Wasgoed, kinders, honde-inentings, sy gesnork wat die dooies kan wek en jou gebrande kerrie … Daar is soveel dinge wat die romanse in ‘n verhouding kan steel. Hoe bly jy en jou maat verlief?
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
- Wees liefdevol met mekaar. Begin en eindig die dag met ‘n druk en ‘n soen.
- Wees dankbaar. Mens voel soms jou maat soek ‘n staande ovasie as hy die koppie uitwas, maar ʼn tikkie dankbaarheid kan jou ver bring in ‘n verhouding.
- Bemoedig mekaar. As jou geliefde negatief oor haar mislike kollegas voel, probeer positief bly en bemoedig haar. Wees haar grootste ondersteuner.
- Los die ou koeie waar hulle hoort. Ja, dis maklik om te sê: “Maar onthou jy die keer …”, maar wat bring dit julle in die sak?
- Gee jou maat komplimente. Sien ‘n nuwe haarstyl, uitrusting en dies meer raak. Laat jou maat goed voel oor hom- of haarself.
- Bring tyd saam deur. Elkeen het natuurlik alleentyd nodig, maar saamweestyd is ook belangrik, of julle nou uitgaan of net saam ‘n fliek kyk.
- Wees geduldig. Ongeduld is een van daardie jakkalsies wat ‘n wingerd verniel. Ons almal is mense en mense maak foute.
- Respekteer mekaar. Dit is die grondslag van ‘n gesonde verhouding.
- Luister na mekaar en gesels. Lê julle langs mekaar in die aand in die kooi, elkeen besig met sy foon? Begin oor iets gesels en luister wat jou maat op die hart het.
- Doen klein dingetjies om jou liefde te bewys. En sê dit ook.