Ons almal is in ons huise vasgevang, maar vir mense wat alleen bly, is hierdie tyd veral uitdagend
Ons almal kla oor die inperkingstyd en mense skerts oor kinders en hul huiswerk wat hulle rasend het. Hulle spot dat hulle nie kan wag om hul mans iewers heen te stuur nie en dat dit nou permanent gesinstyd is. Mense soek nou net ‘n bietjie alleentyd vir hulself ook, maar wat van die mense wat slegs alleentyd het en niemand saam met hulle in die huis het nie? Hulle het nie iemand saam met wie hulle daai laaste glas wyn kan drink of iemand wat ‘n klankbord vir hul vrese of bekommernisse is nie.
Monya* van Randburg bly alleen en ervaar baie uitdagings in hierdie tyd. Hier is haar storie.
My inperking het met goeie voornemens begin: ek sou kaste regpak, oortollige goed uitgooi, baie lees en rustig wees. Dit sou ‘n soort retreat wees. Dit was ook baie lieflik aan die begin. Die stilte het my omvou en ek het my boeke een vir een deurgeblaai en die koring van die kaf geskei en ander onnodige goed uitgegooi. Toe ek egter een middag hoor hoe my buurvrou ‘n geselsie met ´n afleweraar aanknoop, besef ek ek het meer as ‘n week tevore stemme van werklike mense gehoor. Ek hoor net selfoon- en radiostemme en my enigste kuiergaste tot op hede is ‘n vriendelike hadidapaartjie wat heel tuis in my tuin is.
Ek gaan net een maal per week uit om vars groente en vrugte te koop en om my vullisdrom op die sypaadjie uit te sit en te gaan haal en ‘n paar woorde uit die verte met bure te wissel. Ek is dikwels maar droewig en eensaam. Toe ek op ‘n koue aand my kaggeltjie aansteek, sê ek vir myself: My vuurtjie en ek is op wag, my vuurtjie en ek alleen.
Ek praat baie meer met my kinders en vriendinne as vroeër en ek moet koes vir al die grappies en bemoedigende memes wat instroom. Ek het darem ook ‘n kat met wie ek gesels, maar sy antwoord nie eintlik nie en slaap heeldag. Maar toe tref ‘n wonder die klein kompleks waarin ek woon: ‘n inwoner trek ‘n rooster op en stel voor dat elke eenheid se mense twee maal per dag 20 minute lank op ons gesamentlike ruimte kan verkeer, dus te stap, swem of in jou sypaadjietuin te werk. Ons het dit per WhatsApp goedgekeur, al is dit teen die wet.
Toe begin ‘n heel ander lewensgevoel posvat. Dis heerlik om alleen op ons stil paadjie te stap en net voëlgeluide te hoor, en om die kinders op hul fietse by my hekkie te sien verbyjaag en hulle langs die swembad te hoor baljaar. Ons het nou ‘n hegte gemeenskap, eintlik ‘n dorpie, geword. Een inwoner se seuntjie sit avokado’s en suurlemoene uit hul tuin op ‘n tafel voor hul hek en die stappers koop daarvan in hul gleuf; een buurvrou het suurlemoenstroop van dié suurlemoene gemaak en aan ons uitgedeel; ‘n ander een leen haar legkaart uit.
Ek sien en hoor nou baie mensestemme en is meer tevrede met my lot. Ek mis menslike aanraking die meeste, veral van my kinders en kleinkinders, maar weet dat dit nog lank sal duur voordat dit kan gebeur.
WebMD gee die volgende wenke
- Dink oor jou emosies en erken dit. Dis normaal om eensaam en terneergedruk te voel.
- Gesels met iemand oor jou gevoelens en wees eerlik oor dit wat jy ervaar.
- Dis nie nou die tyd om ‘n perfeksionis te wees nie. Jy’s ‘n mens en dis oukei om bietjie vertroosting in iets te vind wat jou brein kan afskakel. Kyk Netflix as jy wil en maak vir jou trooskos as jy wil. Hou egter matigheid voor oë sodat dit ‘n bederf kan wees en nie jou enigste ontvlugting nie.
- Doen iets prettigs. Sit die musiek hard aan as jy wil, kuier aanlyn saam met vriende – doen iets wat jou beter laat voel.
- Wees kreatief as jy kan. Brei, hekel, kleur in, skryf oor jou gevoelens, teken.
- Onthou dis tydelik en hierdie tydperk gaan ook weer verbygaan.
As jy alleen is
- Stel vir jou ‘n skedule vir elke dag op.
- Dis belangrik om besig te bly. Kry elke dag ‘n klein projek wat jy kan afhandel.
- Vind betekenis in jou lewe. Waaroor is jy passievol? Wat wil jy nog doen? Wat kan jy nou doen?
- Stel vir jou minidoelwitte met belonings.
- Versorg jouself sodat jy steeds goed oor jouself kan voel.
- Reik elke dag na minstens een mens uit en gesels ook oor die foon sodat jy jou eie stem kan hoor.
- Raak deel van ‘n virtuele gemeenskap, of dit nou ‘n boekklub of oefengroep is.
- Moet egter nie mense as kruk gebruik nie, vind ook iets wat vir jou terapeuties is om jou mee besig te hou.
- Ontdek weer ou stokperdjies of kry nuwes.
- Leer iets aanlyn. Doen ‘n kursus of kyk YouTube-video’s.
- Gebruik Facetime, Google Hangout, Zoom of Houseparty en eet saam met vriende. Elkeen maak uiteraard sy eie kos, maar dan kuier julle saam.
- Doen oefeninge tuis en maak dit deel van jou roetine.
- Probeer om op die positiewe en die toekoms te fokus en waak daarteen om in ‘n negatiewe spiraal vasgevang te raak.
- Onthou dat jy nie die enigste een is wat hierdeur geraak word nie.
- Skryf daagliks drie dinge neer waarvoor jy dankbaar is.
- As dit voel asof dinge te veel vir jou raak, reik na iemand uit. Talle sielkundiges bied aanlyn hulp en kan jou in hierdie tyd ondersteun.
BRONNE:
https://blogs.webmd.com, www.cnet.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.