Om ’n enkelma te wees, beteken soveel groter verantwoordelikheid, en dikwels om die wêreld op jou skouers te dra.
Statistieke toon dat een uit twee ma’s ’n enkelouer is, en dat slegs 12% van die pa’s in hierdie groep gereeld tot hul kinders se finansiële welstand bydra. Dit is volgens die 2016 Old Mutual Spaar- en Beleggingsmonitor, waarby meer as ’n duisend stedelike professionele persone betrek is.
John Manyike, Hoof van Finansiële Voorligting by Old Mutual, sê enkelouerskap is ’n verskynsel wat wêreldwyd toeneem. “Ons studie het nie net getoon dat elke tweede ma ’n enkelouer is nie, maar ook dat die kanse 33% is dat sy ook een van haar ouers, of albei, finansieel onderhou. Die opname het verder getoon hoe armer die huishouding is wat inkomste betref, hoe groter is die waarskynlikheid dat ’n enkelma die huishouding aan die gang hou.”
LEES OOK: Spaar vir hul studies
Ongelukkig moet enkelma’s ’n dubbele kwota werk, stres, trane en finansiële probleme hanteer. “Veral in die huidige uitdagende en onseker ekonomiese klimaat stel die woord ‘moeilik’ dit baie sagkens. Dit is egter die tyd wanneer beplanning absoluut noodsaaklik is. Om gemoedsrus te kry, moet jy seker maak dat jy emosioneel, fisiek en geestelik voorbereid is,” sê Manyike.
Moet nooit enigiets tot op die nippertjie uitstel nie – deur altyd vooruit te dink en daarvolgens te beplan, sal enkelma’s beter in staat wees om die storms wat oor hul pad kom te trotseer. “Dit is noodsaaklik om by die begin te begin en te dink aan al die mylpale wat in jou kind se lewe voorlê, en aan wat daarmee gepaardgaan – byvoorbeeld skoolgelde, uniforms, skryfbehoeftes, buitemuurse aktiwiteite, ekstra lesse, dagsorg, matriekdans, universiteitsgelde, en nog meer. Sonder om oorweldig te voel, stel ’n redelike plan op, met ’n geraamde begroting om hierdie uitgawes waarvoor jy moet spaar, te dek. Dit sal die uitdaging van enkelouerskap en finansiële stabiliteit meer hanteerbaar maak,” sê Manyike.
Alhoewel daar uitdagings is om as ’n enkelouer kinders groot te maak, het Old Mutual Finansiële Voorligting ’n paar wenke wat enkelma’s kan help om ons toekomstige leiers groot te maak:
- Nuwe ma’s word aangeraai om geld in ’n spaarrekening te begin wegsit sodra hul swangerskap bevestig is. Neem jou potensiële mediese onkoste in ag – sommige mediese fondse gee nie 100%-kraamvoordele nie. Al begin jy net met R200 per maand – die belangrikste is om te begin spaar, en dit vandag nog te doen.
- As jou baba op pad is, dink aan die doeke en babagoed, ’n oppasser wanneer jy weer moet gaan werk, kleuterskool wanneer jou baba ouer is, en skool. Neem jou situasie in oënskou en oorweeg die potensiële uitgawes wat jy waarskynlik gaan hê, om beter voorbereid te wees op wat voorlê.
- Probeer jou skuld verminder om jou finansiële verpligtinge te beperk wanneer jy met kraamverlof is, of gesels met jou krediteure om kleiner maandelikse paaiemente te beding, sodat jy gedurende hierdie tyd kop bo water kan hou.
- Kontak ’n finansiële adviseur en begin die gesprek oor spaar vir jou kinders se opvoeding. Skoolgelde styg ongelukkig jaar na jaar. As jy lank voor die tyd begin spaar, sal dit jou groter gemoedsrus gee.
- Stel ’n omvattende finansiële plan op en hou daarby. Ons weet almal die lewe is vol kinkels en omstandighede verander, maar hou jou finansiële adviseur op hoogte van veranderings in jou geldsake. Dit sal verseker dat jou finansiële plan aangepas word en dat voorsiening gemaak word waar nodig. Die belangrikste is om by jou plan te hou – ongeag wat gebeur!
- Ons wil almal vir ons kinders die beste opvoeding gee, en die skool van ons keuse is dikwels ver van die huis af. Berei jouself voor vir die stygende vervoerkoste en skoolgelde. ’n Ander opsie is om eerder skole in jou omgewing te oorweeg of te verhuis om nader aan die skool te wees en die vervoerkoste te verminder.
- Hou aan met spaar. Moenie ophou nie, kom wat wil. Bly fokus op jou langtermyndoelwitte, soos ’n universiteitsgraad vir jou kind. Raak emosioneel geheg aan die gedagte dat jou kind eendag ’n graad sal verwerf – daardie visie sal jou aanspoor om gereeld te spaar, veral in die maande wanneer dit broekskeur gaan. Baie staatskole bied vrystelling van skoolgelde aan ouers wat dit nie kan bekostig om die volle skoolgelde maandeliks te betaal nie. Gesels met jou skoolhoof en maak gebruik van hierdie vergunning om jou las ’n bietjie ligter te maak.
- Moenie jouself onder druk plaas deur te probeer byhou “by die Kardashians, Khumalos of Karims” nie. Koop vir jou kinders klere wat jy kan bekostig en moenie by klerewinkels rekeninge open as jy nie die totale maandelikse fooi kan betaal nie. ’n Gulde reël is: as jy iets nie kontant kan koop nie, moet dit eerder glad nie koop nie.
- Bepaal jou prioriteite. Koop by goedkoper winkels, verander na goedkoper handelsmerke, vergelyk pryse, en bespaar op vakansies, DStv en ander luukshede. Dit is nou die tyd om klaar te kom met wat jy nodig het, nie wat jy graag wil hê nie.
- Leer om NEE te sê! Kinders kan jou oorhaal om items te koop net om tred te hou met hul maats of die jongste modes. Dis baie verstandiger om eerder jou kinders oor begrotings, sakgeld en finansiële beperkings te leer, as om toe te gee aan hul eise vir nuwe goed. As hulle ’n paar tekkies begeer, gaan sit en werk saam met hulle ’n finansiële plan uit om die geld te spaar. Wanneer die geld gespaar en die tekkies gekoop is, sal jou kind beslis baie groter waardering daarvoor hê.
“Dit is reeds ’n geweldige verantwoordelikheid en uitdaging om kinders groot te maak, en enkelouerskap gee dit nog ’n groter dimensie. Beplanning, prioriteitbepaling en die bestuur van jou finansiële situasie is die eerste stap om finansiële welstand te verseker, en jou kinders die beste te gee wat jy kan bekostig,” sê Manyike.
Besoek ons splinternuwe mobiele webwerf On the Money vir nog finansiële wenke.
Bron: Old Mutual