Baie mense is nuuskierig oor forex: of dit regtig ’n doeltreffende manier is om vinnig geld te maak – hoe dit werk en wat die belastingkomplikasies is.
Chris Kruger, analis by Kruger Internasionaal Bate- en Welvaartbestuur, sê: “As gevolg van plaaslike wette rondom valutabeheer, is dit nie moontlik om vanaf ’n Suid-Afrikaanse rekening te verhandel nie. Jou rekening word gewoonlik in Amerikaanse dollar gehou en winste moet in ’n buitelandse rekening betaal word. Deesdae is belasting in watter land ook al betaalbaar. As Suid-Afrikaanse belastingbetaler word jy ook op jou wêreldwye inkomste belas en winste behoort teen jou volle marginale belastingkoers belas te word, ongeag in watter wêrelddeel verhandel word. Dit is goed om raad by ’n belastingspesialis te kry omdat dié aspek redelik tegnies kan raak.
“In Suid-Afrika is daar nie wette om individuele forex-handelaars teen buitensporige verlies en uitbuiting te beskerm nie,” sê Chris. “As gevolg van die wette op valutabeheer kan jy nie vanaf ’n Suid-Afrikaanse rekening in forex verhandel nie. Dit beteken jou rekening gaan nie vooraf in Suid-Afrika gereguleer word nie, wat verder beteken dat jy as verhandelaar geen beskerming van Suid-Afrikaanse wette kan verwag nie. Ek is ook nie bewus van enige ander land wat sulke wetgewing het nie. Indien daar was, sal forex-verhandelinge soos wat mense dit ken waarskynlik as ’n geheel nie moontlik wees nie. Hou in gedagte dat daar ’n baie groot verskil is tussen om met forex te verhandel om ’n wins te probeer maak; en om valuta te koop omdat jy elders in die wêreld wil gaan vakansie hou.”