‘n Mens kan dit soms nie kleinkry nie. Jy weet hulle is ongelukkig saam, maar hulle bly steeds in dieselfde huis en maak mekaar by die dag net ongelukkiger. Waarom?
Sandra* en Ben* is vanjaar al 35 jaar getroud. Hul kinders is al uit die huis en hulle is nou in ‘n stadium van hul lewe wat hulle allerlei lekker dinge saam kan doen. Tog is hulle nie gelukkig nie en hulle is al baie jare ongelukkig getroud.
Vra jy Sandra hoekom sy nog bly, het sy nie regtig antwoorde nie. “Ek is nie seker nie, dalk is dit omdat ek bang is om alleen te wees. Of wat sal die kinders sê? En Ben was ook nog altyd die broodwinner en watse werk sal ek vandag kry?”
Richard B Joelson is ‘n psigoterapeut en hy skryf in ‘n artikel op psychology today dat daar paartjies is wat erken dat hulle ongelukkig in hul verhouding is, maar kies om te bly. Hy noem ‘n paar redes waarom mense bly.
1. Finansiële redes
Dit is een van die hoofredes waarom baie paartjies kies om saam te bly. ‘n Broodwinner wil dalk nie van sy geld vir sy vrou gee nie of ‘n vrou sal bly omdat sy geen ander uitkoms het nie of hulle albei besef dat hulle dit nie kan bekostig om alleen te bly nie. Hoë regskoste is nog ‘n faktor wat paartjies afskrik.
2. Ter wille van die kinders
Hoewel ‘n mens begrip vir die kwessie het, sê Richard, is dit soms beter vir kinders as hul ouers skei, want kinders moet gewoonlik hul ouers se konflik en ongelukkigheid aanskou. Selfs ouers wat nie baklei nie, maar ‘n verhouding sonder liede of vreugde het, kan groot skade aan hul kinders aanrig.
3. Die verhouding is “goed genoeg”
Baie mense sien die beëindiging van ‘n verhouding as te ekstreem en wag eerder dat die verhouding verder verswak of tot dit regtig ondraaglik is. Die feit dat hulle ongelukkig is, sien hulle as normaal.
4. Hulle haat mislukkings
Sommige mense sien egskeiding as vernederend en wil nie ‘n mislukking erken en aanvaar nie.
5. Hulle dink dit is hoe dit moet wees
Baie paartjies glo almal is maar so ongelukkig en dat daar nie iets soos ‘n suksesvolle verhouding bestaan nie.
Jy verdien geluk
Charles sê daar is baie faktore betrokke by ‘n ongelukkige verhouding, maar as paartjies besluit om ten spyte daarvan bymekaar te bly, is hulle dit aan mekaar verskuldig om vir hulp te gaan. Hy beveel ‘n huweliksberader aan om oor die kwessies te praat en dit uit te sorteer. “Jy verdien geluk en dis nie nodig om in chroniese disharmonie te bly nie,” sê hy.
Laat dit werk
Scott Haltzman, sielkundige en skrywer van The Secrets of Happily Married Mengee ‘n paar wenke vir ‘n gelukkige huwelik:
- Laat jou huwelik werk Wees seksueel en emosioneel getrou, ondersteun mekaar en hou jul beloftes.
- Ken mekaar Gesels weer en ontdek wie jou maat werklik is.
- Wees by die huis As jy agterkom jy is dikwels nie tuis nie, wees eerlik met jouself en vind uit wat die rede daarvoor is. Is dit omdat jy konflik wil vermy? Het jy dalk te veel verantwoordelikhede?
- Verwag konflik Rusies is onafwendbaar, maar jy kan leer om dit te beheer en te hanteer.
- Leer om te luister Staan stil wanneer jou maat met jou praat en probeer verstaan wat jou maat vir jou sê.
- Probeer om jou maat tevrede te stel. Stel belang in jou maat en stel vas wat hy of sy nodig het – ook op seksuele gebied.