Troues is deesdae ontsettend duur en die kostes kan maklik tussen R100 000 tot R200 000 beloop.
Paartjies raak al te opgewonde wanneer hulle die perfekte, tog relatief bekostigbare onthaalsaal vind, maar wanneer hulle al die ander kostes byreken verander hulle gemoed spoedig. Dit wil voorkom of dit nie moontlik is vir pasgetroudes om hulle lewens te begin sonder ʼn hoop skuld nie. Volgens Wikus Olivier, skuldbestuur-kenner by DebtSafe, hoef pasgetroudes nie daardie roete te stap nie. DebtSafe het ’n praktiese begrotingstemplaat opgestel om jou te help om ʼn ogie oor jou troue-uitgawes te hou. Olivier deel ook ʼn paar handige wenke om ʼn spesiale, bekostigbare bruilof te hê:
Neem die tyd van die jaar in ag
Jy sal nie glo hoeveel geld jy kan spaar deur slegs die regte dag en seisoen vir jou troue te kies nie. Mense is geneig om die knoop deur te haak in die somer, hoekom nie eerder die snoesige winter en ʼn weeksdag of Sondag nie? Jy bespaar op die lokaal se koste asook die koste per kop. Olivier sê jy kan R20 000 tot R50 000 spaar deur die spitsseisoen te vermy en op ʼn oggend en/of weeksdag/Sondag te trou.
Logistieke en lokaal
Olivier sê jy kan geld spaar wanneer jy jou troue en onthaal op dieselfde plek hou. Jy spaar dan op vervoerkostes en ander uitgawes. Wees op die uitkyk vir spesiale aanbiedinge tydens jou trou-ekspo besoeke asook advertensies op webblaaie. As alternatief – moenie ʼn formele lokaal soek nie, gaan deur jou gastelys en maak eerder gebruik van iemand se pragtige tuin.
Die troukoek
Troukoeke is duur. ʼn Nie-tradisionele troue kan ʼn lekkergoed-tafel hê in plaas van ʼn duur troukoek. As jy egter baie graag ʼn koek wil hê – hou dit klein en eenvoudig. Onthou eenvoud spreek boekdele. Kolwyntjies is ook ʼn goeie opsie dan hoef die bakker nie te veel tyd en moeite te bestee aan die versiering en verskeie koeklae nie.
Kos & drinkgoed
Kos en drinkgoed kan van jou grootste uitgawes wees. As jy gebruik gaan maak van ʼn formele lokaal, vervang die nagereg met soetkoekies of bedien eerder die koek of kolwyntjies na die hoofmaal. As jy ʼn minder tradisionele onthaal gaan hou, maak eerder jou eie kos en bedien ʼn heerlike en bevredigende maaltyd sonder ʼn voorgereg. Verminder jou gaste se drankopsies na slegs die gewildste drankies toe en sit ʼn bottel druiwesap op elke tafel in plaas van duur vonkelwyn.
Die bruid se grimering en haarstyl
Jy kan altyd ʼn paar rand spaar deur gebruik te maak van ʼn bruidspakket wat grimering en hare vir die bruid, bruidsmeisies en moeders insluit. Of kry ʼn professionele persoon om jou grimering vir jou te doen, terwyl jy jou kapsel (gratis) in ʼn bekwame vriendin of niggie se hande plaas. Doen wat die beste vir jou sal werk met ʼn bietjie hulp van jou familie en vriende.
Dekor & geskenke
Tafel- en onthaalsaal versierings kan ʼn hap uit jou begroting uit byt. Probeer om dit eenvoudig, tog pragtig te hou. Handgemaakte versierings is ʼn treffer en maak die geleentheid soveel meer persoonlik. Hier is ʼn paar idees om jou te help: Wedding Ideas tydskrif en Pinterest. Jy kan ook jou geskenke as dekor inkorporeer. Gaste kan dit huis toe neem aan die einde van die bruilof, soos blomme, plekmatjies of foto’s byvoorbeeld. Deesdae sluit baie troues nie meer geskenke in nie. Die smullekker ete, ‘kap dit uit’ dansvloer en kwaliteit tyd saam met jou vriende en familie is die ideale plaasvervangers vir materiële geskenke.
Blomme (dekor en ruikers)
Blomme kan duur wees. Maak dus seker die blomme of potplante wat jy gaan gebruik is plaaslik en binne seisoen. Oorweeg selfs kruie of boombas wat oulike alternatiewe vir blomme is. As jy wel blomme vir die seremonie wil gebruik, wat van ʼn paar enkele struike in plaas van ‘n groot ruiker? Olivier sê jy moet orals op die uitkyk wees waar jy blomme kan kry en moenie vergeet van groothandel-bloemiste of blomplase buite jou plaaslike area nie.
Trourok & -pak
As jy ʼn persoon is wat van tradisionele goed hou, oorweeg om jou ma se trourok te dra. En as dit nie jou styl is nie, huur eerder ʼn trourok in plaas daarvan om een te koop wat jy nooit weer sal dra nie. Die bruidegom sal ook ʼn hele paar rand spaar indien hy eerder ʼn troupak huur, óf koop ʼn mooi en bekostigbare aandpak wat weer in die toekoms gedra kan word.
Uitnodigings
Tegnologie is ʼn aanwins in vandag se tyd. Stuur jou nie-formele herinnering en amptelike uitnodiging per e-pos. Jy kan ook ʼn webwerf (soos Wix) skep wat jou gaste kan besoek. Vir die ouer familielede wat dit moeilik vind om met ʼn rekenaar te werk – gee hulle ʼn luitjie of maak self vir hulle pragtige en bekostigbaar uitnodigings (Better Homes & Gardens).
Verskaffers
Wanneer dit kom by die organiseerders van jou troue, maak gebruik van die beste pakkette wat by jou begroting inpas. Dink ook aan die dienste wat onnodig is, soos ʼn groep musikante of ʼn videograaf. Vriende kan bekostigbare idees hê en jy kan ook seker wees om ʼn paar van hulle kontakte langs die pad op te tel. Begin bietjie rond te vra.
Daar is verskeie dinge wat jy kan doen om troukostes te sny terwyl jy jou droom troue beplan. Moenie moedeloos word nie – maak eerder gebruik van kreatiewe en praktiese idees om jou dag spesiaal tóg bekostigbaar te maak. Deur hierdie bogenoemde wenke in ag te neem, kan jy ʼn paar rand spaar en ʼn bietjie ekstra beskikbaar hê vir die onvoorsiene uitgawes wat mag opduik. As jy egter reeds ʼn paar glipse begaan het en jouself in oorverskuldigde skuld bevind, begin jou reis saam met DebtSafe en laat hulle bekwame skuldadviseurs jou ondersteun.