Jy het vrek baie werk, maar spring van die een projek na die ander. Hoe kan jy meer werk gedoen kry?
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
1. Maak anderste lysies
Dis blykbaar goed om ‘n lysie se formaat elke nou en dan te wysig sodat jy nie net van bo af werk nie of goed bo bly byvoeg nie. Jy kan die take in wolkies teken of ‘n diagram maak.
2. Kikker jou gemoed met helder kleure op
Volgens studies kan helder kleure in die oggend jou bui en energie lig. Dus, kyk na helder prentjies of loop eers in jou tuin rond.
3. Begin vieruur in die oggend werk
Dit is nie lekker om so vroeg op te staan nie, maar daai tyd van die oggend is vreedsaam en stil en jy sal verbaas wees oor hoeveel jy gedoen kan kry.
4. Breek jou dag op
Breek jou dag in projekte op, byvoorbeeld jy het ‘n sekere tyd om jou e-posse deur te gaan, ‘n sekere tyd om kliënte te bel, ensovoorts.
5. Verhit die kantoor as jy koud kry
‘N Mens is glo onproduktiewer as jy koud kry.
6. Hanteer jou e-posse
Skakel die “notifications” af op jou e-pos sodat jy nie gepla word as jy met ander goed besig is nie.
7. Pasop vir sosiale media
Facebook kan jou gou-gou jou aandag opslurp en jy sal weer sukkel om na werk terug te keer. Kies ‘n tyd wanneer jy op Facebook kan ingaan.
8. Sit in die aand jou klere uit en pak kos
Dit bespaar tyd in die oggend sodat jy nie gejaag by die kantoor kom nie.
9. Hou ’n dagboek byderhand
‘n Mens kry soms die beste idees as jy nie ‘n flentertjie papier by jou het nie. Hou ‘n notaboek in jou motor, in jou handsak, by die huis en by die kantoor sodat jy iets kan neerskryf as dit by jou opkom.
10. Vat elke nou en dan ’n blaaskans
Humor en ‘n aangename atmosfeer is net so belangrik vir jou produktiwiteit. As jou kantooromgewing positief is, is dit goed vir jou gemoed en werksverrigting.
Bronne: https://www.fastcompany.com, www.levo.com