Die werk as arbeidsterapeut kan baie vervullend wees, sê Lindi Herbst
“Ek geniet my werk. Ek is in wese ’n arbeidsterapeut en sal nie weet hoe om iets anders te wees nie. ’n Mens begin dink: Hoe kan ek ander se lewe verbeter?” Só sê Mareta Cornelissen (34) wat al elf jaar as arbeidsterapeut praktiseer. Kenners omskryf arbeidsterapie as die terapeutiese gebruik van selfversorging asook werk- en speelaktiwiteite om onafhanklike funksionering te verbeter en ontwikkeling aan te moedig. Baie van dié aktiwiteite vereis die aanpassing van take of die omgewing om maksimale onafhanklikheid te bereik of iemand se lewensgehalte te verbeter. Arbeidsterapeute werk dus oor ’n spektrum van velde, naamlik pediatrie, neurologie, ortopedie, werksrehabilitasie, regsmedies en met senior burgers.
PLIGTE Mareta sê haar werk behels gewoonlik oueronderhoude en konsultasies met kinders, asook evaluasies, die skryf van verslae en terapiesessies, wat ook voorbereiding en evaluering verg. “Daar is ook konsultasies met ander terapeute oor byvoorbeeld regsmediese en terapeutiese kwessies, alles sodat die kinders die beste diens kan kry. Dan is daar ook ’n administratiewe sy, wat met die invordering van rekeninge en korrespondensie met byvoorbeeld mediese fondse te make het. Ek het ’n administratiewe beampte wat dit behartig,” sê sy.
WERKSURE “Ek bepaal self my ure en probeer in die oggend al die terapie doen. Gewoonlik werk ek ná skool om al die skoolgaande kinders te akkommodeer. Terapeute by skole werk skoolure en terapeute by staatshospitale die staatsdiensure van 07:30 tot 15:30.”
INKOMSTE “Hoe harder jy werk, hoe meer verdien jy,” sê Mareta. “’n Mens se inkomste hang af van die veld waarin jy spesialiseer. Iemand soos ’n regsmediese terapeut sal byvoorbeeld meer as ’n ander arbeidsterapeut verdien.”
OPLEIDING Jy het ’n graad in arbeidsterapie nodig. Dit kan ’n BA- of BSc-graad wees. “Ná jou vierjaargraadkursus moet jy een jaar gemeenskapsdiens doen.” Mareta het haar BArb-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal en het onder meer ook nagraadse opleiding in sensoriese integrasie voltooi.
LOOPBAANMOONTLIKHEDE Arbeidsterapie is ’n kursus wat ’n student in die rehabilitasie van ’n verskeidenheid toestande oplei. Die velde van spesialisasie sluit in: Handterapie – die maak van handspalke en rehabilitasie van handtoestande. Psigiatrie – die rehabilitasie van psigiatriese pasiënte. Geriatrie – die versorging van verouderde pasiënte. Neurologie – die rehabilitasie van neurologiese toestande soos hoofbeserings, beroertes, alzheimersiekte en ander toestande. Pediatrie – bystand met kinderontwikkeling. Werksrehabilitasie – die rehabilitasie van pasiënte wat moet terugkeer werk toe byvoorbeeld nadat ’n amputasie gedoen is of iemand verlam is. Werksaanpassings word gemaak. Regsmedies – die evaluasie van persone om te bepaal wat hul huidige en toekomstige funksie sal wees, byvoorbeeld ná ’n ongeluk. Terapeute kan ook vir versekeringsmaatskappye werk.
VOOR- en NADELE Die voordele van ’n privaat praktyk is dat jy jou eie ure bepaal. Die nadele is dat jy lank vir jou geld kan wag as jy met mediese fondse werk. “Ek dink arbeidsterapie is veral gewild onder vroue wat ’n verskil in mense se lewens wil maak. Omdat ek vir myself werk, moet ek my eie groeigeleenthede skep deur op kursusse te gaan en my dienste uit te brei. Dis ’n taai kursus met streng keuringsvereistes by al die instellings. Ek dink hulle kyk na hardwerkende jongmense wat gebalanseerd is en nie noodwendig net akademies sterk is nie.” Mareta sê ’n ideale arbeidsterapeut is iemand wat hardwerkend is, leiding kan neem, geduldig en vriendelik is, van mense hou en georganiseerd en kreatief is. So iemand moet kan planne maak, analiseer en deurvoer.
INSETKOSTE Vir ’n eie praktyk moet jy minstens R20 000 hê om al die basiese apparate en evalueringstoetse aan te koop.
Vir meer inligting besoek Tukkies by www. up.ac.za, Stellenbosch by www.sun.ac.za, Wits by www.wits.ac.za en Universiteit van Limpopo by www.ul.ac.za Vk