Ek het al probeer. Regtig! Ek het al. Ek het al baie keer probeer om minder te vloek. Ek weet dis nie mooi nie, maar !%# soms het sekere situasies die gepaste kragwoord nodig.
Ek wil my nou nie probeer verontskuldig nie, maar daar is min mense in die mediabedryf wat nie vloek nie. Ons is ‘n klomp matrose. Streng spertye en lesers wat mor, doen dit aan jou!
Voeg ‘n lang werksdag, twee ure op die pad, ‘n derm wat pyn en twee klein kinders wat “mamma-mamma” by die resep, en jy het ‘n ma wat kragwoorde as werkwoorde, selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde gebruik.
Natuurlik weet Ma van die Jaar sy moet haar swetsery staak en veral haar arme kroos spaar en teen haar skerp tong beskerm, maar soms raak ek so de vieste in dat die “ffffff” by my mond uitspring. G’n wonder dat my arme jongste eendag kliphard in die moederskamer gesê het: “Mamma, gee my die f … boek nou!”
Ek was rooiwarm van skaamte, mede-ma’s, en moenie bevrees wees nie, ek is nie trots dat my telg die f-woord gebesig het nie en ek probeer hard om ‘n sedige, stigtelike moeder voor hulle te wees. Dis net moeilik.
Gelukkig is ek nie die enigste nie. Ek het al perfekte ma’s ontmoet wat nie ‘n voetjie verkeerd sit van hul gemanikuurde toonnaels tot hul golwende hare nie. Hulle vloek nie en dit klink nie eens of hulle ooit skree nie, maar ek het ook ma’s ontmoet wat erken dat ‘n vloekwoord op sy tyd soos brood en konfyt is. En ons pragtige taal het vir ons sulke juwele gegee, hoe kan ons dit dan nou nie gebruik nie?
Gepraat van ander ma’s wie se mond (nes myne) met seepwater uitgespoel moet word … Blykbaar het 74% van ma’s erken dat hulle af en toe voor hul kinders vloek en nou het Kraft ‘n advertensie gemaak waar ‘n ma alternatiewe vloekwoorde voorstel.
Melissa Mohr, die ma wat ‘n boek oor vloek in Engels geskryf het, gee alternatiewe woorde wat ouers voor hul kinders gebruik. Maar wat nou van Afrikaans?
Hier is ‘n paar alternatiewe vir ma’s:
F*k, ek het van die koorgeld vergeet:
O, flip of vrek, ek het van die koorgeld vergeet.
Die blik**m het voor my ingery!:
A, nee a, die blikskottel het voor my ingery.
Daai boelie kan gaan k*k:
Daai boelie kan gaan doppies blaas.
Hy moet eerder f**of voor ek dit verloor:
Hy moet eerder boggerof voor ek dit verloor!
O, don**r, dis nog twee weke voor betaaldag:
Verdomp, dis nog twee weke voor betaaldag.
Hoe dit ook al sy, ma’s, of jy nou verdomp sê of nie, ons koester ons kleinstes en ons het hulle mateloos lief al dryf hulle ons teen die mure uit. En as ons dit die dag heeltemal verloor en met ‘n !%&! lostrek, is dit sekerlik nie die dood van Katryn nie. Solank ons kinders net weet hulle mag nooit ooit vloek nie. Eers as hulle minstens 35 is en ‘n kragwoord nou en dan nodig het. Soos !%&! Ek bedoel vrek …
Hier is die Kraft-advertensie:
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.