrika bied ‘n graad in argitektuur aan. By ‘n universiteit behels dit dat jy ‘n driejaargraad in B Argitekturale Studies of BSc Argitektuur voltooi. Daarna kan jy inskryf vir ‘n tweejaar- professionele graad in argitektuur, waarna jy gekwalifiseerd sal wees as ‘n argitek, mits jy ‘n professionele praktiese eksamen voltooi het wat deur Suid-Afrikaanse Raad vir die Argitektuurprofessie geakkrediteer word.
Frans meen dit is van onskatbare waarde om ook tydens jou driejaargraad praktiese ervaring op te doen. “Prakties by ‘n argitekfirma sal jou help om wat jy tydens jou graad geleer het, toe te pas en jy kry sommer vinnig ‘n idee waaroor die werk werklik gaan,” sê hy.
INKOMSTE Hoewel argitekte ‘n stewige salaris verdien, is dit nie die geval sodra jy begin werk nie. “Aanvanklik het ek ‘n salaris van R10 000 verdien, maar ná ‘n jaar wat ek myself bewys het, is my salaris aangepas,” vertel Frans. “Jou salaris sal uiteindelik afhang van jou vermoë en hoe tevrede kliënte met jou werk is (as hulle tevrede is, sal hulle jou ook met ander projekte vertrou). As jy vir jouself werk, gaan jou salaris bepaal word deur die hoeveelheid kliënte wat jy het. ‘n Goeie argitek se salaris is tussen R30 000 en R40 000 per maand.”
VOORDELE “Die lekker van die werk, is dat jy elke keer ‘n nuwe uitdaging het,” vertel Frans. “Elke kliënt het ‘n ander idee van wat hulle wil hê en dis jou verantwoordelikheid om, met ‘n kombinasie van logika, vaardighede en kreatiwiteit seker te maak dit word ‘n werklikheid.” Die werk bestaan ook uit ‘n kombinasie van kantoor- en ‘buite’-werk – in die kantoor moet jy papierwerk doen en aan die bouplan werk en soms moet jy na die perseel toe gaan om met die ontwikkeling van die bouplan te help. Jy sal nie heeldag in ‘n kantoor vasgekeer wees nie.
NADELE Om ‘n argitek te wees, behels beslis nie net om mooi prentjies te teken nie, waarsku Frans. “Of jy vir ‘n maatskappy of vir jouself werk – jy het ‘n kliënt aan wie se behoeftes jy moet voldoen en jou werk is nie afgehandel totdat dié nie 100% tevrede is nie. Soms is versoeke van kliënte nie so prakties uitvoerbaar nie en om dit aan iemand te verduidelik wat jou betaal om ‘n werk volgens sy behoeftes, te doen, is allesbehalwe maklik,” verduidelik hy.
RAAD
• ‘n Argitek se werk is ‘n kombinasie van logika en kreatiwiteit. As ‘n kliënt se versoek nie prakties uitvoerbaar is nie, moet jy na kreatiewe maniere soek om die versoek ‘n werklikheid te maak.
• Die belangrikste werk van ‘n argitek is om die kliënt tevrede te stel – om dit te kan doen, moet jy weet hoe om hom te lees, jy moet hom verstaan, gerusstel en hom verseker dat jy sy beste belange op die hart dra.
• As argitek werk jy met baie mense, nie net die kliënt nie. Jy moet weet hoe om jouself reg oor te dra en goed te kommunikeer.
• Daar word gesê dat mense wat kreatief is, op ‘n tegniese manier kan dink oor hoe dinge aanmekaargesit word en die vermoë het om probleme op te los, veral geskik is vir dié werk.
• Logika en logiese denke is van kardinale belang. Frans verduidelik: “Jy werk byvoorbeeld saam met die elektrisiëns en loodgieters en moet kan verduidelik hoe en waar die elektrisiteit en waterpype aangelê moet word.”
Besoek www.pia.org.za; www.wits.ac.za; www.up.ac.za; www.uct.ac.za; www.uj.ac.za; www.bkia.co.za; www.saia.org.za; www.sacapsa.com