Die waarde van kommunikasie oor finansies in ’n huwelik of ’n verhouding kan nie genoeg benadruk word nie, skryf Ansja Ferreira
“Kommunikasie is vir ’n verhouding soos suurstof vir lewe. Daar sonder sterf dit,” sê die motiveringspreker en skrywer Tony Gaskins.
Volgens ’n nuwe verslag deur Moneysupermarket. com, het een uit tien mense erken dat “geheime” of versteekte kredietkaartaankope ’n rol in hul egskeiding of vervreemding van hul lewensmaat gespeel het.
’n Opname deur CESI Debt Solutions het gewys dat 20% getroude mense ’n geheime kredietkaart het en dat 80% van getroude mense aankope, kredietkaarte of bankrekenings vir hul huweliksmaats wegsteek.
“Geld kan nie geluk koop nie, maar geld kan jou huwelik ruïneer,” sê Izak Strauss, ’n welvaartsafrigter, wat werkswinkels met die tema “Relational Wealth and Wellness” aanbied.
Hy verduidelik verder: “Die feit van die saak is dat finansies tot die grootste huweliksprobleme aanleiding gee en dus verreweg die nommer-een-oorsaak van egskeidings is.
LEES OOK: Help! My maat mors geld
“Paartjies wat hoofsaaklik oor geld argumenteer, is meer geneig om te skei as diegene wat meestal oor seks, skoonouers, huistake of ander hoogs belaaide onderwerpe argumenteer.
“Die hartseer hiervan is dat die meeste paartjies hiervan bewus is, maar nooit genoeg aandag daaraan skenk of die nodige hulp bekom nie. Die probleem is ook nie die ‘onverenigbaarheid’ van persoonlikhede nie, maar eerder ’n gebrek aan kommunikasievaardighede,” sê Izak.
“Die kruks van die saak kan in twee eenvoudige stappe saamgevat word, naamlik om oor geld te leer kommunikeer en te leer om jul finansiële doelwitte met mekaar, asook met jul waardes, te verenig. Verenig dus jul lewens met jul geld.
“As julle dié twee aspekte kan baasraak, het julle meer bereik as die meeste paartjies en het julle ’n sterk grondslag geskep om jul verhouding op te bou,” sê hy.
“’n Paartjie kan in hul ambisies, wêreldbeskouing, godsdiens en basiese lewensfilosofie verenig wees, maar steeds nie hul uiteenlopende houdings teenoor geld laat ooreenstem nie.
“Voed julself op – die huwelik is ’n vennootskap en albei individue moet goed ingelig wees. Baie probleme, veral wanneer dit by geld kom, spruit uit ’n gebrek aan kennis. ’n Verhoogde finansiële IK sal lei tot verhoogde emosionele intelligensie, selfkennis en die verbetering van jul denkwyse en verhouding teenoor geld.
“Sodoende word julle in staat gestel om deurdagte en ingeligte finansiële besluite te neem wat met jul persoonlike waardes en prioriteite verenigbaar is,” sê hy.
Izak noem dat ’n welvaartsafrigter julle van jul finansiële persoonlikhede bewus kan maak: “Die Spandeerder sal dikwels inherent vir die Spaarder val, waarskynlik totaal onbewus van albei se houdings teenoor geld. Dit skep ’n moeilike dinamiek waarin die een persoon probeer spaar om finansieel vooruit te kom en die ander slegs spandeer. ’n Spandeerder saam met ’n ander Spandeerder is aanvanklik vreeslik pret, maar dit kan tot ’n finansiële ramp lei. Dan is daar die Spaarder/Spaarder-kombinasie wat ongelukkig baie skaars is, maar dit is heel waarskynlik die gemaklikste en versoenbaarste kombinasie van almal,” sê hy.
Izak gee die volgende wenke:
- Erken dat een persoon ’n Spaarder en die ander ’n Spandeerder is, verstaan dat daar voordele vir albei is en stem ooreen om uit mekaar se gedrag te leer.
- Moenie inkomste of skuld verberg nie. Bring finansiële dokumente, insluitende ’n onlangse kredietverslag, salaris, bankstate, versekeringspolisse, skuld en beleggings na die tafel.
- Moenie mekaar blameer nie.
- Stel ’n gesamentlike begroting op wat lewensdoelwitte en spaar insluit.
- Besluit watter persoon vir die betaling van watter spesifieke maandelikse rekeninge verantwoordelik gaan wees.
- Laat onafhanklikheid toe en laat elke persoon geld opsysit om na sy of haar goeddunke te bestee.
- Praat oor die versorging van jul ouers soos hulle ouer word en hoe om daarvoor te beplan.
Trou is nie perdekoop nie
Izak verduidelik hoe huweliksvoorwaardekontrakte werk:
“’n Huweliksvoorwaardekontrak sal slegs nodig wees as jy nie binne gemeenskap van goedere trou nie. Die ander opsie is buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling, wat beteken ‘wat joune is, is joune en wat myne is, is myne’ en buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling. By laasgenoemde moet die huweliksmaat wie se boedel die meeste gegroei het, 50% van die groei aan die ander huweliksmaat (“aanwas-eis”) afstaan.
“Uit ’n risikoperspektief (as jy ’n onderneming begin of bloot in die algemeen), is dit die veiligste om buite gemeenskap van goedere te trou.
LEES OOK: 10 Geldwenke om jou spesiale dag binne begroting te hou
“Dit behels dat indien ’n persoon of dalk krediteure ’n eis teen een huweliksmaat instel, byvoorbeeld as gevolg van ’n ongeluk of ’n onderneming wat tot niet gaan, hulle slegs op bates beslag kan lê wat aan daardie spesifieke huweliksmaat behoort.
“Sou die paartjie egter binne gemeenskap van goedere getroud gewees het, kon daar albei huweliksmaats se bates beslag gelê word op, aangesien die gemeenskaplike boedel 50/50 besit word.”
Jou testament
“Jou testament is die belangrikste dokument in jou boedelbeplanning,” sê Connie Bruwer, besturende direkteur van PC Bruwer en Vennote. “Dit meld hoe en aan wie jou besittings verdeel sal word wanneer jy tot sterwe kom.
Dit moet baie duidelik en ondubbelsinnig uiteengesit word aan wie jou bates bemaak gaan word aangesien dit die dokument is wat die meeste in die hof betwis word.
LEES OOK: Vermy ‘n familietwis oor jou testament
“Stel so gou as moontlik ’n testament op om jou gesin baie hartseer en ellende te spaar. Dit is ook baie belangrik om gereeld jou testament op te dateer en te hersien. Jy behoort jou testament te hersien wanneer jy: trou of weer trou; ’n kind kry of aanneem; eiendom of ’n sakeonderneming koop of verkoop; jou lewensversekering aanpas; emigreer; of ’n eggenoot aan die dood verloor.
Vroue leef gemiddeld langer as mans. Om hierdie rede, asook weens die hoë egskeidingsyfer, is dit belangrik dat vroue hulself bemagtig en leer om self hul finansies te hanteer. In historiese konteks gesien, was mans hoofsaaklik die broodwinner en het hulle alle finansiële sake hanteer.
Die situasie het heelwat verander, sê Izak. Vroue neem nou beheer oor hul werk en ander aspekte, maar tog skram baie vroue daarvan weg om beheer oor hul finansies te neem en te dikwels word alle finansiële besluite aan ’n man oorgelaat. Dit kan ook gebeur dat ’n vrou nooit geleer het om beheer oor haar finansies te neem nie, aangesien iemand anders altyd beskikbaar was om dit namens haar te doen.
Lesers oor finansies ná afsterwe
Zelda*: Toe my man se testament gelees is, het ek tot my skok agtergekom dat hy nooit sy gewese vrou as enigste erfgenaam uit die testament gehaal het nie. Ek en ons kinders het niks uit sy boedel gekry nie en sukkel tans om die pot aan die kook te hou. Die een lewenspolis wat hy wel aan ons bemaak het, is nie genoeg om vir die kinders se skoolopleiding te betaal nie.
Lorette: Ná my man se dood het ons verskriklik gesukkel. Daar was geen polisse om my te help om my kinders te versorg nie. ’n Jaar ná my man se dood het ek ’n oproep van ’n versekeringsmaatskappy gekry. Hulle het my probeer opspoor, maar het gesukkel omdat my adres verander het. My man het ’n groot lewenspolis gehad, wat hy aan my sedeer het, maar hy het net nooit met my daaroor gepraat nie. Ek is ewig dankbaar dat die maatskappy my gekontak het, anders het ek nooit daarvan geweet nie en het ek nou nog gesukkel.”
Johan*: Ek het nooit geweet dat my vrou soveel skuld gemaak het nie. Sy het boonop ’n dobbelprobleem gehad en lenings gehad waarvan ek glad nie geweet het nie. Sy was in ’n motorongeluk en twee maande in ’n koma en die rekeninge en oproepe van skuldeisers het by my uitgekom. Sy gaan lank vat om te herstel, maar of ons huwelik ooit gaan herstel, weet ek nie. Wat als nog moeiliker maak, is dat ons binne gemeenskap van goedere getroud is. *Skuilname