Voel jy oorweldig, moeg en moedeloos? Hier’s tekens dat jy dringend hulp nodig het, plus raad hoe om dit te hanteer
Saamgestel deur Zerelda Esterhuizen
Jy sukkel om te slaap of jy slaap te veel
Probeer om by ‘n slaaproetine te hou, bly weg van tegnologie voor slaaptyd, drink iets kalmerend voor slaaptyd soos kamilletee en sorg dat jou kamer slaapvriendelik is.
Jy is altyd moeg – maak nie saak hoeveel ure jy slaap nie.
Eet gesonde kos wat jou energie gee en oefen, want dit gee goeie energie. Gaan sien ‘n dokter en maak seker dat dit nie gesondheidsprobleme is wat dit veroorsaak nie.
Jy is baie angstig en emosioneel
Rus meer, doen iets lekkers vir jouself, sien ‘n terapeut as jy hulp nodig het, praat oor jou emosies en raak aktief. Kry vir jou iets om na uit te sien.
Jy is uitgestres
Praat met jou bestuurder oor minder take of beter werksure en vat ‘n dag af om aan jou geestelike welsyn te werk. Breek jou groot take in kleiner, hanteerbare gedeeltes op en fokus daarop om die klein take een op ‘n slag te hanteer. Probeer om meer balans in jou lewe te kry – veral tussen werk en ontspantyd.
Jy het nie ‘n aptyt nie of jy ooreet
Probeer om ‘n eetroetine te kry deur op gereelde tye te eet en bly daarby. Jou brein sal mettertyd daarby aanpas. As jy nie ‘n aptyt het nie, eet klein happies deur die dag. Eet gesonde kos wat voedsaam is en jou energie gee. Beperk jou kafeïen-inname, want dit kan ook ‘n invloed op jou aptyt hê. Oefen gereeld om jou stres en angstigheid te verminder.
Jy sukkel om te fokus
Kry ‘n aksieplan en skryf dit neer. Volg ‘n skedule deur die dag en merk af soos jy dinge gedoen kan kry. Vat blaaskanse deur die dag om opnuut te herfokus. Maak lysies en skryf elke liewe ding neer.
Jy het geen motivering nie
Versorg jouself, wees goed vir jouself, plak vir jou aanhalings op en kry vir jouself ‘n nuwe doelwit.
Jy sonder jouself af en is nie lus vir mense nie
Alleentyd is oukei en nodig. Jy kan jou eie welstand verbeter en regtig dinge doen wat jy geniet soos om te lees of ‘n fliek te kyk. Gebruik hierdie tyd om weer gesond te word en nuwe energie te kry sodat jy binnekort weer sosiaal kan wees. Moet ook nie net in die huis sit nie, kom uit en bestee tyd in die natuur.
Jy is buierig
Pasop dat jy nie jou geliefdes met jou buie verdryf nie. Praat met iemand professioneels as jy nie jou gevoelens kan hanteer nie. Kyk na dit wat jou werklik pla en probeer om dit te verwerk.
Bron: www.tulipandsage.com