Het jy ’n strawwe werkslading? Hier is ’n paar wenke
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As jy in die oggend jou oë oopmaak, wens jy dit is weer aand sodat jy net kan slaap. Jy sien op na werk, want as jy eers daar is, is dit ‘n nagmerrie. Dit voel asof jou lewe uit werk, werk, werk bestaan … Jy is nie alleen nie. Volgens ‘n Amerikaanse opname sê
61% van werknemers hul hewige werksladig stres hulle uit en 54% werknemers is oor hul gesondheid bekommerd as gevolg van hul erge stres. Maar hoe weet ‘n mens jou werk is te veel en dat jy en jou gesondheid daaronder ly?
Die webwerf www.catharinescareercorner.com noem die volgende:
- Jy voel gestres en oorweldig by die werk.
- Dit voel asof jou lewe nie gebalanseerd is nie.
- Jy moet al hoe langer ure werk om alles gedoen te kry.
- Dit is ‘n konstante gesukkel om al jou take te voltooi.
- Jy soek ander werk en voel wrewelrig by die werk.
- Jy het konstante skete en voel siek as jy net aan die werk dink.
- Jy is emosioneel en huil maklik oor enigiets.
- Daar is nou en dan foute wat jy nie weet hoe dit gebeur het nie.
Wat kan ’n mens doen?
- Bepaal wat jou onderneming se visie is. Doen altyd die belangrikste take eerste. Dis gewoonlik dié wat deel vorm van die onderneming se strategie en visie.
- Maak ‘n lysie van al jou take en spertye. Kyk watter take jy kan delegeer en wat jy eenvoudig nie kan doen nie.
- Sit terug, haal diep asem en begin met die belangrikste take op jou lys.
- As jy sukkel om als gedoen te kry, gesels met jou bestuurder en kyk weer na jou posbeskrywing. Maak veral werk van onrealistiese verwagtinge. Jy is net ‘n mens, dra die boodskap oor.
- Word meer georganiseerd. ‘n Mens kan nie dink as als om jou chaoties is nie. Kry ‘n plan in plek. ‘n Ordentlike dagboek en skedule is ononderhandelbaar.
- Fokus en breek jou dag in gedeeltes op. Besluit om op sekere tye sekere take te verrig. Onthou e-posse en sosiale media slurp baie tyd op.
- Begin elke dag met ‘n beplanningsessie.
- Leer om nee te sê. Neem beheer van jou werk en wees streng oor dit wat jy kan en nie kan doen nie.
- Kyk na die vloei van take in die onderneming, waar kom die meeste werk vandaan en is daar iewers ‘n skakel wat nie werk nie? Moet jy jou dalk doodwerk omdat die werk te laat by jou uitkom?
- Bestuur jou stres. Vat blaaskanse deur die dag, eet gebalanseerd en moenie toelaat dat die werk jou lewe regeer nie.
- As jy met jou bestuurder gepraat het, probeer delegeer het en jy kan steeds nie die werkslading hanteer nie, is dit dalk tyd om of na ‘n ander departement te gaan of ‘n ander werk te soek. ‘n Mens bestee ‘n groot gedeelte van jou lewe by die werk, as jy ongelukkig daar is, gaan dit na die ander aspekte van jou lewe oorspoel. Sterkte!
BRON: www.catharinescareercorner.com