Om ’n aanlyn onderneming op die been te bring verg aanvanklik weke, selfs maande, se navorsing om die nodige kennis in te win voordat jy begin.
Maar as jy eers aan die gang is, hou dit talle voordele in. Maretha Botes het met Ruth Coetzee gesels oor die talle voordele (en ‘n paar nadele) van so ‘n onderneming. Ruth is ‘n entrepreneur, skrywer en uitvoerende hoof van Everything EBook, The Content Scribe en nog ‘n onderneming, Small Bizz Savvy.
Voordele
- Enigiemand kan ‘n aanlyn onderneming begin, ongeag van ouderdom, nasionaliteit, geslag of geloofsoortuigings. Solank jy die begeerte daarvoor het en internettoegang, kan jy begin.
- Jy kan jou kuberonderneming relatief goedkoop begin in teenstelling met ‘n gewone onderneming.
- ‘n Aanlyn onderneming gee vir jou vryheid van tyd. Jy kan self bepaal wat jou sake-ure is, in lyn met jou lewe en ander take.
- ‘n Aanlyn ondernemingbied aan jou vryheid van beweging. Jy is nie verbind tot een kantoor of plek nie. Jy kan jou onderneming van enige plek ter wêreld bedryf, afhangend van jou internetverbintenis.
- Jy kan jou onderneming eers deeltyds bedryf terwyl jy nog jou voltydse werk doen. Jy begin klein, skaaf aan jou besigheidsmodel sonder om jou lewensgehalte op te offer of jou inkomste te verloor, totdat jy uiteindelik voltyds aandag aan jou onderneming kan gee.
- ‘n Aanlyn onderneming laat jou toe om geld te maak en diens te verskaf aan kliënte terwyl jy slaap, en 24/7.
- LEES OOK: 10 wenwenke vir huisverkopers
- Jou oorhoofse koste is baie minder in vergelyking met ‘n gewone onderneming, waar jy moet dink aan perseelhuur, ens.
- Jy bepaal jou eie inkomste. As jy ‘n paar uur langer werk, of ‘n spesiale aanbieding het, kan jy onmiddellik jou inkomste verhoog.
Nadele
- Dit neem tyd en moeite. Soos met enige onderneming moet jy bewus wees dat jy die werk moet insit, voor dat jy die vrugte pluk.
- Dit kan baie eensaam raak. Baie mense bou hul sosiale interaksies rondom hul werk. As jy ‘n aanlynonderneming bedryf, moet jy aktief moeite doen om uit te kom en te sosialiseer.
- Dit neem baie selfdissipline. Jy moet jouself elke dag “by die werk” kry. Om tuis of elders te wees maak dit net te maklik om nié jou werk te doen nie. Jy moet selfdissipline ontwikkel om elke dag aanlyn te werk.
- Jy het ‘n reuse-posbeskrywing. Die meeste aanlynsake-eienaars doen alles self en voel maklik oorweldig.
- Jy sal moontlik nuwe vaardighede moet aanleer. Dit is moontlik nie regtig ‘n nadeel nie, maar vir sommige mense is dit wel. As jy nie bereid is om ekstra vaardighede, soos die opstel van ‘n begroting, aan te leer nie, is ‘n aanlyn onderneming dalk nie vir jou nie.
- Moontlike inkonsekwente maandelikse inkomste.