Kenners sê ambagte moet beslis nie ’n ‘laer’ status geniet nie Deur LUISA VAN DER LINDE
Ons minister van hoër onderwys en opleiding, dr Blade Nzimande, het al gesê die enigste oplossing vir ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika is beter opleiding. Hy het voorts gesê Suid-Afrika het ’n ernstige tekort aan middelvlakpersoneel en dat daar beslis na die bevordering van hierdie kwalifikasies gekyk moet word. “Die verhouding vir kollege- en universiteitstudente is tans drie universiteitstudente vir een kollegestudent. “Dié verhouding moet omgeruil word sodat daar een universiteitstudent vir drie kollegestudente is.” Dr Richard Evans, ’n Britse navorser met agt grade, meen daar is ’n eeue oue debat oor akademiese versus tegniese kwalifikasies. “Die wanpersepsie dat ’n akademiese kwalifikasie die enigste kwalifikasie van waarde is, is diep in verskeie kulturele en historiese agtergronde gewortel. Finansiële kwalifikasies, regte en die mediese wetenskap word byvoorbeeld as professies gesien wat ’n hoë status geniet. Ander rigtings, soos motorvoertuigmeganika, haarkappery of loodgieterswerk word as tweede klas of van ’n laer status beskou,” sê dr Richard. Volgens hom is daar veral ’n geneigdheid om minder vir handearbeid te betaal. “Selfs wanneer die samelewing ’n hoër status aan beroepe soos onderrig en verpleging koppel, word diegene wat dié beroepe beoefen nog nie na waarde geskat of betaal nie. “Daar is ook ’n persepsie dat baie beroepe wat eerder ’n roeping as ’n professionele werk is, nie so ekonomies bevredigend is as ’n beroep wat professioneel erken word nie. Nóg ’n mite wat daartoe bydra dat mense minder gretig is om tegniese beroepe te volg, is die verkeerde persepsie dat tegniese beroepe nie kognitiewe aspekte en kennis behels nie. Daar is ’n wanpersepsie dat die fisieke vereistes van ’n tegniese werk belangriker as die intellektuele vereistes is,” sê dr Richard. Hy sê soms studeer studente slegs vir die status wat met die professionele beroep geassosieer word.
AKADEMIESE OPLEIDING Sakkie Kotze, onderwyskundige en ATKV-direksielid, se akademiese opleiding is vir baie jare in Suid-Afrika as die enigste volhoubare kwalifikasie beskou. Hy se ook soos dr Richard dat dit hier in Suid-Afrika in sekere kringe selfs as ’n statussimbool gereken is. “Ouers het hul kinders aangemoedig om op skool slegs akademiese vakke te neem en daarna ’n universiteitsgraad te behaal. Hierdie statusbeheptheid het jare gelede al op skool begin posvat en leerders by tegniese skole is as minder intelligent beskou. Daar is in die verlede selfs hier en daar onderskeid getref tussen die status van hoofde en onderwysers by akademiese skole en die by tegniese skole.” Sakkie se die IK-toetse van ouds en die instel van beroepsleiding as nie-eksamenvakke op ho?rskool, het baie gehelp om kinders aan te moedig om hul aanleg en talent te ontdek. “Dit is so jammer dat dit in die nuwe Suid-Afrika agterwe? gelaat is.”
DRUK van die SAMELEWING en OUERS Senior advokaat, digter en rolprentregisseur Piet de Jager se hy dink daar is nog druk van die samelewing om ’n akademiese kwalifikasie te he. “Ek dink ook dis op die valse uitgangspunt gegrond dat daar ’n status aan sekere kwalifikasies gekoppel is.” Piet se ouers wil graag die beste vir hul kind he en probeer dan hul eie ideale op ’n kind afdwing deur hom in ’n spesifieke rigting te dwing. “In die ou dae, lank voor ek op universiteit was, was daar ’n siening dat jy na skool ’n B-graad moet kry. Die idee was dat dit jou ’n bree spektrum van onderrig gee sodat jy daaruit minstens ’n sinvolle beroepskeuse kon maak. Hoe breer jou grondslag, hoe groter was die moontlikheid glo dat jy die regte beroepskeuse maak. Ek dink ’n kind moet universiteit toe gaan as hy kan, maar die fokus moet eerder daarop wees om homself wyer te bekwaam sodat hy later kan besluit wat hy wil word.” Talitha Smith is hoof van studentewerwing by Centurion Akademie. Sy voel die siening dat alle kinders na matriek universiteit toe moet gaan, word nie meer so algemeen soos in die verlede gehuldig nie. “Die siening het totaal geswaai oomdat ons ’n generasie ouers het wat as gevolg van kwotastelsels en ander faktore self nie toelating by universiteite kon kry nie.” Piet voel kinders wat steeds druk van hul ouers, onderwysers of ander ervaar om hulle spesifiek akademies verder te bekwaam, moet aansporing van wie ook al as besorgdheid oor hul toekoms erken, maar moet daarna streef om hul drome uit te leef. Talitha se na haar mening heg die samelewing vandag minder waarde aan ’n tersiere kwalifikasie. “Daar is meer mense wat vakmanskappe wil volg, maar die opleiding het agteruitgegaan.” Sakkie se menige volwassene is vandag spyt dat hulle deur hul ouers of onderwysers in ’n rigting gedwing is waarin hulle eintlik nie belanggestel het nie. “Baie van hulle is eerder prakties aangele en is vandag suksesvolle ambagsmanne en entrepreneurs. Vandag pluk ons die vrugte van gegradueerdes wat nie werk kry nie teenoor ’n groot tekort aan vakkundiges en ambagslui op verskeie tegniese gebiede,” se hy. Piet voel ook alle tersiere opleiding wat nie universiteitsopleiding was nie, is 20 jaar gelede as minderwaardig beskou. “Vandag word sogenaamde professionele beroepe nie meer as die enigste waardige beroepe geag nie. Die situasie het baie verbeter namate voornemende studente bewus word van die markkragte en -behoeftes en daarvolgens ’n studierigting kies,” se Sakkie. Talitha voel die opleiding wat vandag se skoolverlaters kry, hang grootliks af van die milieu waarin die kind grootword. “As die pa en ma op universiteit was, sal 80% van hul kinders waarskynlik ook gaan, maar as hul ouers nie naskoolse opleiding gehad het nie, word die tendens by die kinders voortgesit.”
VAKMANNE Talitha voel ambagslui kom wel in die Suid-Afrikaanse samelewing tot hul reg. Hulle is mense wat vir hulself werk kan skep en dis goud werd. Sakkie se vir elke huishouding, elke motor, en vir die talle geboue wat daagliks opskiet, is opgeleide vakkundiges, ambagsmanne, tegnici en motorwerktuigkundiges vir herstel- en instandhoudingswerk, sowel as vir nuwe projekte nodig. Die bedryf sluit natuurlik, benewens die boubedryf, talle tegniese velde in, soos die ontwerp en instandhouding van fabriekstoerusting, mynbou, rekenarisering en outomatisering van stelsels. Piet se hy weet van vakmanne wat van hul spesifieke vak as ’t ware ’n kunsvorm maak. “Sulke vakmanne het altyd werk en skep werk. Alles kom eintlik op harde werk neer. Dit help nie jy het drie doktorsgrade en jy werk nie hard nie. Ek dink daar is so ’n wye spektrum opleiding vir mense in die samelewing dat daar nie onderskeid tussen vaardighede getref moet word nie, hetsy tegnies of akademies. “Vir my is my elektrisien net so belangrik soos my huisdokter, albei vervul ’n wesentlike rol,” se Piet. Hy voel as daar tussen mense en hul kwalifikasies ’n onderskeid getref moet word, dit eerder om beroepsbevrediging en harde werk moet gaan. “Kwalifikasie is niks anders as ’n instrument om ’n bepaalde beroepskeuse uit te oefen nie. Jy moet jou egter verder bekwaam. Alles ontwikkel so vinnig en selfstudie is noodsaaklik om voor te bly. “Nie alle mense het die vermoe om tersier te kwalifiseer nie, maar elke mens het die potensiaal om homself binne konteks te verwesenlik en beroepsgerig aan te hou leer. ”
UGO se INVLOED Sakkie se: “Uitkomsgebaseerde onderwys het ook nie die behoefte aan tegniese vaardighede suksesvol aangespreek nie. Tegniese skole het eerder minder as meer geword. Tegniese kolleges het technikons geword en staan vandag as universiteite van tegnologie bekend. Doserende personeel daar kan ook nou professors word. Dit is alles maar net simptomaties van die minderwaardige status wat tegnici teenoor akademici geniet het. “Die probleem van UGO was die toepassing daarvan,” se Piet. “Lees en skryf is afgeskeep. Elke mens moet kan lees en skryf, ongeag hul beroep.”
Besoek www.skillsdevelopment.org en www.technicaleducationmatters.org Vk