As wiskunde jou kos is en jy nie omgee om hard te werk nie, is die beroep van ‘n aktuaris dalk net vir jou
LINDI HERBST
As jy een van die mees gesogte, gerespekteerde en hoogs betaalde beroepe wil volg wat internasionaal geakkrediteerd is en van wiskunde, statistieke en rekenaars hou, moet jy dit beslis oorweeg om ‘n aktuaris te word.
‘n Aktuaris se werk behels om finansiële risiko’s te bepaal, veral dié risiko’s wat met lewensversekering, kort- en langtermynversekering, pensioenfondse en beleggings te doen het. Hulle maak vir hierdie doeleinde van wiskunde, statistiek en modelleringstegnieke gebruik om uiteindelik ‘n verskeidenheid van finansiële produkte te ontwerp wat aan hul kliënte se behoeftes sal voldoen.
Daar is ook ander velde waarin ‘n aktuaris kan floreer, byvoorbeeld as tegniese bemarkers, kommunikasiespesialiste, sowel as analiste in die bankwese. Daar is selfs aktuarisse wat as konsultante in die gesondheids- en mynsektor werk. Hul werk is om ondernemings se risiko’s te analiseer en te kyk watter finansiële aanpassings hulle kan voorstel om optimum sakesukses te verseker.
Wynand du Toit het ‘n jaar gelede as ‘n aktuaris gekwalifiseer en werk tans by ‘n versekeringsmaatskappy in Centurion. “Ek eet, slaap en leef vir wiskunde – al van ‘n jong ouderdom af,” vertel hy. “Toe ek in die hoërskool ‘n beroepskeuse moes maak, het die werk van ‘n aktuaris my dadelik geïnteresseer. Die lang studietydperk was veeleisend, maar ek is nie ‘n dag spyt oor my keuse nie.”
OPLEIDING
Dit klink goed en wel dat jy as ‘n aktuaris baie geld sal verdien, maar dit gaan met baie jare van studies (ses jaar of langer) en harde werk gepaard. Om vir ‘n aktuaris te kan studeer, moet jy matriekvrystelling kry met ‘n minimum van 80% vir wiskunde (hoër graad), sowel as 70% vir minstens twee ander vakke. Dit is raadsaam om goeie punte in Engels, ekonomie en rekeningkunde te behaal.
Die soort graad wissel tussen universiteite. Jy kan byvoorbeeld ‘n BCom-graad in aktuariële wetenskap by die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad volg, terwyl die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van die Witwatersrand ‘n BSc-graad in aktuariële wetenskap aanbied. Nadat jy die driejaargraad voltooi het, kan jy nog ‘n honneursgraad van ‘n jaar voltooi.
As jy klaar studeer het, kan jy solank as ‘n studentaktuaris begin werk, maar jy moet nog ‘n eksamen slaag, wat deur die Aktuariële Genootskap van Suid-Afrika (AGSA) aangebied word. As jy dit verkies, kan jy ‘n lid van die Fakulteit van Aktuarisse (Edinburgh) of Instituut van Aktuarisse (Londen) word en hul professionele eksamen aflê. Wim Els van die AGSA vertel genootskap van albei die oorsese organisasies word tans in Suid-Afrika aanvaar, maar vir statutêre werk moet jy ‘n genoot van die AGSA wees. Die AGSA-kwalifikasie word tans in die Verenigde Koninkryk en Australië erken en daar word onderhandelinge gevoer oor erkenning in die lidlande van die Europese Unie.
“Hou egter in gedagte dat slegs ‘n handjievol studente jaarliks as aktuarisse kwalifiseer,” waarsku Wynand. “Maar as jy toegewyd is en hard werk, kan jy van ‘n goeie werk verseker wees.”
INKOMSTE
As jy as ‘n aktuaris gaan werk, sal jy een van die bes betaalde professionele mense wees, met ‘n salaris van tussen R230 000 en R1,2 miljoen per jaar, afhangende van jou werkservaring en senioriteit. As jy as ‘n aktuaris begin werk, kan jy verwag om met ‘n salaris van oor die R20 000 per maand te begin. Van daar af sal jou salaris redelik vinnig groei.
“As jy ‘n suksesvolle beroep het, kan jy verseker wees dat jy sommer vinnig die beroepsleer na ‘n senior pos sal klim,” meen Wynand. Hoewel hy nie die werk gekies het vir die goeie salaris nie, voel hy dat die lang jare van studies beslis die moeite werd is as hy elke maand sy salaris ontvang.
VOORDELE
Aktuarisse is in groot aanvraag, plaaslik en internasionaal. As jy boonop in ‘n sekere veld spesialiseer, sal jy selfs meer gesog wees!
NADELE
“Die baie jare van studies is beslis nie lekker nie en soms voel jy lus om op te gee, maar uiteindelik is dit die moeite werd,” meen Wynand. “Daar is ook heelwat moeilike eksamens om af te lê voordat jy kan kwalifiseer. Uit my groep het slegs 20% geslaag.”
Benewens die harde werk, is dit ook ‘n stresvolle beroep. Jy werk met spertye en jou feite en inligting moet 100% korrek wees, anders kan dit groot probleme veroorsaak. Dit behels ook lang werksure en soms moet jy reis, afhangende waar jou kliënte is.
RAAD
• ‘n Aanleg vir wiskunde en sterk rekenaarvaardighede in hierdie beroep is sonder twyfel baie belangrik, aangesien jy hoofsaaklik met syfers en statistiek werk.
• Die baie jare van studies en vele eksamens wat jy sal moet aflê om te kwalifiseer, beteken dat jy deursettingsvermoë aan die dag sal moet lê.
• Goeie kommunikasievaardighede is ‘n moet, want jy gaan baie met kliënte te doen hê en jy moet vir hulle ingewikkelde begrippe op ‘n eenvoudige manier verduidelik.
• Objektiwiteit is te alle tye baie belangrik. Die kliënte se belange kom altyd eerste.
KONTAK
www.sun.ac.za, www.uct.ac.za, www.up.ac.za, www.uovs.ac.za,
www.wits.ac.za