Daar is ’n tekort aan aptekers in die land, daarom is dit beslis ’n goeie beroepsrigting om te oorweeg, skryf Lindi Herbst
As jy ’n passie daarvoor het om siek mense te help, maar nie ’n verpleegster of dokter wil word nie, is ’n loopbaan in die aptekerswese ’n goeie keuse. Daar is juis ’n tekort aan aptekers in Suid-Afrika, dus is die kans goed dat jy ’n pos gaan kry! Tiaan Terblanche (30) het twee jaar gelede as ’n apteker gekwalifiseer. “Mediese kwessies het my nog altyd gefassineer, maar ek wou nooit ’n dokter word nie – ek het nie kans gesien om so lank te swot nie. My keuse het dus op aptekerswese geval en ek was nog nooit spyt nie.” VOOR- EN NADELE Volgens Tiaan is daar ’n groot aanvraag vir aptekers en is daar só ’n groot verskeidenheid van plekke waar jy kan werk dat jy amper seker kan wees van ’n werk. Hoe meer ervaring jy opdoen, hoe beter salaris kan jy verwag. Tiaan voel ook dat aptekers ’n betekenisvolle verskil in mense se lewe maak. “Baie mense het al teruggekom om dankie te sê dat ek hulle tydens ’n noodgeval bygestaan het.” Soos met ander mediese beroepe, meen hy daar is ’n kans dat jy uitbranding kan ervaar. “’n Apteker moet sy werk baie akkuraat kan doen – die verkeerde medisyne kan baie negatiewe gevolge hê, dus is daar baie druk,” sê hy. “Jy werk soms lang skofte, dus moet jy lank op jou voete kan staan.” INKOMSTE ’n Apteker se inkomste hang van sy ondervinding af. As jy pas as ’n apteker gekwalifiseer het, kan jy ’n beginsalaris van ongeveer R8 000 per maand verwag. Baie ervare aptekers kan egter tot R30 000 per maand verdien. OPLEIDING Die meeste universiteite in Suid-Afrika bied ’n graad in farmakologie aan, wat vier jaar duur. Vakke sluit chemie, fisika, anatomie, biochemie, organiese chemie, patologie en verskeie farmakologiese vakke in. Studente mag ná hul eerste studiejaar as ’n aptekersassistent registreer. Hulle kan dan deeltyds in ’n apteek onder die wakende oog van ’n geregistreerde apteker werk. Nadat jy graad gekry het, moet jy ’n jaar lange praktiese opleidingsperiode deurgaan. Daarna moet jy nog ’n verpligte jaar van gemeenskapsdiens in die openbare hospitaalsektor voltooi, voordat jy as ’n apteker kwalifiseer. Jy kan ook ná die vierjaargraad ’n meestersgraad van twee jaar volg. Netcare bied ’n internskapprogram aan, waar studente genooi word om aan saalrondtes deel te neem en om chirurgiese prosedures waar te neem.
RAAD
_ Die kursus verg baie studietyd.
_ Lees mediese tydskrifte en joernale.
_ As iemand jou raad vra oor ’n kwaal en jy nie seker is nie, raadpleeg ’n medeapteker.
_ Leer om lelike handskrif te lees!
Eerste SA SIMULASIE-apteek Opleiding vir aptekers is na ’n hele nuwe vlak geneem met die opening van die moderne simulasie-apteek en eenheid vir opleiding in primêre gesondheidsorg op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). Hier kan aptekers wat hul graad aan die Noordwes-Universiteit verwerf het hul eerste ondervinding as aptekers onder die wakende oog van hul dosente opdoen. “Die doel van die nuwe eenheid is om die teorie en praktiese toepassing te kombineer. In die gesimuleerde apteek en kliniek sal die studente elke taak kan uitvoer en ons sal hulle assesseer soos hulle werk,” sê dr Johan Lamprecht, dosent by die Skool vir Farmasie. “Soos wat hulle in die kursus vorder, sal hul take meer gevorderd raak.” Die videokameras, luidsprekers en mikrofone waarmee die 18 stasies in die gesimuleerde apteek toegerus is, stel die dosente in staat om te sien hoe die studente resepteringsuitdagings hanteer. Die eenheid sluit ook ‘n “hospitaalsaal” in wat ten volle toegerus is. Volgens dr Johan is die apteek so na aan ’n werklike apteek as moontlik. In die primêre gesondheidsorgkliniek word ’n mediese simulasiepop, Susie, gebruik om mediese toestande te simuleer. “Sy haal asem, het ’n sirkulasiestelsel, bloeddruk, hart- en longklanke, sy kan inspuitings kry, haar oë knip en selfs praat, danksy die mikrofoon wat aan die instrukteur gekoppel is,” verduidelik dr Johan. “Sy word deur ’n rekenaarstelsel beheer en kan enige van die toestande simuleer waarmee aptekers in ’n kliniek in aanraking mag kom.”
Vk Vir meer inligting oor Noordwes-Universiteit, kontak Hannelie Nortje by Hannelie.nortje@ nwu.ac.za of 018 299 2237/70; recruitment@ netcare.co.za vir Netcare se program; Nelson Mandela Metropolitan Universiteit: 041 503 2128; Rhodes-universiteit: 046 603 8382; Universiteit van Limpopo (Medunsa): 012 521 4080; Universiteit van KwaZulu- Natal (Westville): 031 260 7891; Universiteit van die Witwatersrand: 011 717 2552