Om handel te dryf (in aandele) is riskant. Daar is altyd ’n kans dat jou voorspellings verkeerd kan wees en jy geld gaan verloor. Maar jy is steeds bereid om transaksies aan te gaan – jy is bereid om risiko’s te loop.
Om ’n risiko te loop is een ding; om daardie risiko te aanvaar is iets anders. Volkome aanvaarding van die gevolge van elke transaksie is ’n uitdaging waarmee elke handelaar moet vrede te maak.
Suksesvolle handelaars is bereid om risiko’s te loop; hulle het geleer om dit te aanvaar en selfs te omhels. Hulle het die vermoë om met vertroue en sonder aarseling handel te dryf. Hulle laat nie toe dat die uitkoms van enige transaksie emosionele konflik veroorsaak nie. Hulle aanvaar verliese en gaan vreesloos voort om handel te dryf.
’n Handelaar wat nie dié vermoë ontwikkel het nie kan deur emosie, veral vrees, oorval word; dit sal hom of haar verhoed om van ’n volgende geleentheid gebruik te maak. Aangesien risiko’s ’n onvermydelike deel van handel dryf is, sal pogings om dit te vermy jou vermoë om handel te dryf negatief beïnvloed.
As jy nie verantwoordelikheid vir risiko’s neem nie, sal vrees jou oorhaastig laat optree. Wanneer jy geleer het om risiko’s te aanvaar, sal jy vind dat geen uitkoms emosioneel traumaties is nie – en jy sal nie meer die neem van risiko’s probeer vermy nie.
’n Handelaar moet vier vrese te bowe kom: om verkeerd te wees; om geld te verloor; om geleenthede mis te loop en om nie voordeel te trek uit moontlike winste nie. As jy nie hierdie vrese oorkom en omhels nie, sal jou vrese bewaarheid word.
Uittreksel uit How to make money on the stock exchange: The layperson’s guide to successful investing (verkort)